Mnr Chakwera tydens sy inhuldiging as Malawi se 6de president in Junie 2020

 

“I do feel like Lazarus, I’ve come back from the dead,” het dr Lazarus Chakwera kort na sy verkiesing as die nuwe president van Malawi in Junie vanjaar gesê.

Wat verblydende nuus is, is dat hy in ons susterskerk in Malawi, die Church in Central Africa Presbyterian (CCAP) in Malawi (http://getuienis.christians.co.za/ccap/) gebore en getoë is. Hy is op 5 April 1955 as die derde kind (nadat sy twee ouer boeties as babas dood is) van bestaansboere naby die hoofstad, Lilongwe, gebore. Vandaar sy hoopgewende naam, Lazarus.

Chakwera behaal in 1977 ‘n Bachelor of Arts (Filosofie)-graad aan die Universiteit van Malawi. Hy studeer teologie en verwerf ‘n honneursgraad aan die Universiteit van die Noorde in Suid-Afrika en verwerf ‘n meestersgraad (MTh) aan die Universiteit van Suid-Afrika in 1991. In 2000 het die Trinity International University in die Verenigde State ‘n doktorsgraad (D. Min) aan hom toegeken. Hy word in 2005 professor aan die Pan-Africa Theological Seminary.

Hy was ook die president van die Malawi Assemblies of God van 1989 tot 14 Mei 2013 waarna hy uittree en hom tot die politiek wend om die Here daar verder te dien. Hy was sedert 2013 leier van die Malawi Congress Party.

Nadat die konstitusionele hof in Februarie vanjaar uiteindelik mnr Mutharika se verkiesingsoorwinning in Mei 2019 ongeldig verklaar het, het dr Chakwera kragte saamgesnoer met die UTM-leier, Saulos Chilima, en ‘n alliansie gevorm ter voorbereiding vir die algemene verkiesing in Malawi in Junie 2020. Hy het die verkiesing met byna 59% in sy guns gewen.

Prof Martin Pauw vertel: “Dr Chakwera was ‘n rukkie op Nkhoma, en is in daardie tyd met sy vrou, Monica getroud. Daarna het Nkhoma hom na Turfloop gestuur waar hy blykbaar ‘doctrinal issues’ met die gereformeerde teologie opgetel, met Nkhoma gebreek en by die Assemblies of God (AOG) aangesluit het. Dit was blykbaar op ‘n stadium toe ds Chienda die algemene sekretaris van die CCAP Nkhoma Sinode was.

“Al sy verdere studies, ook in Amerika was dus met ‘n Assemblies of God-hoed op. In die AOG het hy uiteindelik ‘n leidende rol gespeel, beide in Malawi en internasionaal en hy het ook klas gegee in AOG-kolleges.

Prof Pauw vertel verder: “Die breuk met Nkhoma het baie seer en selfs bitterheid veroorsaak. Ek het pas ‘n manuskrip onder oë gekry – ‘n biografie van ds Yeremiah Chienda, geskryf deur sy seun Joshua. Dis werklik aangrypend. Daarin vertel hy dat jare later, in 1998, was daar ‘n vergadering van ‘n klomp kerkleiers op Chongoni. Die dag se tema het gegaan oor unity and reconciliation. Dr Chakwera was ook daar. Op ‘n stadium staan hy op en sê hy wil graag om vergifnis vra vir al die seer en bitterheid wat hy vir Nkhoma aangedoen het toe hy bande met Nkhoma verbreek het en ook daarna. ‘n Ongemaklike stilte het gevolg. En toe staan ds Chienda, die algemene sekretaris van die sinode, op en stap na hom, omhels hom en sê vir hom ‘Ons van Nkhoma vra ook om vergifnis vir die wyse waarop ons jou behandel het.’ Toe ds Chienda in 2011 oorlede is, het dr Chakwera ook na die begrafnisdiens op Nkhoma gekom en vertel hoe hy daardie gebaar waardeer het.”

Mag hierdie nuwe leierskap in Malawi vir ons as Christene in Afrika nuwe hoop gee op politieke leierskap wat werklik in diens van elke landsburger staan.

 

Lees meer by https://www.bbc.com/news/world-africa-53210473

Kyk ook na die onderstaande video: