Die World Wildlife Fund (WWF) is nou al vir 50 jaar (sedert 1970) besig om die biodiversiteit van die aarde op te teken en te monitor. Hulle het al ongeveer 21 000 spesies op hul databasis wat soogdiere, voëls, visse, reptiele, amfibië en plante insluit. Daar word jaarliks nuwe spesies by die databasis gevoeg. WWF monitor die populasies van die verskillende spesies deeglik, omdat dit ‘n goeie aanduiding gee van hoe dit met biodiversiteit op aarde gaan. Die resultate van hul navorsing word in The Living Planet Report bekend gestel. Hulle 2020-verslag is onlangs vrygestel: https://bit.ly/3cmh268. Gebruik dit as ‘n gespreksdokument in u gemeente en huise met die oog op daadwerklike deelname aan die grootste omdraai-uitdaging wat die mens nog ooit in die gesig gestaar het.

Die verslag bevat onstellende inligting, maar ook voorstelle wat die verlies aan biodiversiteit kan stop en omkeer. Dit is dus ‘n dokument wat die goeie boodskap van hoop dra – ‘n hoop wat nie sal beskaam nie; as ons almal inkoop en deel word van die verandering wat nodig is.

Hulle bevindinge in ‘n neutedop lyk só:

  • Van die 21 000 spesies op hul databasis het die populasie van soogdiere, visse, voëls, reptiele en amfibië sedert 1970 gemiddeld met 68% verminder.
    • 1 uit elke 3 varswaterspesies word deur uitwissing bedreig.
    • 1 uit elke 5 plantspesies word deur uitwissing bedreig.
    • Mense ly dwarsoor die wêreld honger, tog word een derde van die kos wat geproduseer word, vermors.

Die hoofrede vir die verlies aan spesie-populasie is die verandering van die natuurlike habitat in grond vir landbouproduksie. En dit is veral die spesies in die tropiese gebiede wat die grootste verlies aan populasie vertoon, omdat natuurlike omgewings (soos die Amasone) deur brande en die afkap van bome en ontbossing op groot skaal ter wille van landbou vernietig word.

Om die agteruitgang van biodiversiteit te stop en om te keer, stel die WWF ‘n inisiatief voor wat hulle Bending The Curve Initiative noem. Vir hierdie inisiatief het hulle 5 scenarios uitgewerk wat almal elkeen op hul eie ‘n positiewe bydrae sal maak tot die omkeer aan die verlies van biodiversiteit.  Die grootste sukses sal egter lê in die kombinering van al 5 die scenarios. Die scenarios het almal te doen met ‘n ernstige en grootse poging om die natuurlike omgewing van die aarde te bewaar en om drastiese veranderinge aan te bring in die manier waarop ons voedsel produseer en verbruik.

Onse president het die afgelope ses maande gereeld ‘n appél gemaak op die noodsaak vir elkeen van ons se bydrae om die COVID-19-pandemie se kurwe af te bring. Die verlies aan biodiversiteit hou vir ons ‘n baie groter gevaar in as wat COVID-19 het. Dit is lewensnoodsaaklik vir die voortbestaan van ons eie spesie dat ons heelhartig met die WWF sal saamwerk. Daarom sluit hulle hul verslag af met die volgende versugting:

We hope it will inspire you to be part of the change.

 

Die vrede van biodiversiteit vir julle elkeen.

david p botha
dpbotha2@gmail.com