Van ons ondersteuners op besoek aan een van die gemeentes in die Tumbine Sinode in Maart vanjaar.

Wat gebeur as daar ryk gasvelde, gravietmyne, edel- en halfedelgesteentes in ‘n land gevind word? Die wêreld neem kennis en politieke magte zoom in om te gryp wat daar te grype is. Gooi nog daarby ekstremistiese groepe wat godsdiens as motivering gebruik en jy kry die terreurkrisis in Noordoos-Mosambiek wat daagliks verdiep en ons geloofsfamilie in daardie area diep raak.

Danie Murray, die bestuurder van die Handevat-projek van die NG Kerk Proteahoogte wat voorheen jarelank daar predikant was en Portugees magtig is, besoek die areas gereeld en is in noue kontak met ons sendelinge daar, asook die leierskap van die Tumbine Sinode in die sentrale gedeelte van Mosambiek.

Op navraag van die moeilike situasie op die oomblik daar, antwoord hy: “Daar is tans meer as een krisis in Mosambiek. Die aanvalle van die fundamentalistiese terroristegroep, al-Shabaab, is hoofsaaklik verantwoordelik vir die terreur in Noordoos-Mosambiek in die Cabo Delgado Provinsie. Hulle laat weet tydens aanvalle dat hulle wil hê dat Islamitiese Sharia-wette ekstreem nagevolg moet word.

“Die korrupte Mosambiekse regering, weermag en polisie veroorsaak dat die mense soms banger vir die polisie en weermag is as vir die terreurgroep. Die landsburgers voel dat hulle nie deel het aan die nuwe voorspoed van die regering nie. Dit, tesame met die ontdekking van daardie streek se ryk natuurlike hulpbronne, het daardie streke haas onregeerbaar begin maak,” verduidelik Danie.

“Areas wat die swaarste getref word, is net noord van Pemba, verby Mocímboa da Praia, die hawestad wat onlangs deur die ekstremiste oorgeneem is, tot by Palma. Selfs in die binneland is die Niassa Provinsie ook nou geteiken. In Cabo Delgado is daar dele waar meer as 200 000 mense al moes vlug of verplaas is en meer as duisend mense al op wrede maniere doodgemaak is.

“Al hierdie onstellende gebeure tref ons geloofsfamilie in Noordoos-Mosambiek baie swaar. Baie van hulle moes vlug en kerkies kan nie meer funksioneer nie – iets wat baie essensieel is vir die uitlewing van hul Christenskap.  Dit is nog verder vererger deur COVID-19 en alles wat daarmee gepaard gaan. Hulle voel hulle het hul Christenskap verloor; mense is verward.

“Sendelinge wat deur hierdie terreur geraak word, is veral André en Anna-Marie Thiart in Quionga in die heel noorde op die grens van Tanzanië, asook Johan en Enna Dames by Namau naby Pemba. Die hoofpad tussen Quionga en Pemba kan egter nie meer gebruik word nie – dis te gevaarlik, en die alternatiewe roete via die binneland kan nou ook nie meer gebruik word nie aangesien busse nou ook daar aangeval word; daar is onlangs 22 mense doodgeskiet. Die Thiarts moes onlangs na Pemba vlieg om hul werkspermitte te verleng. Daar het hulle opgemerk dat voorrade in winkels al skaarser word as gevolg van toegangsroetes wat afgesny word. Ten spyte van die goeie reën is daar ‘n tekort aan voedsel, omdat die mense nie op hul lande kon werk nie – dit was te gevaarlik en hulle is aangeval. In die sentrale deel van Mosambiek, by Gorongoza in die Sofala Provinsie, het ook ‘n afsplitsing van RENAMO ook onlangs begin skiet op voertuie op die pad.”

“Die ander groot uitdaging is gemeentes in die Zambezia Provinsie wat weens die COVID-19-pandemie nie kan kerk toe gaan nie. Om eredienste te kan laat hervat, moet hulle aan die COVID-19-regulasies van die regering voldoen: toilette word op party plekke vereis, termometers is belangrik om die koors te kan meet en net 50 mense word per keer toegelaat om dienste by te woon – iets wat vir ons geloofsfamilie daar baie moeilik is om aan te voldoen en by aan te pas. Kerkleiers is nou baie afhanklik van geestelike motivering.”

So, wat staan ons hier in Suid-Afrika te doen? Danie antwoord: “Luister na ons sendelinge se nood – hulle staan die mense daar in Mosambiek by. Hou in gedagte dat elke plek se omstandighede van die volgende een verskil. Hoor by hulle wat hulle kan gebruik en wat nie. (Daar is byvoorbeeld onlangs aan gemeentes termometers deur ondersteuners verskaf sodat hulle dienste kan begin reël en aan die COVID-19-vereistes kan voldoen.) Bid vir die geloof van mense – mense sukkel met hul geloof. Kerkbyeenkomste is vir hierdie gelowiges in essensie wat Christenskap beteken en in wese is – ‘n manifestasie van hul verbondenheid aan mekaar in Christus.”

Kontak Danie Murray by danie@handevat.com vir meer inligting.