EKO-wenke

Klik op die volgende skakels oor belangrike eko-sake:

  • PLASTIEKVRYE JULIE!Fay van Eeden, predikant by NG Stellastraat, Pretoria, vertel vir ons meer oor waarom dit belangrik is om Platiekvrye Julie ernstig op te neem en gee ‘n paar nuttige wenke oor hoe ons die gebruik van plastiek drasties kan verminder.
    Kom doen dit SAAM met ons! Kyk na die video HIER. Kyk ook gerus na ‘n paar nuttige wenke oor hoe ons die gebruik van plastiek drasties kan verminder HIER.

     

  • Help verbeter ons kwaliteit lug – Op 18 Maart vanjaar het ons Hooggeregshof verklaar dat elke Suid-Afrikaner die reg tot skoon lug het. Lugbesoedeling sal egter nog lank ‘n probleem in Suid-Afrika bly as gevolg van ons afhanklikheid van fossielbrandstowwe vir die opwekking van energie. Rudolph Scharneck van ons Groenspan verduidelik hoe ons elkeen wel ‘n verskil kan help maak. Kyk na sy video daaroor HIER.

 

  • Gesonde trooskos vir die winter – Tydens somer is ons vol energie en het ons moed om heerlik kos te maak en te eksperimenteer. As die winter kom, wil ons egter so vinnig moontlik warm kos kry om weer terug onder die komberse in te klim. Dit is gewoonlik tydens winter wat ons dan die meeste wegneemetes of reeds gaargemaakte kos by die winkels kry om die kosmaakproses so vinnig moontlik te laat verloop. Hoe kan ons in hierdie tyd egter ’n ekologiese bydrae lewer om by te dra tot volhoubaarheid, deur self te kook en gevolglik ook minder verpakking (bv met wegneemetes) te gebruik? Marizanne Pfeil-Wessels van ons Groenspan bederf ons hierdie week met vier heerlike trooskosresepte vir die winter met bestanddele wat meestal reeds in jou spens is. Lees meer HIER.

 

  • Op Vrydag 3 Junie vier ons Wêreld Fietsdag. As jy nog nie een van die gereelde fietsryers is nie, kan jy gerus jou fiets ’n slag gaan afstof en in die pad val. Of nog beter – kry ’n paar vriende en ry saam werk toe. Dit waarborg nie net ’n baie gesonder lewenstyl nie, maar baat ook sommer die omgewing, aangesien ons dan minder brandstof verbruik. Lees meer hieroor by World Bicycle Day | United Nations en kyk na ’n kort video (inligting verskaf deur ons Groenspanlid, Hanli Groenewald) HIER.

 

  • Op 5 Junie vier ons Wêreldomgewingsdag. Maar hoekom is dit nodig? Hoe bewys ons respek aan ons omgewing wat aan ons lewe gee? Sonder water, suurstof en skoon lug kan ons nie lewe nie. Ons moet dus alles in ons vermoë doen om dit so suiwer moontlik te hou – elke mens het die verantwoordelikheid om die omgewing te help bewaar. Daar is baie maniere waarmee ons die aarde kan help bewaar.Vandeesweek gee Noxolo Fihla van die Groenspan vir ons lekker praktiese idees van hoe jy uit jou kombuis en erf ’n plan kan maak.Kyk na die video HIER: https://youtu.be/1JqtFpPtu9k

 

  • Kom ons vier Biodiversiteitsdag! SONDAG 22 MEI. Marizanne Pfeil-Wessels van ons Groenspan het vandeesweek vir ons meer inligting oor Biodiversiteitsdag wat op Sondag 22 Mei gevier word. Biodiversiteit is die biologiese verskeidenheid van lewe op aarde. Vir ‘n gesonde aarde het ons ‘n gebalanseerde biodiversiteit nodig.’n Lys van 22 biodiversiteitaksies is aan verskillende instansies vrygestel. Kyk gerus daarna hier (https://www.cbd.int/biodiversity-day/activities/22) en kies aksies waarvoor jy kans sien. Hierdie 22 aksies is ook in pas met die nuwe wêreldwye biodiversiteitsraamwerk. Op 22 Mei kan jy onderneem om enige van die 22 aksies aan te pak en uit te voer. Ter wille van bewusmaking kan jy dan asseblief foto’s of video’s van jou aksies op sosiale media met die hutsmerk #BiodiversityDay deel.Kyk ook gerus na ons bewusmakingsvideo: https://youtu.be/gXrqSG3hjeM

 

 

  • Doen wat saak maak – dis maklik! Moenie dat al die ekologie-probleme jou oorweldig nie – daar is goeie nuus! As ons ALMAL saamstaan, kan die hele wêreld ‘n beter plek word om in te woon. Baie dankie aan Rudolph Scharneck vir sy inspirerende bydrae oor wat gedoen kan word.
    • Kyk na ’n kort video daaroor HIER
    • Lees ’n artikel daaroor HIER

 

  • Omgewingsvriendelike vuuraanstekers. Met die winter wat op hande is en meer kaggels en vleisbraaivure wat aangesteek gaan word, is dit belangrik om omgewingsvriendelike vuuraanstekers aan te skaf.Baie dankie aan Sam Chamberlain van ons Groenspan vir hierdie week se eko-wenk oor vuuraanstekers. In hierdie video verduidelik Sam vir ons hoe maklik dit is om sommer self so iets te maak en gee drie maklike voorbeelde.Kyk gerus hierna: https://youtu.be/i-nVUcg54GQ
  • Op Woensdag 13 April vier ons Internasionale Plantwaarderingsdag. Om plante te vier klink dalk vreemd, maar ons het ons hele bestaan te danke aan plante. Sonder plante kan ons nie asemhaal of eet nie – ons kan basies niks doen as dit nie vir plante was nie! So, waaroor gaan hierdie dag en hoekom moet ons omgee? Baie dankie aan Dewald Hoffmann van ons Groenspan wat hierdie week vir ons die redes daarvoor gee: https://youtu.be/_d6ghsae2pI
  • Op Dinsdag 22 Maart vier ons internasionaal Wêreld Waterdag. Op hierdie dag is dit belangrik dat ons sal probeer om almal om ons daarvan bewus te help maak oor hoe kosbaar water is. Kom ons kry opnuut weer respek vir die water tot ons beskikking en probeer so waterwys moontlik te leef.Dankie aan Hanli Groenewald vir die inligting. Kyk gerus na die video daaroor: https://youtu.be/vfS251mQTYU

 

  • Maak jou eie voëltjievoerbak.Wat is nou wonderliker as om in die oggend met die vrolike getjirp van voëltjies voor jou kamervenster wakker te word? (Dis aansienlik sagter op die oor as die sesuur-nuus.) Maar hoe kan jy hulle daarheen lok? Dis maklik. Hierdie week vertel ons Groenspanlid, Marizanne Pfeil-Wessels, hoe jy met ‘n keramiekpot en tou ‘n voëltjievoerbak (bird feeder) in jou tuin kan prakseer:https://youtu.be/CaHUYUaQIoI
  • Vleislose Maandae. Dalk voel jy diep geraak deur die ekologiese uitdagings van ons tyd en wonder jy dikwels wat gedoen kan word wat ‘n onmiddellike positiewe effek sal hê. Begin deur net een dag van die week vleis uit jou maaltye te sny. Dit sal sommer ‘n verligting aan jou beursie ook bring! Ons Groenspan sal jou hiermee help deur jou weekliks van ‘n lekker vleislose resep te voorsien. Geniet vandag hierdie slaai met patats en bros kekerertjie – ‘n hele maaltyd op sy eie!

 

  • Bou jou eie wurmplaas. Nioma Venter, assessor van die Sinode van Wes-Kaapland, het almal verlede week geïnspireer met haar videowenke vir die bou van jou eie komposhoop.
    Hierdie week verduidelik sy hoe jy jou eie wurmplasie kan begin. Kyk gerus na hierdie video vir idees en wenke.

 

  • Hoe maak ek my eie ‘swart goud’?“Baie maklik,” sê ons assessor, Nioma Venter. Kyk gerus na hierdie video waarin sy meer van die wonder van ‘swart goud’ vertel; die kosbare kompos wat jy sommer met jou eie wurmplaas daar op jou werf kan skep. Jy kry vir jou ‘n paar Red Wiggler-komposwurms, voer hulle met organiese afval uit jou kombuis en kantoor en siedaar – jou plantjies is in die hemel!

 

  • Waarom is ons vleilande so krities belangrik? Rudolph Scharneck verduidelik: “Water speel reg deur die Bybel ’n baie belangrike rol. Jesus gebruik lewende water as metafoor vir die verlossing wat Hy bring. Water is vir alle lewe op aarde krities belangrik. Ongelukkig sien te veel mense dit as ’n onuitputlike bron. Die werklikheid is dat vars en skoon water baie beperk is. Vleilande is natuurlike watersuiweraars. Op Woensdag 2 Februarie is daar wêreldwyd Wêreld Vleilanddag gevier, maar wat is ’n vleiland presies en waarom is dit van kritiese belang dat dit bewaar word?: Kyk gerus na hierdie video en staan in verwondering. Dit is veral ook baie geskik om deur onderwysers gebruik te word.

 

  • LUISTER – SAAM – FLOREER:Dewald Hoffmann, leier van Getuienisaksie se Ekologie Projekspan, nooi alle individue, kerkleiers en gemeentes namens hul Groenspan uit om vanjaar betrokke te raak by ons wêreldwye omgewingskrisis. Hulle droom is om dit vir ons almal makliker bereikbaar te help maak en vanuit ‘n Bybelse perspektief hierin leiding te gee, so kyk gerus na hierdie video en hou dié spasie dop!
  • Marizanne Pheil en Fay van Eeden se gunsteling minder-plastiek resepte vir die vakansie en Kersdag kan HIER gelees word.

 

  • GROEN geskenke vir Kersfees! Op die oomblik is die meeste van ons nog besig om te skarrel om betyds al ons Kersfeesgeskenke vir ons geliefdes aan te koop. Rudolph Scharneck van ons Groenspan het hierdie week wonderlike idees van hoe ons hierdie jaar GROEN GESKENKE kan maak. Maar dis nie al nie – Watch this space – volgende week deel ons heerlike kos-idees! Lees meer HIER.

 

  • Dewald Hoffmann van ons Groenspan was so gaaf om vir ons ‘n opsomming van die afgelope COP26-byeenkoms te maak. Dit het vanaf 31 Oktober tot 11 November in Glasgow plaasgevind en was ’n poging om in meer konkrete terme ’n aksieplan teen klimaatsverandering en ekologiese verweer van ons planeet vas te lê. Hier kan ons kortliks sien wat die klimaatooreenkomsbesluite alles behels, wat die goeie uitkomstes van die konferensie was en wat die negatiewe punte daarvan is. Kyk gerus na hierdie video en beïndruk die mense om die vleisbraaivure die naweek met jou ekologiekennis.

 

  • Hoe word ek GROEN? Het jy ’n passie om GROEN te leef, maar jy weet nie hoe en waar om te begin en betrokke te raak nie? Die GROENSPAN kan jou help. Daar is wêreldwyd verskeie aksies aan die gang wat poog om van ons planeet ’n groener plek te maak. Al voel dit vir jou asof jou klein byrae nie werklik enige verskil gaan maak nie, word die hele wêreld ’n beter plek sodra net een persoon begin om groener te begin leef. Gemeenskappe verander net omdat daar mense is wat leiding neem en influencers is. Jy doen dit nie net vir jouself nie, maar veral ook vir die volgende geslag. Kyk gerus na hierdie video met inligting: https://bit.ly/3co03By (Met dank aan Hanli Groenewald)

 

  • Vier Internasionale Stap ‘n Slag-dag op 17 November: Die bekende ekoloog, Dave Pepler, het gesê die rede waarom mense in ons tyd so min vir die natuur omgee, is omdat kinders nie met die natuur te doen kry nie. Mense spandeer nie meer, soos in die ou dae, as gesinne saam tyd in die natuur nie. Waar eens groentetuine was, is nou siertuine. Waar mense eens op ‘n tyd gereeld in die veld gaan stap het, sit almal nou voor die televisie as daar vrye tyd is. Jy kan egter nie vir iets omgee waaraan jy nooit blootgestel word nie, want jy kan iets net waardeer as jy dit self beleef. Om in die natuur te stap, is dus ‘n krities-belangrike deel van omgee vir die natuur, want dis waar jy diep bewus raak van hoe wonderlik God se skepping is. Dis waar ‘n hart vir die skepping gebore word. 17 November is die perfekte geleentheid om jouself (en dalk jou gesin) bloot te stel aan die natuur. Dit is internasionale “take a hike” dag (Stap ‘n Slag-dag) waar mense aangemoedig word om iewers in die natuur te gaan stap. Vir diegene in en om Kaapstad is dit ook ‘n wonderlike geleentheid om die kabelkar gratis te ry. Jy moet net opstap en gemors optel terwyl jy stap, dan kan jy gratis afry met die kabelkar. Vir meer inligting, sien hulle Facebookblad: of vind hulle by “Table Mountain aerial cableway”. As jy nie in staat is om ’n staproete te doen nie, gaan sit minstens vir ‘n ruk lank iewers buite waar jy plante en voëls kan sien en raak bewus van hoe groot en wonderlik God alles gemaak het. Kyk gerus na die video HIER: (Met dank aan Rudolph Scharneck van die Groenspan.)

 

  • Tans is wêreld leiers besig om te besin oor die toekoms van ons planeet. Die COP26 byeenkoms wat in Glasgow plaasvind van 31Okt – 11Nov is ‘n poging deur lande om in meer konkrete terme ‘n aksieplan teen klimaatsverandering en ekologiese verweer vas te lê. Maar wat kan elkeen van ons doen in ons eie gemeenskappe? Hier is ‘n paar idees!

 

  • “Risiko sal aanhou toeneem.” So sê professor Francois Engelbrecht tydens ‘n eksklusiewe onderhoud wat Forbes Africa met hom gevoer het oor die nuwe Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC) -verslag en hoe dit Suidelike-Afrika raak. Die IPCC verteenwoordig die somtotaal van globale kennis rakende klimaatsverandering en die verslag is as ‘n ‘kode rooi’ vir die mensdom beskryf. Professor Engelbrecht is een van Suid-Afrika se vooraanstaande klimatoloë en hoofskrywer oor die verslag van die kollektiewe besluite wat nodig is om die krisis te bekamp. Lees die onderhoud HIER.

 

  • Die COP26-byeenkoms is van lewensbelang: Die afgelope tyd is daar baie nuus oor die Congress of the Parties of kortweg COP se 26ste byeenkoms. Dit vind vanjaar plaas vanaf 31 Oktober tot 12 November in Glasgow, Brittanje. Baie mense is van mening dat hierdie een van die belangrikste byeenkomste ooit ten opsigte van ons geveg teen klimaatsverandering kan wees. Dit sal ook een van die laaste geleenthede wees wat die mensdom nog het om konkrete stappe te neem om aardverwarming drasties te help verminder. Maar wat is COP? Kyk na die video hieroor by https://bit.ly/3AOSD3L

 

  • Ekologie is meer as die plante om ons; dit sluit veral ook ons diere in. Op Maandag 4 Oktober vier ons Wêreld-dieredag. Die doel van dié dag is om mense bewus te maak van diereverwaarlosing. Deur hierdie dag jaarliks te vier en meer gemeenskappe daarby betrokke te kry, kan ons die plaaslike en globale standaarde ten opsigte van dierewelsyn verhoog. Deur bewusmaking en opvoeding kan ons ’n wêreld skep waar die waardigheid en versorging van diere altyd ’n prioriteit sal wees. Ons kan net ’n verskil maak wanneer ons betrokke raak! Dankie aan Marizanne Pheil van ons Groenspan wat die inligting verskaf het.

 

  • Wêreld Rivieredag: Sondag 26 September is dit Wêreld Rivieredag. Een van die bekendste riviere in ons sinodale gebied is die Breederivier. Rudolph Scharneck van die Groenspan het ‘n lidmaat in sy gemeente wat baie betrokke is by die bewaring van die Breederivier en vas glo die Here haar vir hierdie taak geroep het. Haar naam is Elkerine Rossouw en sy woon in Rawsonville. Hy het met haar gesels om meer uit te vind waarom die Breederivier so belangrik is en wat die kerk en gemeenskap se rol in die bewaring van ons land se riviere in die algemeen is. Lees meer HIER. Kyk ook na ’n kort video oor die rol wat jy hierin kan speel HIER.
  • Wêreld Motorvrye Dag wat op 22 September gevier word, moedig ons aan om ons motors minder te gebruik. Dit hou baie voordele in, soos dat die lug minder besoedel word en dat ons kan stap en fietsry in ‘n gesonder omgewing.  Waarom is dit so belangrik en watter wenke kan jy volg om jou motor minder hoef te gebruik? Janneke Marais van ons Groenspan deel met ons ‘n paar idees HIER.
  •  Op Donderdag 16 September is dit die Internasionale Dag vir die Bewaring van die Osoonlaag. Die osoonlaag is ‘n natuurlike laag gas in die boonste atmosfeer wat mense en ander lewende dinge teen skadelike ultraviolet (UV)-strale van die son beskerm. Wat kan ons gewone mense daaraan doen? Hoe kan ons die osoonlaag beskerm? Leer meer by Samantha Chamberlain: https://youtu.be/k7BSZGTQ45M

 

  • Op 15 September is dit Internasionale Kusopruimingsdag. Maak seker dat jy deelneem aan hierdie belangrike veldtog, of nog beter – kry ‘n groep bymekaar en gaan help maak ons pragtige Suid-Afrikaanse kus skoon. Kyk gerus na Samantha Chamberlain se inligting hieroor: https://youtu.be/CYj6a_RhNYw

 

  • Lentedag het aangebreek en ons begin ons eerste week van September met hoopvolle energie! September word jaarliks as ’n Seisoen van die Skepping op die kerkkalender herdenk. Die Seisoen van Skepping is ’n ou tradisie en sentreer hierdie jaar rondom die aarde as woning (Oikos) vir die hele skepping. Hul webtuiste (https://seasonofcreation.org) is propvol hulpbronne wat op ’n praktiese manier predikante, gemeentes en individue help om in te skakel by verrigtinge. Die Groenspan wil ook graag almal uitdaag om betrokke te raak! Ons herinner julle graag aan die Woord en Fees wat ook ’n hele segment bevat wat toegewyd is aan die Seisoen van die Skepping en saam met die leesroostertekste gebruik kan word. Mag ons hierdie maand dieper bewus word van God se skepping en ons verantwoordelikheid daarteenoor met erns nakom. Kyk gerus na die video: https://youtu.be/h9YPN84q3S8

 

  • Een van ons Groenspanlede, Hanli Grové, dink vandeesweek diep oor waar en hoe ons op ons planet as enkeling ’n impak kan maak. Wat staan ons te doen as ons só deur die ekologiese uitdagings oorweldig word dat ons in moedeloosheid verval en dit ons totaal verlam. Hoe behoort ons hierdie berge van probleme aan te pak? lees gerus HIER meer.

 

  • Hier deel Dewald Hoffman van ons Groen Span ‘n baie eenvoudige, maar uiters belangrike, eko-wenk met ons. Ons gebruiksgewoontes plaas al hoe meer druk op die aarde, maar wat sal gebeur as ons dit begin verander? Die sisteem wat die mens vir homself geskep het, is dikwels ten koste van die mens self. Rus is ‘n sentrale konsep in die Bybel en selfs ‘n toppunt van God se skepping: https://youtu.be/p7_9v1JwI10

 

  • Hopenlik gaan die politieke en ekonomiese leiers van die wêreld, wat vanaf 31 Oktober tot 12 November 2021 in Glasgow vir die 26ste Conference of the Parties (COP) vergader, hulle ernstig aan die jongste Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC)-verslag steur. Mag hulle tog doen wat nodig is om die mens van sy dwaasheid te red –  dat ons eiehandig sorg dat lewe soos ons dit vandag ken (ons eie inkluis) uiteindelik nie meer op aarde moontlik sal wees nie. Ons is heel waarskynlik die laaste geslag wat nog iets daaraan kan doen om die verwarming van die aarde se atmosfeer tot ‘n leefbare vlak in te kort. Kom ons doen alles wat ons kan – met blydskap. Lees meer HIER

 

  • Julie, die maand van aktivisme teen enkelgebruik-plastiek. Wil jy ook soms die mure uitklim as jy sien hoe lyndrade en bosse langs die pad besoedeld is met plastieksakke? Die moedeloosheid oorweldig jou, veral as jy sien dat daar diere in die omgewing wei. Maar daar kan iets aan gedoen word, soos in baie van ons Afrika-lande waarvan Kenia ’n baie goeie voorbeeld is. Begin sommer by jouself. Ons almal kan dadelik begin om ’n reuse-verskil te maak deur onmiddellik alle verpakking met enkelgebruik-plastiek te weier. Word ’n aktivis van enkelgebruik-plastiek: https://bit.ly/2TAyYVK

 

 

  • Ons vier Aardedag: Op Vrydag 22 April vier ons weer wêreldwyd Aardedag; iets wat alreeds vir meer as 50 jaar bestaan en in 1970 begin is. Dis verblydend om te sien hoe baie van veral ons jongmense entoesiasties aan hierdie vieringe deelneem. Ons Groen Span het vanjaar weer eens baie moeite gedoen met mooi plakkate met waardevolle idees en inligting oor watter impak ons gedrag op ons plante, diere het en hoe dit wat ons eet die skepping beïnvloed. Ons deel ook graag weer die Eko-pakkie soos verlede jaar. Lees meer by https://bit.ly/3g3x8Wm

 

  • Hierdie Saterdag 27 Maart om 20h30 is die jaarlikse Aarde Uur (of Earth Hour). Maar wat is Earth Hour? Waar kom dit vandaan? Waaroor gaan dit? En hoekom moet ons as gelowiges dooroor omgee? Ds. Dewald Hoffmann deel hierdie week als wat jy hoef te weet oor Earth Hour en hoe maklik dit is om deel te neem! https://youtu.be/EKPUpMhT7Ck

 

  • Weggooibare maskers het nou ook, soos so baie ander verbruikersitems, ‘n ekologiese krisis begin veroorsaak. Mense gooi dit nie op ’n bedagsame manier weg na gebruik nie en dit beland onder andere in oseane en ander eko-sensitiewe areas. So, wat kan dan gedoen word om hierdie bul so gou moontlik by die horings te pak?  Lees Samantha Chamberlain van die NG Gemeente Suider-Strand se eko-wenk HIEROOR

 

  • Dalk sê jy: “Die eko-probleem raak my nie …” Dink weer: Marizanne Pfeil-Wessels van die Hoop Geloofsgemeenskap (‘n inisiatief van die NG Kerk Helderberg, Somerset-Wes) was in ‘n 3de-jaarsklas oor ekologie-teologie toe sy bewus geword het van die enorme eko-probleem. Leef ons nog in ‘n ‘goeie skepping’ soos Genesis 1 die skepping beskryf? Beslis nie. Besoedeling en ons aandeel daaraan het alledaags geword. Jy kan egter ‘n verskil maak, al is dit ook al hoe klein. Raak bewus van hoe jy meer volhoubaar kan leef en bydra tot die oplossing. Begin sommer dadelik deur PLAASLIK te koop. Kom meer hieroor te wete by: https://youtu.be/4zfXmsxjTw8

 

  • Nog geen #GROEN Nuwejaarsvoornemens nie? Dis nooit te laat om nog groen nuwejaarsvoornemens te beplan nie. Hier is ‘n paar idees van ons GROEN SPAN se Rudolph Scharneck: koop vars produkte plaaslik – daarmee stimuleer jy nie net die plaaslike ekonomie nie, maar verminder ook sommer jou koolstofvoetspoor; #refuce, #reduce, #re_use, #recycle, rot (komposhoop toe!); drink meer water uit jou kraan en spaar water; plant ‘n (vrugte)boom; tel rommel op waar jy ookal gaan. Kortom – dink GROEN. Rudolph vertel in hierdie video meer: https://youtu.be/VjOrm2LEfwg

 

  • Natuurliefhebbers en Mede-aardbewoners! Ons Groen Span is deel van ‘n ekumeniese projek, #together4creation en wil ‘n kompetisie loods voordat die skole weer open. Kry daardie kreatiewe brein van julle in rat en neem deel aan hierdie lekker eko-kompetisie. Herbruik of herbenut iets wat jy sou weggooi in iets nuuts, neem ‘n mooi foto van jou skepping(s) en pos dit op jou Facebook, instagram of twitter en merk dit met #together4creation of #repurpose. Ons sien uit na wat julle gaan skep. Pryse te wen is boeke wat jou leer van tuinmaak, groentesade, ens. Laat waai! Kyk na Dewald Hoffmann se video hieroor by https://bit.ly/3iOkZ6S

 

  • Het jy al ooit gewonder wat die nommers binne die herwinningsteken op plastiekprodukte beteken? Marizanne Pfeil-Wessels van Hoop Geloofsgemeenskap gesels oor die verskillende tipes plastiek wat herwin kan word. Sy beskryf nie net al sewe tipes plastiek wat in produkte gebruik word nie, maar vertel ook watter nuwe produkte geskep word uit die herwinningsproses: https://bit.ly/2IImFRw.

 

  • Dalk was jy van mening dat mens alles wat van plastiek, papier of tin gemaak is, kan herwin, maar dis nie waar nie. Dewald Hoffmann van ons Groen Span gee eko-wenke oor produkte wat nie herwinbaar is nie. Wees bedag op produkte wat nie bio-afbreekbaar is nie, wat besmet is met kos of olierigheid, komponente wat te ingewikkeld is om van mekaar te skei, soos elektroniese kabels (e-waste is ‘n opsie van herwinning hiervan), spuitkannetjies, batterye, spieëls, ens. Hy vertel meer hiervan op die video: https://youtu.be/j1PLep-v3TI. Jy kan meer ook oor die onderwerp lees by https://bit.ly/2TU7Cqh.

 

  • Dewald Hoffmann vertel meer oor die lekker #Together4Creation-projek wat mense aanmoedig om mooi kuns te maak van dinge wat jy normaalweg sou weggooi. Hy wys hoe maklik dit byvoorbeeld is om ‘n mooi potplanthouer uit herwonne plastiek te maak. Plaas #Together4Creation en #season4creation daarby. Dis ook deel van ‘n kompetisie – pos jou kunswerk op sosiale media en wen lekker pryse – #repurpose! Vind meer uit: https://bit.ly/3mqNTeR

 

  • Dewald Hoffmann van Gordensbaai deel hierdie week opwindende nuus oor die jaarlikse Seisoen van die Skepping wat op 1 September begin. Die Groen Span deel graag ‘n aanvullende liturgiese hulpbron vir preke in hierdie tyd, sowel as nuus oor die ekumeniese Together4Creation-projek en die Hoop en Versoening Trust se Groei-projek: https://youtu.be/L70i3A0PhwI

 

  • Janneke Marais, jeug- en maatskaplike werker van die NG Toringkerk in die Paarl, praat oor die probleem van elektroniese afval (e-afval) en wat gedoen kan word om dit te herwin: https://bit.ly/3krWdtT

 

  • Dewald Hoffmann van Gordonsbaai verduidelik waarom dit beter is om eerder glas as plastiek te gebruik. In hierdie maand van plastiekvrye Julie doen ons Groen Span ‘n beroep op jou om hierdie maklike nuwe gewoonte aan te kweek en jou glasbottels te hergebruik. Was dit skoon, plak nuwe etikette op en siedaar! Jy het ‘n pragtige nuwe waterbottel of konfytfles – ideaal vir ‘n mooi geskenk of jou eie huishoudelike gebruik: https://bit.ly/2DeJMk0

 

  • Janneke Marais, jeug- en maatskaplike werker van die NG Toringkerk in die Paarl, praat bietjie oor wegneem koffie en meer eko-vriendelike alternatiewe: https://bit.ly/3gp8lJ8.

 

  • Dewald Hoffmann van Gordonsbaai vertel waarom Julie vir sommige mense sinoniem is met die ‘Plastic Free July’-veldtog (https://www.plasticfreejuly.org). Dit is deel van ‘n groter beweging van mense wat ‘n alternatiewe leefstyl van minder verbruik begin aanneem. Sommige bly egter skepties oor die impak wat ons aksies as indiwidue werklik kan hê op die omgewingskrisis: https://bit.ly/30LanOQ

 

  • Marizanne Pfeil van ons Groen Span en predikant by Hoop Geloofsgemeenskap in Somerset-Wes, gesels hierdie week oor hoe om jou eie groente te kweek. Jy het nie ‘n groot tuin daarvoor nodig nie; heelwat groente kan in ‘n gewone pot ook groei. Kyk na hoe dit gedoen kan word by https://bit.ly/31bR1TK.

 

  • Angelique Ghall, lid van ons Groen Span en predikant van die VGK Vanrhynsdorp, gesels hierdie week met ons oor hoe jy deur huishoudelike eko-vriendelike items in jou kombuis te gebruik, nie net geld spaar nie, maar ook ‘n bydrae lewer tot die ekologiese bewaring van jou omgewing:  https://bit.ly/2YduV1b

 

  • Dewald Hoffmann herinner ons daaraan dat hierdie Sondag die Biddag vir Ekologie is – ons nooi alle gemeentes uit om hierdie Sondag saam te bid vir die omgewing en die aarde. In hierdie video gee hy vyf stappe as riglyne: https://bit.ly/2N6MwkS

 

  • Ons Groen Span se Samantha Chamberlain van die NG Gemeente Suider-Strand gesels oor goeie alternatiewe vir plastiekstrooitjies en -eetgerei. Sy praat ook oor die nut van ’n eko-vriendelike sakkie wat jy altyd byderhand kan hou en travel mugs. Kry jouself solank gereed vir as die grendels opgelig word en jy weer die Sederberge kan invaar of langs die see kan gaan kamp. https://bit.ly/2N7NsWf

 

  • Marizanne Pfeil, predikant by Hoop Geloofsgemeenskap in Somerset-Wes, gesels oor materiaaloortreksels ipv kleefplastiek oor ‘n bakkie; dis ‘n wenner! Jy spaar plastiek en kan die oortreksels net in die was gooi. Bio-degraderende plastiek is ook ‘n opsie vir die uitsondering. https://bit.ly/2N9fZL7

 

  • Dewald Hoffmann probeer inkopies doen sonder om plastieksakkies te gebruik – nogal ‘n uitdaging! https://bit.ly/3crUMXI

 

  • Janneke Marais, jeug- en maatskaplike werker van die NG Toringkerk in die Paarl, vertel hoe maklik dit is om met plastiekdoppies ‘n rolstoel vir iemand te waarborg. https://bit.ly/3fBfiGO