
CCAP Sinodesitting Bunda College of Agriculture 2017
Die Geskiedenis van die CCAP
In 1889 stig di. A.C. Murray en T.C.B. Vlok ’n sendingstasie op Mvera om onder die Achewa te begin werk. Ten spyte van vele terugslae, brei die sendingaksie vinnig uit. In 1897 is die eerste groepie van 19 bekeerlinge gedoop.
Die Kerk van Midde-Afrika Presbiteriaans, nou die CCAP (Church of Central-Africa Presbyterian) genoem, is in 1924 gestig. Dit het begin as ’n uitvloeisel van die getuieniswerk van twee Skotse kerke in Noord- en Suid-Malawi. In 1926 het die NG Kerk se sendingaksie in die sentrale deel van Malawi by dié kerk as die CCAP Nkhoma-ring ingeskakel, en in 1959 het die ringe, Nkhoma, Blantyre en Livingstonia selfstandige streeksinodes van die Algemene Sinode van die CCAP geword. Salisbury, vandag Harare, het in 1956 ’n ring van Malawi se CCAP Nkoma-sinode geword en in 1965 het dit die Salisbury-sinode (vandag die Harare-sinode) van die CCAP geword. In 1962 het die Sendingraad van die NG Kerk die beheer van alle eiendom aan die Nkhoma-sinode oorgedra.
Die impak van die CCAP
In 1999 het die Nkhoma-sinode ’n eie Departement Sending gestig om uitreikwerk na Moslems in Malawi en kerkplanting in Mosambiek te administreer en te organiseer. Die CCAP Kaninga-gemeente is aktief betrokke by getuieniswerk in Mosambiek en onderhou drie evangeliste daar.
In 2003 is ’n vennootskapsooreenkoms tussen die Nkhoma-sinode en die NG Kerkfamilie in die Kaap-streek aangegaan, bemiddel deur Getuienisaksie
Vandag bestaan die Nkhoma-sinode uit 25 ringe, 190 gemeentes en digby die 2 000 wyksgemeentes (prayer houses). Die kerk het meer as ’n miljoen belydende lidmate en sowat 200 000 katkisante wat deur meer as 200 leraars bedien word. Heelwat gemeentes is vakant.
Die Vrouevereniging, die Chigwirizano, het meer as 300 000 lede en vervul ’n besondere diensfunksie, veral ten opsigte van barmhartigheidsdiens.
* Lees meer oor die CCAP Sinode Nkhoma HIER
Kontak
Ds. Vasco Kachipapa
+265 175 4448
ccapnkhomasynod89@gmail.com