Die IRM Mphatso Sinodesitting in 2017
In 1908 begin di. Andrew G. en William H. Murray vanuit Malawi die eerste sendingstasie van die NG Kerk in Mosambiek by Mphatso in die Tête-provinsie (Noord-Mosambiek). Inheemse evangeliste uit Malawi kom ook help evangeliseer en in 1910 word die eerste drie volwassenes gedoop.
Die kerk groei bestendig, maar in 1922 word hulle werk deur die Portugese regering verbied en Protestantse gelowiges word vervolg.
Vyftig jaar later begin di. Nehemia Katundu en Pieter Botha weer vanuit Malawi in Mosambiek werk, maar dit word in 1975 as gevolg van politieke spanning tussen Malawi en Mosambiek opgeskort.
Intussen het ds. Pedro Tembo, ‘n swart sendeling van Suid-Afrika, in 1971 in die Gaza-provinsie (Suid-Mosambiek) begin werk. In 1975 neem die kommunistiese Frelimo-party die bewind oor en kerkskole en -hospitale word genasionaliseer. Kerke is gesluit en Christene is vervolg. Burgeroorlog breek uit en duisende vlug oor die grens na Malawi waar gelowiges byeenkom en Bybelonderrig en katkisasie ontvang. Die ouderlinge in Mosambiek is deur ds. Pieter Botha per brief vanuit Suid-Afrika begelei om hulle eie sinode te stig.
Na baie gebede is die IRM (Igreja Reformada em Moçambique) in 1977 gestig. Drie lidmate, David Chikakuda, Fanuel Kasamba en Joshua Mlinde is deur die Bungwe la Naini, die sogenaamde “Groep van Nege” en die “Groep van Tien” (wat in die afwesigheid van predikante leiding in die kerk neem), na Zambië gestuur om as leraars opgelei te word.
Vroeg in die tagtigerjare word die burgeroorlog egter so heftig dat die platteland ontvolk. Die IRM se drie leraars het toe die vlugtelingskampe in Malawi bedien en ds. Tembo het vanaf die Gaza-provinsie die mense in Maputo gaan bedien.
Die terugkeer van die NG Kerkfamilie
In die laat-1980’s gaan die deure vir sendelinge weer oop toe pres. Samora Machel kerke vra om sy land te help opbou.
In 1986 word ds. Pieter Botha en sy vrou, Jeanette, as dosente by die interkerklike kweekskool op Ricatla naby Maputo aangestel. Ds. Manie Taute sluit hom later by die Bothas aan. In 1990 begin ds. Kobus Minnaar ‘n gemeente op Vila Ulónguè op die been bring. In Julie 1991 bou die Ring van Tulbagh die nuwe kerkterrein op Vila Ulónguè en word ds. Willie Gouws en sy vrou, Griet, daar geplaas.
Sedert die 1980’s was Mosambiek besig om uit die as van 28 jaar se oorlog – eers ‘n vryheidsoorlog en toe ‘n burgeroorlog – op te staan. Hierin het die kerk reg vanaf die begin ‘n baie belangrike rol gespeel. Die evangelie is met opwinding ontvang en die kerk was verstom oor die groei van gelowiges in die afwesigheid van kerkstrukture in die dekades van verbanning.
Die IRM bestaan tans uit ongeveer 80 000 lidmate, 75 gemeentes en 86 predikante. Die drie sinodes Tumbine, Mphatso en Novo vorm saam een Algemene Sinode. Getuienisaksie is veral betrokke by Mphatso Sinode in die Tête Provinsie en Tumbine Sinode in Noordoos-Mosambiek.
Die Tumbine Sinode het 24 gemeentes en 25 plaaslike predikante. Hulle het ook 1 predikant van Suid-Afrika (Nohacalala Gemeente in die Nampula Provinsie) en 1 plaaslike evangelis en 2 Suid-Afrikaanse evangeliste wat in Quionga en Pemba (Cabo Delgado Provinsie) dien.
Mphatso Sinode het 35 gemeentes, 5 sendingareas, 8 ringe and 40 predikante.
Novo Sinode het 16 gemeentes, 4 ringe, 9 sending-areas en 21 predikante.
Getuienisaksie ondersteun die kerk om hul gemeentes te ontwikkel tot offervaardigheid en getuienis in hul eie gemeenskappe. Gemeentes hier dra by tot IRM-leraars se salarisse ter ondersteuning van hul gemeentes. Ander gesamentlike projekte word aangepak soos die mediese projek en die opleiding van kerkleiers.
Mphatso Sinode het verskeie sendingareas waar nuwe gemeentes gevestig word. Ds Khosa is deur die sinode as sendeling gestuur om gemeentes binne die areas te vestig. Omliggende gemeentes is ook by sy aksies ingeskakel. Selfs gemeentes uit Lilongwe in Malawi het soms uitreike om sy werksaamhede te ondersteun.
Tumbine Sinode het verskeie sendingareas:
LW: Lees meer oor die IRM HIER.
Dr Daniël de Wet
021 957 7204
missio@kaapkerk.co.za