Klik hieronder en lees meer
In 1961 begin ev David Maduma van Glencoe in die Msinga-gebied werk. In daardie tyd was Msinga ’n wyk van die NG Kerk in Afrika (later die VGKSA) Dundee-gemeente. Na meer as agtien jaar van intensiewe arbeid deur baie getroue werkers is die Msinga-gemeente uiteindelik in 1984 gestig.
Die VGKSA Msinga het vandag meer as 500 lidmate, en sowat 500 Sondagskoolleerlinge. Die gemeente bestaan uit vyf wykskerkrade, naamlik
Elke wykskerkraad bestaan uit verskillende buiteposte. In totaal is daar dertig klein buiteposte in Msinga. Die wykskerkrade help die buiteposte om in hulle konteks en gemeenskap volwaardig uitreikende – en uitnodigende geloofsgemeenskappe te wees. Weens baie vakatures word al hoe meer bedieninge deur lidmate behartig.
Die Christen-vroue in Msinga is goed georganiseerd. Hulle speel ’n groot rol in die omgee vir armes en mense wat in krisisse verkeer. Hulle hou gereelde bidure en is baie betrokke by ekumeniese vroue-projekte in hulle gebied.
Die gemeente vergader elke Paasnaweek by die Pomeroy-kampterrein waar dit deur ongeveer 500 lidmate bygewoon word. Die geleentheid word deur hartlike onderlinge gemeenskap gekenmerk, gesamentlike gebed, Skriflesing en meditasie oor die Woord.
Daar word jaarliks 4 tentuitreikaksies in Msinga gehou waar met evangelisasie na buite-kerklikes uitgereik word. Met hierdie aksie kry die kerk die geleentheid om die evangelie aan alle mense te bedien. Hierdie is veral ’n baie effektiewe uitreik-metode as dit deur opgeleide gelowiges self gedoen word. Uitreik-aksies in hierdie gebied word bemoeilik deur die harde korse van tradisionalisme en wettiese godsdiens.
Die NG Kerkfamilie se gemeentes vanuit die Wes- en Suid-Kaap onderneem ook gereelde uitreike na die Msinga-gebied in vennootskapsverband. Studente van Tygerberg-kampus kom elke jaar na Msinga waar hulle klinieke hou en betrokke is by verskeie projekte. Foundations for Farming en Eden Foundations het ook in 2011 bygekom as vennote wat opleiers oplei, wat op hulle beurt weer vrouegroepe help om meer kos vir hulle kinders te verbou.
Die gemeenskapsbetrokkenheid van die kerk in Msinga is oor die jare stewig uitgebou en verbreed nog steeds.
CMD/Usizo-takke is reeds by Pomeroy en Mhlumayo gevestig. Die takke dien as sorgsentra in die gemeenskap waar maatskaplike diens met ’n Christelike fokus aangebied word. Die Gereformeerde Gemeenten in Nederland se diensarm, Bijzondere Noden, is ook as vennoot betrokke by die opleidingsbeen van die bediening.
Daar is 60 vrywilligers wat in die Msinga-gebied werksaam is. Hulle besoek sommige pasiënte twee maal per week, en ander wat alleen is, word op ’n daaglikse basis besoek. Die vrywilligers maak gedurende hierdie besoeke dan die pasiënte se huise skoon, kook vir hulle kos, was hulle en sorg dat hulle aangetrek word .
Bydraes is noodsaaklik ten opsigte van benodigdhede om die siekes mee te versorg, asook hulp met vervoer om by die pasiënte te kom – dit bly ’n uitdaging, omdat dit hoofsaaklik deur vrywilligers gefinansier moet word. Bydraes word aangewend vir die volgende doelwitte:
Deur middel van u bydraes word die gemeente van Msinga bemagtig om ‘n werkende infrastruktuur in stand te kan hou sodat die werk van die Here so effektief moontlik kan voortgaan. Goedopgeleide leraars en geestelike werkers kan bekostig word om die gemeente te bedien, leiers op te lei, veldtogte te hou en kleuterskole in stand te hou.
Dr Daniël de Wet
missio@kaapkerk.co.za