Getuienisaksie se diensgroepkoördineerder, Stephen Pedro, open die vergadering met ‘Wandel in die Woord’.

 

Op Maandag 14 Februarie het die dagbestuur van Getuienisaksie in die Zikomo Vakansiewoonstelle in die Strand byeengekom vir hul eerste belangrike vergadering van die jaar. Dit is gedoen onder die bekwame voorsitterskap van Danie Möller.

Die oggend is afgestaan aan ‘n indringende strategiese gesprek en die middag aan ‘n bestuursvergadering.

Die strategiese gesprek is vergemaklik deur die voorafbeplanning van ‘n raamwerk deur Getuienisaksie se drie PSD’s, Stephen Pedro (Gemeentegetuienis), Daniël de Wet (Ekumeniese Vennootskappe in Afrika) en Braam Hanekom (Publieke Getuienis) tydens ‘n sessie wat hulle in Januarie te Kleinmond gehad het.

Die eerste gedeelte van die oggend is afgestaan deur te besin oor nuwe uitdagings en fokusareas. Ons het as groep eers gaan kyk na ons bestaande fokusareas en dit toe verfyn na die volgende:

Die dagbestuur van Getuienisaksie besig met hul strategiese beplanningsessie

Hierna is nuwe fokusse geïdentifiseer, soos die jeug, diversiteit, haweloses, geweld en bendegeweld, immigrante uit Afrika en kerkeenheid. Daar is besluit dat gemeentes veral begelei behoort te word ten opsigte van oor hoe om met die jeug, immigrante uit Afrika en haweloses om te gaan.

Dit sal in die praktyk beteken dat ons PSD’s gemeentes op ringsvlak sal moet besoek. Dit sal in streeksbesoeke ingedeel kan word waar ringe gegroepeer en saam besoek kan word. Hierdie besoeke kan selfs meer sinvol as een groot jaarvergadering wees, aangesien daar meer effektief op ‘n bepaalde ring se behoeftes gefokus sou kon word en Getuienisaksie met ‘n meer spesifieke aanbod van ondersteuning na die verskillende ringe kan kom.

Tydens die bestuursvergadering in die middag is daar besluit op die vestiging van nog twee taakspanne, naamlik Ekologie en Evangelisasie. Ekologie bestaan alreeds in wese en het as projekspan al uitsekende werk in die verlede gedoen, maar sal dan nou amptelik ‘n mandaat binne ons struktuur kry. Met die Taakspan Evangelisasie sal Getuienisaksie die bestaande verbandsbedieninge waarmee ons reeds bande het, soos Arbeidsbediening, Straatwerk, Simcha, Ambassadors Football, Isibindi Initiatives, Hope prison Ministry, ensovoorts meer effektief gestruktureerd binne ons raamwerk val.

Die waardes waarvoor Getuienisaksie wil staan, is as volg bevestig:

  • Missio Dei : God neem ons saam op sy missie
  • Daarom speel gebed en die Heilige Gees ‘n sentrale rol
  • Missionale transformasie van gemeentes en gemeenskappe
  • Kerkeenheid
  • Diversiteit

Die vergadering was verheug oor die verkiesing van ds Clive Jacobs as nuwe mede-voorsitter in die plek van Llewellyn MacMaster wat bedank het. Ons wens Clive net die allerbeste toe en onderneem om hom in alle opsigte te ondersteun.