AnnaMarie de Klerk lewer haar aanvaardingstoespraak tydens haar eredoktorsgraadtoekenning van die Universiteit Nkhoma.
Dit kom van ver af
Vra jy oud-sendeling, AnnaMarie de Klerk, om meer te vertel oor haar verbintenis met ons susterskerk, die CCAP Nkhoma Sinode in Malawi, antwoord sy as volg: “Met die belofte van die Here, Ek sal Self voor jou uitgaan … (Jes. 45:2) en ‘n volgelaaide Kewer, vertrek ek op 27 Februarie 1971 vanaf Rietvlei, Calvinia. ‘n Week later, 6 Maart, begin ek met taalstudie op Malingunde. Dit is reënseisoen en ds. Kamphinda, leraar op Malingunde, fokus my visie op die eerste Chichewa-woord tot volhoubaarheid, utawaleza (die boog van God). God doen Sy belofte gestand!”
Vir 47 jaar beweeg AnnaMarie deur ‘n leerskool van bedieningsgeleenthede wat wissel van bemagtiging van vroue in huisvlyt, opleiding van vrouediens (Chigwirizano)-leidsters, taalinstruksie aan nuwe personeel op Chongoni, interkerklik en –nasionaal. Sy werk ook later in die administrasiekantoor van die DRC Personnel Office op Nkhoma, en is ook verantwoordelik vir en betrokke by die heropening en beplanning van ‘n leerplan vir die Vroueskool op Malingunde in 1992. As personeellid is sy hierin begelei deur die skakelbeampte uit die NG Kerk Wes-Kaapland en die CCAP Nkhoma Sinode. Sy ervaar toenemend dat die CCAP Nkhoma Sinode verantwoordelikheid aanvaar vir die wye veld van dienslewering wat deur die NG Kerk Wes-Kaapland geïnisieer was. Dit was dus ook nie vreemd toe CCAP Nkhoma Sinode ‘n nuwe pos ontwikkel het, naamlik : Administrative Assistant Ecumenical waarin AnnaMarie, volgens haar, “enorme toerustingskapasiteite” kon aanleer nie.
Tydens die laaste jare, vanaf 2010 tot 2018 kon AnnaMarie ook ‘n nuwe visie sien vorm aanneem ten opsigte van vroeë kinderontwikkeling (VKO). Die noemenswaardige ondersteuning van KIX in die Wes-Kaap help vestig ‘n opleidingsprogram vir 154 kleuterskoolonderwysers uit die omliggende gemeenskappe by Malingunde. Hulle word toegerus met onderwystegnieke en kinderevangelisasievaardighede en aangemoedig deur hulle hoofmanne wat hulle kursusse ondersteun. KIX Kleuterskool word in 2012 geopen en vier vanjaar hulle elfde jaar in diens van die Malingunde-gemeenskap.
AnnaMarie vertel: “Sedert my terugkeer om mediese redes, het die Here steeds toegelaat dat ek in 2019 opnames kon gaan maak vir die eerste boek: My Walk with the Lord, Reflections of people in Malawi following God’s calling. In 2020 het ek ‘n groep van drie VGK- en een NG Kerk-vroue vergesel na Malawi en hulle kon eerstehands betrokkenheid in kruis-kulturele kollegaskap op verskeie diensterreine ervaar.
