“Ek bid dat hulle almal een mag wees, …” So lees ons in die innige gebed van Jesus Christus tot sy Vader in Johannes 17:21.
So, waarom sukkel ons as navolgers van Christus dan so daarmee, veral as ons na al die pogings van die VGK en NG Kerk se algemene sinodes van die afgelope dekades kyk?
En tog lees ons van enkele gevalle waar die lig deurbreek, meestal gedryf deur ernstige krisisse. Hierdie eenheidprosesse kan egter nie maklik plaasvind as daar nie kerkleiers is wat die nodige ervaring, wysheid, deernis en sensitiwiteit vir die spesifieke konteks het wat dié kerkherenigingsprosesse kan help begelei nie.
Ds Stephen Pedro, predikant in sinodale diens (PSD) van Getuienisaksie en ook betrokke by Communitas, wou graag die verhaal oor die kerkeenheidsproses wat tans besig is om in Maitland te ontvou, en waarin hy ook ‘n rol gespeel het, met ons deel.
Die twee predikante aan die stuur van die proses is ds Bossie Muller en ds Andrew Esterhuizen. Ons het meer gaan uitvind.
Bossie, gee vir ons ‘n bietjie agtergrond van die Maitland Gemeenskapskerk en die kerkeenheidsproses met die VGK Maitland.
“Die Maitland Gemeenskapskerk kom al ‘n baie lang pad. Dit is ‘n kerk van die gemeenskap en bestaan uit mense van verskillende tale en kulture. Aanvanklik was daar redelik baie blankes in dié gemeente, maar oor die jare het baie van hulle weggetrek en het die gemeente sy eie unieke kultuur en manier van doen ontwikkel.
“Intern was Communitas in die persoon van dr Ryk van Velden al lankal met die Maitland Gemeenskapskerk op reis ten opsigte van ‘n kerkeenheidsproses met die VGK Mailtand.
“Op daardie stadium was ek gemeentebegeleier om in opdrag van Communitas die twee gemeentes tot kerkeenheid te help begelei, maar om verskeie redes waarop ons later dieper sal ingaan, het die proses mettertyd versand.”
Bossie, wat het gebeur dat julle toe vanuit ‘vasgeval’ wees, skielik weer nuwe lewe begin kry het?
“Die ‘tipping point’ was toe die Maitland Gemeenskapskerk ‘n paar jaar gelede afgebrand en daar skielik nuwe energie ontstaan het. Ds Juanita Greyvenstein, destydse leraar van die Maitland Gemeenskapskerk, het toe die proses met Communitas brandend gehou en na die VGK Maitland uitgereik. Alhoewel die Maitland Gemeenskapskerk aanvanklik nie met die VGK Maitland wou skakel nie, het ds Greyvenstein die brug tussen die twee gemeentes volhardend verder help bou.
“Voordat sy ‘n beroep as leraar by die Krugerwildtuin-gemeente in Skukuza aanvaar het, het die Maitland Gemeenskapskerk se kerkraad toe ‘n versoek aan die sinode gerig om die proses te help begelei. Die twee PSD’s, ds Stephen Pedro en ds André Agenbag, is toe vir die proses getaak.
“Aangesien ds Agenbag dit om verskeie faktore nie kon bybring nie, is ek toe versoek om die proses namens Communitas in samewerking met ds Pedro te begelei.
“Ons het wonderlike momente met ‘Wandel in die Woord’-sessies tydens gesamentlike byeenkomste van die Maitland Gemeenskapskerk en die VGK Maitland ervaar.
“Daar is toe met mening begin fokus op die fasilitering van die kerkeenheidsproses. Ek het gou agtergekom dat, alhoewel byna almal bruinmense is, daar (buiten die twee kerkkulture) ook verskillende bruinmenskulture is; iets wat die hele proses baie kompleks kon maak.”
Hoe het julle toe die pad vorentoe aangedurf, Bossie?
“My voorstel was dat daar, in samewerking met die PSD’s, ‘n brugpredikant aangestel moes word om hulle in hierdie interim tydperk te kon begelei na kerkeenheid. Dit sou in samewerking met die twee ringskonsulente, ds Helgard Pretorius van die NG Kerk Pinelands en ds Aubrey Marais van die VGK Moria Tiervlei, Ravensmead, gedoen word.
“Die proses vanuit Communitas is deurentyd in samewerking met dié twee ringskonsulente gedoen. Die twee ringe was dus goed ingelig toe ek die ervare ds Andrew Esterhuizen as leraar voorgestel het om die kerkeenheidsproses te begelei.
“Uiteindelik, na al die prosesse, het dit uitgeloop op ‘n brugskap waar die twee gemeentes begelei sou word tot een gemeente.”
Die voorafgaande proses tot kerkeenheid was natuurlik van groot belang. Ds Andrew Esterhuizen vertel meer.
“Na my aftrede in 2017 as leraar van die VGK Kraaifontein, is ek as brugleraar na die NG Kerk Touwsrivier beroep. Dit was ‘n 60%-kontrakpos, aangesien die gemeentefondse uitgeput was. My opdrag was tweërlei van aard. Eerstens moes ek leraar van die gemeente wees. Tweedens moes ek help om multikulturaliteit te ondersoek met die moontlikheid om een gemeente met die VGK Touwsrivier te vorm.
“Nadat ek in Augustus 2017 daar begin het, het amptelike eenwording tussen die VGK en die NG Kerk na drie jaar op Hervormingsondag, 25 Oktober 2020 plaasgevind.
“Daarna het die kerkraad my versoek om aan te bly om die saamgevoegde gemeente verder op hierdie nuwe pad te begelei. Die NG Kerk se Ring van Worcester het daartoe ingestem, maar volgens sinodale reëls kon ek net tot ouderdom 70 jaar as brugleraar in die NG Kerk dien. In April 2023 is my kontrak toe dus beëindig.”
So, hoe het jy toe by Maitland betrokke geraak?
“In Julie 2023 het die twee konsulente, ds Pretorius (NG Kerk Pinelands) en ds Marais (VGK Moria Tiervlei), my genader om hulle met die kerkeenheidsproses in Maitland te help. Die redes daarvoor was dat (volgens hulle) hulle eerstens nie die ervaring of kundigheid ten opsigte hiervan gehad het nie en dat hulle tweedens ook nie die tyd gehad het om aan so ‘n proses aandag te kon gee nie. Albei is voltyds predikante en ds Marais is boonop konsulent in hul ring van sewe gemeentes.
“Dit is opgevolg met ‘n gesprek en aanbieding waartydens ek my werkswyse ten opsigte van kerkeenheid uiteengesit het. Ek het verduidelik dat dié reis op twee spore loop; dis ‘n tweebaan-proses. Ten eerste moet so ‘n kerkeenheidproses aan die kerkregtelike raamwerk se vereistes voldoen en tweedens is dit ten diepste ‘n kwessie van goeie verhoudings, met ander woorde hoe kon ons help dat die eenheid nie net op papier bestaan nie, maar ook sigbaar in die verhoudings tussen die lidmate sou wees. Hierdie voorstel is toe deur beide gemeentes aanvaar.
“Daarna is ‘n taakspan saamgestel uit die twee gemeentes wat die proses saam met my sou help bestuur.”
Andrew, hoe het jy toe te werk gegaan om die kerkregtelike proses aan die gemeentes te verduidelik?
“Ek het besluit om met hierdie ingewikkelde onderwerp ‘n eenvoudige benadering te volg. Ek het weggespring deur dokumente wat betrekking het op kerkhereniging tussen die NG Kerk en die VGK saam met die taakspan te lees. Aangesien ek besef het dat die twee gemeentes nie goed ingelig was oor die prosesse en besluite wat reeds geneem was rondom kerkhereniging op algemene sinodale vlak nie, het ek afdrukke van die dokumente gemaak.
“Dokumente soos die Memorandum van Ooreenkoms en die roetekaart ten opsigte van kerkhereniging wat tussen die moderature van die VGK en NG Kerk alreeds in 2012 voorgestel en aanvaar is, het ek sin-vir-sin saam met die taakspan gelees.
“Daar was algemene verbasing en verstomming by die lidmate en kerkraadslede daaroor; dat die kerke hulle al sedert 2012 daartoe verbind het en daar nog so min gemanifesteer was.
“Daarmee saam het ek ook die teks van die Tussenorde gelees. Die Tussenorde is in 2015 opgestel deur die moderature van die NG Kerk en die VGK se algemene sinodes met die doel om die kerkregtelike raamwerk daar te stel waarvolgens gemeentes, ringe, streeksinodes en algemene sinodes een kan word.
“Dit is iets wat nie voorheen bestaan het nie, so kerkeenheidsinisiatiewe het in die vroeg-1990’s en 2000’s doodgeloop omdat die kerkregtelike raamwerk nie in plek was nie. Een voorbeeld daarvan is die twee gemeentes van die VGK en NG Kerk in Wynberg. Die eenheidproses is telkens kerkregtelik gestuit en die pogings het versand.
“In die Tussenorde word die proses van eenwording van gemeentes, ringe en sinodes beskryf, so dit was vir my nodig om hierdie dokument wat van kardinale belang is met die twee gemeentes te bespreek. Dit het aan hulle gemoedsrus gegee, want dit bevestig aan die gemeentes en kerkrade dat ons nie hier in ‘n vreemde proses ingaan nie; dis reeds goedgekeur deur die kerklike strukture. Ons is veilig; daar is sekuriteit.
“Daar is alreeds in 2017 deur die moderature van die VGK en NG Kerk ‘n pastorale brief, onderteken deur die moderators, landswyd uitgestuur om gemeentes aan te moedig om daarmee te begin werk sodat kerkeenheidsprosesse kon begin vlamvat.
“Die twee Maitland-gemeentes het dus nou die kerkregtelike agtergrond van die kerkeenheidsreis gehoor en was deeglik ingelig.
“Boonop het ek hulle ook ingelig oor die Wêreldraad van Kerke wat berig dat daar oor die afgelope 200 jaar alreeds vyftig kerke so verenig is (oikoumene.org, United and Uniting churches) op grond van Christus se gebed in Johannes 17:21 ‘Ek bid dat hulle almal een mag wees, …’ Dit moet ons motivering en dryfkrag vir kerkeenheid wees.”
Die insette van die taakspan was sekerlik onontbeerlik op hierdie eerste spoor van dié tweebaan-proses, né Andrew?
“Ja, beslis! Die taakspan was toe verantwoordelik om in terme van die Tussenorde ‘n ooreenkoms tussen die twee gemeentes op te stel sodat hulle amptelik een gemeente kon word.
“Volgens die Tussenorde moet daarin die volgende uitgestippel word: die naam van die gemeente, hoe eredienste ingerig gaan word, standpunte oor hul plaaslike konteks, oor lidmaatskap, finansies, geboue, ensovoorts.
“Op 1 September verlede jaar het hulle my ‘n kontrak van een jaar aangebied om die twee gemeentes met hul kerkeenheidsproses by te staan.
“Aan die einde van Desember is ‘n konsepooreenkoms opgestel wat die interne taakspan aan die begin-Februarie vanjaar bekragtig het. Op 9 Maart is dit aan die gesamentlike kerkraad voorgelê en goedgekeur. Nadat die gemeentes ingestem het, sal dit na die betrokke VGK- en NG Kerk-ringe vir goedkeuring gestuur word. Sodra dit goedgekeur word, kan die twee gemeentes ‘n datum bepaal en binne die volgende paar maande amptelik een gemeente word.”
__________________________________
Volgende keer gesels ons graag oor die verhoudingsbou-aspek, Culture Connect, as die tweede spoor van hierdie tweebaanproses.
__________________________________
Kontak ds Andrew Esterhuizen by andrew.esterhuizen@gmail.com of ds Bossie Muller by whb.muller@gmail.com vir meer inligting.
