Ons by Straatwerk is dankbaar vir die Alabaster Jar-span (VSA) wat ons bekend gestel het aan uitreik na vroue vasgevang in prostitusie wat op die internet adverteer.

Ons kry die vrou se naam en nommer, bid vir haar en stuur dan ‘n kort boodskap, byvoorbeeld: “Ons is ‘n groep vriende wat jou wil herinner dat Jesus lief is vir jou en ons wil graag vir jou bid.” Ons is hoopvol oor elke saad wat so gesaai word.

Patience het, in ‘n desperate situasie waar ses kinders en drie volwassenes in ‘n saamgestelde gesin broodhonger gely en in ‘n
tweekamer-bungalow gewoon het, ‘n slagoffer van huishoudelike mensehandel in Durban geword. Daarna het vriende haar na Kaapstad genooi vir ‘werk’ in ‘n gastehuis, wat toe prostitusie was, iets wat sy glad nie wou doen nie.

Sy het nie op ons boodskap reageer nie, maar daarna drome van die Here gekry waarin Hy vir haar sê haar liggaam is sy tempel.
Ná verskeie sulke drome het sy ons gekontak. Van toe af tot nou is haar pad een van Kerk-in-aksie.

Christene by ‘n anti-mensehandel-organisasie en die seksuele trauma-eenheid het haar ondersteun. Ná ‘n paar dae by ons is sy, met finansiële hulp vir kos en die begin van ‘n klein besigheid, terug na haar land.

Daar was ‘n selgroep se omgee deur gebed en ondersteuning, ‘n sendeling se netwerk en ‘n plaaslike egpaar
se herderlike sorg die antwoord op haar gebedsversoek: “We have nothing to eat as we speak!”

Sy Liggaam is die mooiste, veelkleurigste antwoord op desperaatheid.