September is die maand waarin die kerk oor die wêreld die Seisoen van die Skepping vier. Die Seisoen begin op 1 September en eindig op 4 Oktober wanneer die Katolieke Kerk die Fees van St Fransiskus van Assisi vier.

Daar is vreeslik baie op die ekologiese kalender in hierdie seisoen:

  • Dit is onder andere die maand vir die plant van bome.
  • Die 16de tot die 21ste is in Suid-Afrika die tyd wat ons fokus op Skoonmaak en Herwinning.
  • Die 16de fokus die internasionale gemeenskap op die beskerming van die Osoonlaag in die aarde se atmosfeer.
  • Die 20ste is Herwinningsdag in Suid-Afrika.
  • Op die 21ste fokus ons internasionaal op Vrede en die noodsaak vir Zero Vrystellings van skadelike kweekhuisgasse in die atmosfeer.
  • Die 21ste is ook internasionaal die dag vir die skoonmaak van die wêreld se strande.
  • En die 22ste is Wêreld Renosterdag.

Ek wil graag twee spesiale gebeurtenisse wat in Kaapstad hierdie maand plaasvind, uitlig en sterk ondersteun:

  1. In 2018, ‘n jaar gelede, het die 15-jarige Greta Thunberg met ‘n eenmens-skoolstaking op die grond voor die Sweedse Parlement begin waarin sy aangedring het daarop dat die Sweedse regering wys dat hulle verstaan dat klimaatsverandering ‘n ernstige krisis is en dat hul dienooreenkomstig moet optree. Haar dapper staking het die aandag van ander studente oor die wêreld getrek en hulle geïnspireer om dieselfde te doen. En so het ‘n beweging ontstaan wat bekend staan as Fridays for Future. Elke Vrydag is daar iewers in die wêreld ‘n staking deur skoolgaande studente wat vra dat politieke en ekonomiese leiers luister na die wetenskaplikes, en klimaatsverandering as ‘n krisis hanteer. Op Vrydag 20 September 2019 nooi hierdie groeiende groep jongmense die grootmense van die wêreld om saam met hulle te staak. U kan by hierdie skakel sien wat vir Kaapstad beplan word vir hierdie dag: http://thegreentimes.co.za/event/global-climate-strike-cape-town/.

Greta het haar staking van skoolgaan soos volg verduidelik

As die grootmense van hierdie wêreld nie wys dat hulle ernstig is oor die bewaring en beskerming van lewe op  aarde nie, kan hulle nie van haar (en die ander jeug) verwag om in die skool te sit en hulleself voor te berei vir die toekoms nie. Watter toekoms?

Sy sê dat die wêreld waarin sy woon baie vreemd en eienaardig is. Dit vra op die oomblik van haar en die ander skoolgaande jeug van die wêreld om hul skoolopleiding op te offer ter wille van hul eie toekoms.

Luister na haar merkwaardige TED-praatjie voor ‘n gehoor in Stockholm hier: https://www.youtube.com/watch?v=EAmmUIEsN9A.

Hierdie jongmense verstaan dat klimaatsverandering hul toekoms in ‘n krisis dompel en hulle roep ons op om wakker te word en saam met hulle by ons politieke en ekonomiese leiers daarop aan te dring dat hulle dringend maatreëls tref om die vrystelling van skadelike kweekhuisgasse te beëindig – nie wanneer dit hulle pas nie, maar onmiddellik.

  1. Tydens 25 tot 29 September hou die gemeenskap van Taizé in Frankryk hul jaarlikse Pilgrimage of Trust-byeenkoms in Kaapstad. Hulle het ‘n jaar lank in Kaapstad aan hierdie byeenkoms beplan. Dit is ook ‘n byeenkoms van die jeug. Tussen 7 000 en 8 000 jongmense tussen die ouderdom van 18 tot 35 jaar vanuit Afrika en ander lande buite Afrika se grense gaan dit bywoon. Vir meer inligting oor dié byeenkoms kan u die volgende webtuiste besoek: https://www.taize.fr/en_article26114.html. Die webtuiste sê o.a. die volgende oor die doel van die byeenkoms:

The 2019 September pilgrimage of trust will be an opportunity to discover the Nelson Mandelas of today. There are a good number of projects, led by NGOs, churches, or simply small groups of individuals which put solidarity into practice…  It will be a contribution to celebrating and supporting the hope which South Africa already embodies.”  

Ek het die voorreg gehad om in 2006 die gemeenskap van Taizé in Frankryk te besoek. Dit was ‘n buitengewone ervaring. Van toe af was ek nie meer angstig oor die jeug van die wêreld nie. En die bydrae wat Taizé maak om die jeug te ondersteun met die uitdagings wat hulle konfronteer is eenvoudig besonders. En hierdie jaar het ons die wonderlike voorreg om hulle in Kaapstad te hê.

Een ding staan soos ‘n paal bo water: Ons gaan die ekologiese uitdagings wat klimaatsverandering veroorsaak net suksesvol kan aanspreek as ons saamstaan. Beide bogenoemde byeenkomste gaan ons hiermee help. Kom ons ondersteun dit met gebed in aksie.

Vrede vir u en u omgewing.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com