Ek het familie wat in die Karoo boer. Die ergste droogte in 100 jaar beproef hulle uithouvermoë. Sommige boere kry so swaar dat hulle nie meer kos vir hul eie huishoudings kan koop nie. U kan by http://bit.ly/2BiaJPm van hulle swaarkry lees.

My skoonsus vertel van die springbokkies wat op hul plaas van honger sterf, omdat die veld nie meer vir hulle kos het nie. Hulle drink saam met die skape by die krip water, maar hulle eet nie die skape se voer nie.

Omdat die Karoo nie reën kry nie, kry almal en alles wat daar woon baie swaar.

Hoe wys ons dat ons vir hulle omgee?

Verskeie projekte is reeds aan die gang om die mense en diere wat as gevolg van die droogte swaarkry, te help. ‘n Klompie vroue van Sutherland het ‘n projek “Save the sheep” begin. U kan by http://bit.ly/31kTcRp meer hieroor lees.

En dan is Diaconia (www.diaconia.co.za: die NGK/VGK se gesamentlike diens van omgee) ook besig met die insameling van R3 000 000 om die dertig gemeenskappe wat die swaarste kry elk met  R100 000 by te staan.

Die droogtes wat ons hier aan die suidpunt van Afrika beleef en wat volgens alle aanduidings erger gaan word, is die gevolge van klimaatsverandering. As ons hierdie verband raaksien en erken, maak dit vir ons baie moontlikhede oop om te kan help.

Die veranderinge in die klimaat wat ons wêreldwyd ervaar, is grootliks die gevolge van die lewenswyse wat ons as mense sedert die Industriële Revolusie ontwikkel het, nl. die kultuur van verbruik (consumerism). Die Industriële Revolusie het redelik gou tot gevolg gehad dat daar te veel produkte geproduseer is. Die aanbod was heelwat hoër as die aanvraag.

Om dié probleem aan te spreek, is die verbruikers gestimuleer om meer goed aan te koop, sodat die industrieë nie met te veel produkte opgeskeep sit nie. ‘n Doelbewuste poging is aangewend om behoeftes by die verbruikers te skep wat sou maak dat hulle meer produkte sou aankoop. Die advertensiebedryf is hiervoor ingespan. Mense word met advertensies gebombardeer (dit voel vir my bietjie soos ‘n oorlog!) wat sielkundig fyn uitgewerk word om die kyker of leser daarvan te oortuig dat hy/sy nie sonder die produk kan klaarkom wat geadverteer word nie.

Voor die Industriële Revolusie het mense oorwegend produkte aangeskaf waarsonder hulle nie kon klaarkom nie. Sedert die Industriële Revolusie het produkte egter by gebruikswaarde ook status- en magswaarde gekry. Ons koop dus nou ook produkte vir die aansien en mag wat dit vir ons gee. Die verbruikerskultuur is ‘n vennootskap tussen industrie en verbruiker. Die industrie onderneem om produkte te ontwikkel en te produseer en die verbruikers onderneem om die produkte te koop en te gebruik. Die industrie gebruik grondstowwe vir die vervaardiging van al die produkte wat op die mark beskikbaar is.

Een van die industrieë wat groot hoeveelhede grondstowwe gebruik en ‘n baie groot bydrae maak tot klimaatsverandering, is die transportindustrie. Nie net word baie grondstowwe gemyn vir die bou van voertuie nie, maar fossielbrandstowwe is nodig om hulle in gebruik te hou. En as ons hulle gebruik, stel hulle op hul beurt koolstofdioksied vry wat die kweekhuisgas is wat die grootste bydrae tot klimaatsverandering maak.

Hierdie relaas is net om aan te toon dat daar ‘n direkte verband tussen ons lewensgewoontes is (veral ons transportgewoontes!) en die droogte in die Karoo (en alle ander droogtes). Indien ons wil help om die droogtes te verlig, sal ons ligter moet lewe.

Die eerste twee projekte wat ek hierbo genoem het, gee aandag aan die simptome van klimaatsverandering. Die keuse om doelbewus ‘n lewe van eenvoud te leef, gee aandag aan die oorsake van klimaatsverandering. Ons behoort elke keer as ons planne maak waarin ons vervoer nodig het aan die droogtes in ons land te dink, wetende dat elke keer as ek my motor aanskakel of openbare vervoer gebruik ek die kans op erger droogtes groter maak.

My lewenstyl het ‘n direkte impak op die omgewing – plaaslik en globaal. ‘n Lewe van eenvoud maak die impak van my lewe ligter. Ry en vlieg so min as moontlik. Dit sal help om klimaatsverandering in toom te hou en dit is ‘n wonderlike manier om vir die mense in ons land wat droogtes beleef, te wys dat ons regtig omgee.

Vrede vir julle en jul omgewings.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com