Ek kry baie min reaksie en terugvoer op my artikels in VrydagNuus. Daarom was ek opgewonde oor die drie persone wat gereageer het op ‘n vorige artikel: Daar is nie hoop nie. Dankie!

Dit is inderdaad so dat sommige wetenskaplikes toenemend skepties is oor die moontlikheid dat ons tog wel die aarde kan red van ‘n weghardloop toename in temperatuur en die noodwendige uitwissing van lewe soos ons dit ken as resultaat.

Intussen is daar ander wat daarvan oortuig is dat hulle ‘n oplossing gevind het vir die ekologiese probleme van die wêreld. Een van die persone wat op “Daar is nie hoop nie” reageer het, het my aandag gevestig op “permaculture” as ‘n lewenswyse wat radikale positiewe en hoopvolle resultate het. “Permaculture” het dit reggekry om grond wat totaal uitgeput en oënskynlik leweloos verniel is deur die mens weer te herstel deur die ekologiese sisteme te ondersteun. Hier is die twee Youtube-bydraes se skakels wat sy vir my gestuur het: http://bit.ly/33W0hJL en http://bit.ly/33XKABY. Dit vertel die verhaal van hoe die woestyn in Jordanië verander is in ‘n lushof. Kyk dit gerus. Dit is inderdaad goeie nuus.

“Permaculture” is ook in Suid-Afrika georganiseer en werksaam. U kan hulle by die volgende webtuiste gaan besoek:  http://www.permaculturesouthafrica.co.za/.

Daar is inderdaad vir ons almal vele maniere om op betekenisvolle wyses die boodskap van hoop te dra deur nie in sak en as te gaan sit nie, maar lewe-gewend en lewe-ondersteunend te leef. “Permaculture” is een van die maniere om dit te doen. En jy hoef nie ‘n boer te wees om dit te doen nie. Jou eie lappie grond – hoe klein ookal – is goed genoeg.

Ag, as ons almal tog maar net weer tuiniers wil word!

Vrede vir julle en jul omgewings.

KONTAK

David P Botha
dpbotha2@gmail.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *