Jesus se hemelvaart is deel van God se aardevaart. Net ‘n klein rukkie, “skei” Jesus se hemelvaart van die uitstorting van die Gees van die Vader en die Seun. Alles wat God doen, is ‘n bevestiging van die feit dat God Immanuel is en nog altyd was. In Jesus Christus en deur die Gees is die hemel en die aarde een werklikheid. Jesus verlaat dus nie die aarde vir die hemel nie. Hy “verlaat” slegs die beperktheid van die menslike liggaam van die individuele mens, Jesus van Nasaret, om dan deur die inwoning van die Gees van God (soos van ewigheid af in elk geval) onbeperk teenwoordig te wees in alles en in almal.
Daarom stuur Jesus sy dissipels aarde toe as Hy uit hulle gesigsveld “opwaarts” verdwyn (Hand 1:8,9). Hulle roeping lê “in Jerusalem … tot aan die einde van die aarde” en nie in ‘n dromende verlange na die hemel nie. Ons roeping is nie om siele vir die hemel voor te berei nie. Ons roeping is om oorgegee met God mee te werk vir vrede (hemel) op aarde. Wie duskant die dood vir vrede op aarde werk, het ook vrede anderkant die dood.
Dit lyk my die omgekeerde is ook waar: Wie nie vir die aarde omgee nie, sal ook nie die hemel waardeer (ingaan) nie. Daarom dat Jesus die liefde vir God en ons naaste as een aan ons voorhou. Nee, Jesus verlaat nie die aarde nie. In die Gees versadig God die aarde met die teenwoordigheid van Jesus, die Christus. Halleluja!
Vervul met die Gees, stuur Jesus Christus ons ook aarde toe om oral waar ons woon, leef en werk makers van vrede te wees. Vrede op aarde is minder die afwesigheid van konflik as die teenwoordigheid van liefde (reg en geregtigheid) vir ALLES wat God gemaak het – daarom ook vir die mens.
Maar dan ook nie net vir ons wat vandag leef nie, maar ook vir alles wat nog gebore moet word. Hoe lyk die toekoms vir hulle wat nou babas is en die wat nog gebore gaan word? Gaan hulle nog ‘n aarde hê om op te woon? Leefbaarheid is voorwaarde nommer een vir vrede op aarde.
Die eko-joernalis David Wallace-Wells se artikel in The New York Magazine wat in Aprilmaand se Green Times verskyn het, gee ‘n antwoord op dié vraag (http://thegreentimes.co.za/when-will-climate-change-make-earth-too-hot-for-humans/). Die verwarming van die aarde se atmosfeer tot by die punt waar mense nie langer sal kan leef nie word ‘n al groter moontlikheid. As ons die proses van aardverwarming nie tot ‘n leefbare vlak vir die mens kan beperk nie, gaan ons letterlik dood kook. En lugverkoelers gaan ons nie red nie!
Wetenskaplikes reken dat dié moontlikheid só groot is dat geen plan om gasvrystellings vanweë menslike aktiwiteit in te kort dit meer sal kan keer nie. Die proses is al te ver gevorder en het ‘n momentum van sy eie gekry. Ons sal baie meer moet doen. Nuus soos dié laat ons maklik magteloos voel. Tog is ons glad nie magteloos nie. As ons elkeen sy/haar deel doen, maak ons ‘n reuse-verskil. Dit is immers ons daaglikse optrede wat die wêreld help skep het wat ons nou het en wat ook gaan help bepaal hoe die wêreld gaan lyk wat ons kinders en kleinkinders erf. Hierdie is eintlik ‘n toets vir hoeveel ons omgee vir ons nageslag en ons gehoorsaamheid aan Jesus se liefdesopdrag.
Daar is so baie wat ons kan doen:
1. Dit begin eerstens by die erkenning dat ons ‘n krisis op hande het.
2. Tweedens vra dit van ons om ons lewensgewoontes by hierdie waarheid aan te pas. Die verhoging van koolstofdioksiedvlakke in die aarde se atmosfeer is die groot (nie enigste nie!) faktor wat die aarde se temperatuur opjaag. As ‘n mens egter kyk na mense se ry- en vlieggewoontes lyk dit asof hierdie feit eenvoudig nog nie by die meeste mense enige noemenswaardige impak gemaak het nie.
3. Nog iets wat ons kan doen, is om baie mooi te kyk na ons selfoonverbruik. Die impak van die vervaardiging van selfone het ‘n baie groter effek op die welstand van die aarde as wat ons dink. Lees gerus hier daaroor https://thegreentimes.us6.list-manage.com/track/click?u=1aff57446778cf5e8fdd9be4d&id=430f68c6a2&e=8c8afc13ad. Ons moet mooi dink oor ons selfoonkontrakte en die gereelde vervanging van ons selfoon(ne). Die vervaardiging van selfone maak o.a. ‘n groot bydrae tot die verhoging van koolstofdioksied-vlakke in die aarde se atmosfeer. Die skep van kunsmatige behoeftes dryf die wêreld se ekonomie. Dit geld ook vir die selfoonmark. Selfone word doelbewus gemaak om nie langer as 5 jaar te hou nie (gelukkig hou myne gewoonlik langer). Die kontrakte word doelbewus vir twee jaar gesluit om kunsmatig seker te maak dat die aanvraag bly groei. Ter wille van die aarde en ons nageslag behoort ons dit te oorweeg om nie met hierdie kunsmatige beleid saam te werk nie. Vervang liewer jou selfoon se battery as jy kan en gebruik jou huidige een tot hy kapot is, eerder as om “op te gradeer”. Weerstaan die begeerte om altyd die nuutste tegnologie te moet/wil hê.
4. As algemene lewensreël kan ons besluit om ons lewenswyse te vereenvoudig. Kom met minder klaar. Kort jou aankope van nuwe items in. Ondersteun die tweedehandse mark.
Ek is seker dat nie een van ons graag sal wil sien dat ons nageslag ‘n onvriendelike en vyandige aarde by ons erf nie. As ons nie ons lewenswyse drasties aanpas en vereenvoudig nie, is dit dalk presies wat hulle gaan kry.
Voorstelle en vrae vir nadenke:
1. Stel jou voor jy besoek die dokter. Gedurende die ondersoeke stel hulle vas dat jy terminaal siek is. Sal jy verkies dat die dokter eerlik met jou die waarheid deel of verkies jy om liewer nie te weet nie? Is jy bereid om die werklikhede rondom aardverwarming te lees en te hoor en jou lewe daarby aan te pas?
2. ‘n Liefdevolle ouer sal sonder om te skroom ‘n nier skenk vir ‘n eie kind wat ‘n nieroorplanting nodig het om te kan bly lewe. Dieselfde liefde behoort ons mos dan ook te motiveer om opofferings te maak ter wille van ‘n leefbare aarde vir ons nageslag. Wees tevrede met ‘n ou of tweedehandse selfoon. Koop eerder ‘n tweedehandse motor voor jy ‘n nuwe een aanskaf. Dit is sagter op moeder aarde – die enigste tuiste vir ons nageslag.
David Botha
nms Projekspan-Ekologie
dpbotha2@gmail.com