Die moedeloosheid het hierdie week amper by my die oorhand gekry. Daar is op die oomblik baie in die nuus wat ‘n mens moedeloos kan maak:
- Terwyl die Amazone-woude in Brasilië brand, is die leiers van Amerika en China besig met ‘n ekonomiese oorlog wat die wêreld se ekonomie in ‘n wurggreep het.
- Die meeste van die brande in die Amazone-woude is heel waarskynlik mensgemaak. Daar is al meer as 74 000 brande vanjaar daar waargeneem! Vir agtergrond oor die huidige brande kan u hier gaan kyk: http://bit.ly/2Zmsdsy
- Die Amazone-woude voorsien ongeveer 20% van die suurstof vir lewe op aarde en neem ‘n groot persentasie van die aarde se koolsuurgas uit die atmosfeer op. Die agteruitgaan van hierdie woude kan al ons pogings om aardverwarming tot 1.5° teen 2030 te beperk ernstig in die wiele ry.
- En toe die internasionale gemeenskap die Brasilianse president aanpraat en finansiële hulp aanbied om die brande te help blus, word dit van die hand gewys met ‘n houding en gesindheid wat ‘n mens se verstand te bowe gaan: “Ons is nie ‘n kolonie nie en die Amazone-woude behoort aan ons en nie aan julle nie.”
- Die kairostyd waarin ons leef, kan nie dwase leierskap bekostig nie. Ons het leiers en volgelinge nodig wat die belang van al die inwoners van die aarde op die hart dra en nie nasionale-, groeps- of eiebelang nie.
My moedeloosheid het gelukkig geleidelik weer plek gemaak vir hoop. Die hoop is o.a. in my aangesteek en aangevuur deur:
- Jan Frederik en Bokmakierie wat suiwer en helder die lente aankondig in ons tuin.
- Die roosbome en al die ander bome wat bot na hul winterslaap en die amandel- en perskebome wat vol belofte-bloeisels staan.
- En ‘n onderwyser van Riebeeck Kasteel wat saam met haar leerders nege sakke rommel agter hul skool se gronde gaan optel het uit liefde vir hul omgewing.
- Die dapper aktivisme van die jeug van die wêreld, o.a. onder leiding van die Sweedse sestienjarige Greta Thunberg wat onverskrokke die politieke en ekonomiese leiers van die wêreld konfronteer en uitdaag. Kyk asseblief na haar toespraak waarin sy emosioneel pleit by die Europese leiers om nie in hul leierskap te misluk nie: http://bit.ly/2Uj8zbb
- En Leonard Cohen wat nog op sy ou dag my help om te verstaan dat die krake in die lewe juis die plekke is waardeur die lig skyn. Luister na sy optrede in 2008 in London as hy sy bekende lied, Anthem, sing: https://binged.it/2MFEZLK
Leonard praat in 2008 in sy optrede van die “donker tye” waarin ons leef en Greta praat in 2019 oor “ons huis wat aan die brand is”. Nie een van hulle is egter moedeloos nie. Hulle sing en praat omdat hulle steeds hoop op ‘n positiewe toekoms. Hulle laat my dink aan Habakuk:
Al sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes misluk
en die lande geen oes lewer nie,
al sou daar geen kleinvee in die kampe wees nie
en die beeskrale sonder beeste wees,
nogtans sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God, my Redder. (3:17-18)
Ons moedeloosheid is soos krake in ons lewens. Dit is waar ons broos word en selfs stukkend breek. Maar dit is ook juis die plek waar hoop opnuut gebore kan word. Die hoop wat ons elkeen aanvuur om ons deeltjie te bly doen. En só bly ons dan self tekens van hoop vir almal wat ons ken wat ook deur moedeloosheid besoek word.
Dit sal dan ook dade van hoop wees wat die brande in die Amazone sal blus en aardverwarming sal tem.
Vrede vir julle en julle omgewings.
David P Botha
dpbotha2@gmail.com