Foto: https://www.groundup.org.za/article/immigrants-and-south-africans-march-together-hillbrow/

 

Die veelseggende titel van Martin Luther-King se boek, Where do we go from here: Chaos or Community (1968), spook by my. Nadat Suid-Afrika in 2008 tot stilstand geruk is deur xenofobiese aanvalle, wou ‘n mens hoop dat ons aanbeweeg het en beter verdaagsaamheid ontwikkel het, maar helaas.

Die velerlei redes vir die nuwe uitbarsting van geweld teen vreemdelinge is die afgelope dae herbesoek en stofgetrap. Waarom is dit so moeilik vir Suid-Afrikaners, gegewe ubuntu, om die vreemdeling in ons midde te verwelkom? Om die vraag te beantwoord, moet ons eers ‘n stappie terug gee.

Die Afrika wat ons vandag sien, het ‘n hartseer geskiedenis. Neem maar net ons grense as voorbeeld. In 1885 het Otto von Bismarck diplomate van sestien westerse lande genooi om in Berlyn byeen te kom om Afrika te verdeel. Dit is oor ‘n tydperk van ses maande gedoen. Die grense wat toe getrek is, dikwels kunsmatig, lyk vandag grootliks nog so. Mense wat saam hoort, is verdeel en mense wat op etniese gronde dalk beter in verskillende lande sou pas, is saamgevoeg.

In Suid-Afrika het daar tydens apartheid ‘n verdere kunsmatige verdeling tussen ons en die res van Afrika ontstaan. Terwyl baie Afrikalande die vryheidstryd ondersteun het, het die regering seker gemaak dat daar ‘n deeglike skeiding tussen Suid-Afrika en die res van Afrika gehandhaaf word. Afrikane (wit en swart) is so oor dekades van mekaar vervreem.

Terwyl die pleidooi vir ‘n verenigde Afrika baie sin maak, is duisende Afrikane in ‘n oorlewingstryd vasgevang. ‘n Gebroke verlede en ‘n gebroke hede maak dinge nie makliker nie. Die volgende mag ons dalk nader aan ‘n oplossing bring:

Ons het al voorheen verwys na die opdrag aan Israel om die vreemdelinge in hul nuwe land te versorg (Deut. 10), omdat hulself ook maar vreemdelinge en immigrante was.  Ons moet onthou dat, afgesien van die eerste inwoners, die meerderheid Suid-Afrikaners eintlik almal maar “immigrante” en “vreemdelinge” is.

Geen land wat werklik ekonomies wil groei, kan sonder die kundigheid en vaardighede wat immigrante meebring nie. Anders gestel: ‘n Somaliër wat uit haglike omstandighede die reis suksesvol na Suid-Afrika aflê, toon alreeds ‘n vorm van moed, entrepreneurskap en deursettingsvermoë. Daar is ook talle Zimbabwiërs wat ‘n reuse-bydrae lewer tot die land. Ons het meer sulke mense nodig.

Afgesien van ons Christelike roeping om die vreemdeling te verwelkom, moet ons egter die konkrete vraag vra oor hoe ons dit in Suid-Afrika gaan regkry om ‘n veelvoud van kulture in een land in harmonie te laat saamwoon. Ons benodig waardegedrewe leiers, wat nie een kultuur op almal probeer afdwing nie, maar wel een gemeenskaplike waardestelsel vestig. In Handelinge 2 vind ons nog ‘n antwoord met die uitstorting van die Heilige Gees. Die vroeë kerk kon hul eenheid in Christus, te midde van diversiteit, vier!

Braam Hanekom
Direkteur van die Sentrum vir Publieke Getuienis
braam@kaapkerk.co.za