Rommel optel is nie iets wat ‘n mens vir jou plesier doen nie. Daar is niks plesierigs daaraan nie. Inteendeel, dit is ‘n morsige affêre.

Vier uit ons gesin het die afgelope Sondag drie leë kompossakke gevat en die omgewing van  Tulbagstasie se perron gaan verlos van die rommel wat mede-Suid-Afrikaners daar rondgestrooi het. Ons wou graag ‘n bydrae maak tot Suid-Afrika se “skoonmaak en herwin”-week. Ten spyte van die handskoene was dit maar ‘n grillerige saak. Binne twintig minute was ons drie sakke vol. Die inhoud het my verras – en tog ook nie.

Op pad stasie toe moes ons al sigaretstompies in die straat voor ons bure se agterhek optel. By die perron self is ons begroet deur glasbottels en blikkies en papiersakkies wat al vir jare daar lê. Die meeste daarvan was onder die bome ingegooi. (Ons dink mos as ons iets so weggooi dat ons dit nie meer kan sien nie, dan is dit weg!) Ons jongste was die een wat ‘n vuil babadoek “ontdek” het. Dit is een van die aakligste dinge wat jy vir jou medemens wat rommel optel, kan los. Sies! En dan is dit nog onherwinbaar ook. Onder een van die bosagtige bome het ek ‘n klomp bottels (baie van hulle stukkend en uiters gevaarlik vir sny) uitgegrawe. Die meeste van hulle was bier- en wynbottels. Tussen al die plastieksakkies begroet ‘n kondoom my.

Daar lê nog hordes rommel by die stasie, maar ons sal ‘n volgende keer weer verder kom optel. Ons sakke is nou eers vol en amper te swaar om te dra. Terug by die huis het ek my hande ten minste twee keer met kiemdodende seep gewas. Dit het egter nie die vuil gevoel weggevat nie.

Na hierdie blootstelling het twee vrae in my kop bly maal:

  • Wat sê hierdie rommel oor die Suid-Afrikaanse kollektiewe psige en hoe moet ek daarop reageer?

Ek weet dat ‘n huishouding se vullissakke vertel wat die voorliefdes en waardes van die mense is wat deel van die huishouding uitmaak. Dieselfde geld sekerlik ook vir die rommel wat ons Suid-Afrikaanse huishouding op ons strate en in die veld strooi. Ek sou na die inhoud van die drie sakke rommel kon kyk en dan veroordelend my mede-Suid-Afrikaners hel toe kon stuur, omdat hulle so morsig (sondig!) lewe. Of ek sou na die sakke rommel kon kyk en die nood van my mede-Suid-Afrikaners raaksien. Die nood wat dieselfde nood is as die nood van diegene in Jesus se tyd oor wie hy gesê het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Dalk sal dit my help om te kies om hulle eerder te help om hul kruis te dra as om hulle veroordelend te kruisig.

  • Hoekom sal ‘n mens jou medemens se gemors optel en dit aanhou doen?

Ons rommel weerspieël die toestand van ons binnekant. Dit maak deel uit van ons innerlike skaduwee. En alle mense is geneig om hulle skaduwee te ontken en te onderdruk. Ons kies om dit nie raak te sien nie. Ons doen dieselfde met ons rommel. Ons kies om dit nie te sien nie en wanneer ons dit dalk raaksien, kies ons om dit te ignoreer.

Ons rommel is sleg vir die omgewing en ander vorme van lewe. Soos dit afbreek, word dit deel van die grond, ons ondergrondse water en die voedselketting. En so word alles rondom ons en in ons besoedel. Dit hou vir onsself groot gesondheidsrisiko’s in.

Ek tel dus om ten minste die volgende redes rommel op:

  • Om myself en my naaste te help om ons rommel vierkantig in die oë te kyk en verantwoordelikheid te neem vir die innerlike skaduwee wat dit in ons ontbloot.
  • Ter wille van die welsyn van alle vorme van lewe en ons eie gesondheid.
  • Dit is ook ‘n goeie oefening om te groei in nederigheid. Toe Mahatma Ghandi gekies het om sy lewe van welvaart te groet en in ‘n lewe van eenvoud deel van die armes te word, het hy van almal wat by sy beweging van nie-gewelddadige verset aangesluit het, verwag om te help om die toilette skoon te maak. En die Bybel vertel dat Jesus Christus nie aan sy goddelike posisie vasgeklou het nie, maar homself verneder het en die gestalte van ‘n slaaf/dienskneg aangeneem het (Fil. 2:1-11).

Dalk kan die optel van rommel my help om meer in die gestalte van Jesus in hierdie wêreld te beweeg.

Vrede vir elkeen van julle en jul omgewing.

Kontak

David P Botha
dpbotha2@gmail.com