“God is liefde,” sê die Bybel. En liefde is mededeelsaam. Die liefde gee graag.  Daarom gee God ook graag vir God self. En die manier waarop God vir God self gee, is deur te skep, want die liefde is kreatief.

Alle materie in die skepping in alle vorme is ‘n uitdrukking van God se liefde. Alles in die skepping (veelal) is dus individueel én saam die uitdrukking van God se liefde. God se liefde is egter niks anders as God self nie. Daarom kry ons met God self te doen in alles wat God gemaak het en nog steeds maak. Ons bely ook dat God heilig is. Daarom is die hele skepping en alles daarin heilig. Nie omdat dit vir God afgesonder is nie, maar omdat dit met die teenwoordigheid van die heilige God gevul is. Alhoewel God oneindig meer is as God se skepping, is die skepping onteenseglik uitdrukking van God. Ons kry dus met God self in die skepping te doen. Die implikasie hiervan is: wat ons aan enige deeltjie van God se skepping doen, doen ons aan God.

‘n Mens sou verwag dat mense wat van God die gawe van verstand gekry het en daardeur ook toegang tot hierdie waarheid, die skepping met deernis en respek sou behandel. En hier en daar sien ‘n mens inderdaad mense wat met hierdie insig en sensitiwiteit leef. Hierdie mense is dikwels nie lidmate van die Christelike geloof nie. Dit is egter verblydend om te sien hoe hierdie insigte besig is om in die kerk al sterker en sterker na vore te kom. Navorsing toon egter dat ‘n groot deel van die kerk oor die wêreld ‘n gebrek aan belangstelling toon en selfs weerstand openbaar teen inisiatiewe in die kerk om by ekologiese vraagstukke betrokke te raak.

Hoekom is dit?

Dit is ten minste onder andere omdat ‘n groot deel van die kerk navolgers geword het van ‘n denkwyse wat oorheers word deur die gedagte van skeiding (seperateness). Hierdie denkwyse beklemtoon verskil en andersheid in die skepping. Dit fokus dus op dit wat een verskynsel van ‘n ander onderskei en ook skei. In die kerk het hierdie klem daartoe gelei dat ons eensydig klem gelê het op die gedeeltes in die Skrif wat die verskil tussen God en God se skepping beklemtoon. Ons het byvoorbeeld veral klem gelê op God se heiligheid en die groot afstand wat daar tussen God en ons is. Uiteindelik het ons besluit dat God en ons op twee verskillende plekke woon: God in die hemel en ons op die aarde. En dat Jesus gebore is en gesterf het en opgestaan het om ons te kom haal, sodat ons ook by God in die hemel kan gaan woon. En as iemand sterf dan “troos” ons mekaar en veral ons kinders deur te sê: “Hy/sy is nou by die Here.” En daarmee sê ons dan eintlik dat ‘n mens net by die Here kan kom en wees nadat jy gesterf het. Ons skeidingsdenke het ons van God vervreem!

Die Bybel leer egter vir ons dat God een is met God se skepping. As Johannes vertel van God se koms in die mens, Jesus van Nasaret, dan is dit vir hom belangrik dat ons sal verstaan dat dit God self is wat as Jesus tussen ons kom woon het (Joh 1:1,14). En Johannes die Doper wys na Hom en sê: “Hy is God.” En Jesus noem ons Sy broers en susters – ook uit God gebore. God woon dus nie iewers elders in die hemel nie. God woon oral en in alles. En waar God is, daar is dit hemel.

Die uitdaging vir elke mens is om te leer om vir God oral te verwag en in alles raak te sien. Of ons uiteindelik hierdie ervaring beleef, hang grootliks af van ons oriëntasie. En hier kan ons baie by sonneblomme (helianthus) leer.

Hulle word sonneblom genoem, omdat hulle so baie na die son lyk. Hulle lyk egter nie net na die son nie. As deel van die Asterfamilie is hulle op die son georiënteer. Die jong sonneblomplant volg die son op sy gang deur die hemel. En as hulle begin blom dan bly hul blomme na die ooste gedraai – daar waar die son elke oggend verskyn. Dit is asof daar ‘n besondere liefdesverhouding tussen die son en die sonneblom is. Dié blom kan nie haar “oë” van die son af hou nie.

Saai gerus ‘n paar sonneblomme in jul tuin of pot en hou hulle fyn dop en leer by hulle hoe om net oë en ore vir God te hê.

Vrede vir julle en julle omgewings.

David P Botha
dpbotha2@gmail.com