Daar is goeie mediese en gesondheidsredes waarom dit goed is om te leer om ons kos en peusels met aandag te eet. Besoek gerus die volgende twee skakels hieroor: http://bit.ly/327Wo4F en http://bit.ly/37DHO67.

Daar is egter ook baie goeie ekologiese redes waarom dit goed en nodig is dat ons sal leer om ons kos met aandag te eet. Ek het reeds in Augustus verlede jaar ‘n bydrae hieroor geskryf (in Engels) wat julle by hierdie skakel weer kan lees: http://bit.ly/2Mtgu4y

Hier wil ek egter oor eet praat as die plek waar die vervreemding tussen die mens en sy ekologiese omgewing en God genees kan word. Baie mense se etenstye word daardeur gekenmerk dat hulle aandag, terwyl hulle eet, glad nie by die kos is wat hulle eet nie. Die boek/koerant/tydskrif wat hul lees of die gesprek wat hul voer of die TV-program wat hul kyk of die selfoonspeletjie wat hul speel, het al hulle aandag. As ‘n mens só eet, eet jy sonder om bewus te wees daarvan dat jy eet of te dink aan wat jy eet. Daar vind dus geen egte ontmoeting plaas tussen jou en die kos wat jy eet nie.

Wanneer ons eet, word ons fisies een met ons omgewing, want ons eet ons omgewing. Ander spesies wat God gemaak het, word ons kos; die kos waarsonder ons nie kan lewe nie. Hierdie spesies offer hul vrug of saad en selfs hul lewe op, sodat ons kan leef. Dit sal ons verhouding met die natuur goed doen as ons ons kos bewustelik en met aandag eet. Dit sal egter ook ons verhouding met God die Skepper goed doen, want dit is niemand anders nie as God self wat in elke maaltyd na ons toe kom om met ons gemeenskap te hê.

Oorweeg dit om die volgende deel te maak van elke etensgeleentheid:

  • Begin jul/jou ete met die volgende gebed: “Liefde, U kom na ons/my toe in hierdie ete. Help ons/my om U te ontvang. Amen.”
  • Gebruik ‘n minuut of twee om voor jy begin eet, na te dink oor die kos wat jy gaan eet. Wat lê op jou bord? Waar kom dit vandaan? Wat het dit gedoen voordat dit as kos op jou bord beland het? Wie was almal daarby betrokke om dit tot op jou bord te bring?
  • Indien jy saam met ander mense eet, maak seker dat julle vir die eerste vyf minute van die ete in stilte eet. Gebruik hierdie vyf minute om elke happie wat jy neem met aandag in jou mond te sit. Kou jou kos rustig en wees ingesteld op die smaak en geur van die kos. Laat die simfonie van geure en teksture na jou toe kom. Verlustig jou in die rykdom daarvan en die vermoë van jou smaakorgane om dit te geniet.
  • Wanneer julle na die vyf minute stilte begin gesels, probeer om steeds bewus te bly van wat en hoe jy eet.
  • Gebruik een of twee minute nadat jy klaar geëet het om bewustelik dankie te sê vir elke spesie wat bereid was om kos vir jou te wees en hulself op te offer vir jou lewe.
  • Sluit julle ete af met die volgende gebed: “Brood van die Lewe, help my om brood te word vir almal en alles rondom my wat honger is. Amen.”

Wat maak van die Nagmaal ‘n ontmoeting met die God van Lewe? Twee dinge:

  1. God se teenwoordigheid in die brood en wyn/druiwesap.
  2. My aandagtige teenwoordigheid wanneer ek die brood en wyn neem en eet en drink.

Dit is dieselfde twee elemente wat elke ete van ons ook ‘n ontmoeting met die God van Lewe kan maak.

Mag jul etes vrede bring vir jul en jul omgewing.

david p botha
dpbotha2@gmail.com