Klimaatsverandering het baie slagoffers. Kokerbome is een van die spesies wat dalk nie die verhoging in die aarde se temperatuur sal kan oorleef nie.

Ek was bevoorreg om vanaf 1983 tot 1985 predikant te kon wees vir twee VGK-gemeentes in die suide van Namibië, naamlik Keetmanshoop (Krönlein) en Karasburg. Dit is kokerboom-wêreld. Die baie bekende kokerboomwoud, wat intussen verklaar is tot een van Namibië se nasionale monumente, lê net 14 km buitekant Keetmanshoop. Dit was ‘n tyd van groot droogte. Só droog dat ons gesien het hoe kokerbome sterf van te min water. En om kokerbome te sien sterf van droogte was nie ‘n bekende gesig in dié omgewing nie.

My bediening het my al langs die Oranjerivier af gevat tot by Ariamsvlei. Oral waar ek gery het, het kokerbome langs die paaie gestaan. Ongelukkig was heelwat van hulle dood. Hulle vra nie baie water nie, maar kan darem ook nou nie met niks klaarkom nie. Ek het geleer om saam met dié bome te bid vir reën. Hulle welsyn het op dié manier deel geword van my bediening.

Sedert 1985 het ek verwyderd geraak van hierdie bome. Hulle was nie meer in sig nie en ek het opgehou om hul swaarkry raak te sien en dit met hulle te deel. Totdat ek vandag twee artikels gelees het wat my terug geplaas het agter die stuurwiel van die gemeentes se Isuzu-bakkie.

Ons is in 1985 uit Namibië weg met die hoop dat genoeg reën sal kom om die kokerbome te red van ‘n droogtedood. Groot was my teleurstelling en hartseer toe ek vandag lees dat die toekoms van die kokerboom as spesie in die weegskaal is. Die situasie het sedert 1985 vir hulle versleg. Die een artikel (http://bit.ly/2VGpMhl) toon aan dat ‘n studie wat in 2007 onderneem is, bevind het dat Suid-Afrika se kokerbome (Aloidendron dichotomum) “onder ‘n hoë sterftesyfer en swak voortplantingskoers gebuk gaan in hulle warm, droë noordelike verspreidingsgebied in Namibië as gevolg van verhoogde droogtestres”. Die ander artikel wat reeds in 2005 verskyn het (http://bit.ly/2TBzqPr) gee ‘n lys van faktore wat die kokerbome bedreig, maar lig dan veral twee faktore uit as primêre bedreigings: “Recently, two factors that threaten the sustainability of the aloes were identified as climate change and ‘wild crafted collections’ (trade). Indications are that climate change could cause a 50% reduction of the distribution range of Aloe dichotoma in the Northern Cape by 2050. Add to this the impact of the ‘collection’ of about forty-one Aloe dichotoma trees every month, and you have a problem.”

Ons was dus reeds in 1983 tot ’85 getuies van die impak wat klimaatsverandering in die suide van Namibië het op die voortbestaan van die kokerboom. Die tweede faktor, naamlik die oes van die bome vir die versamelaarsmark het egter ook indirek met klimaatsverandering te doen. Die bome was in 2005 al vir dié mark voorsien teen R2 000 tot R3 000 per meter. Die bome kan 9 tot 12 meter hoog groei. Een 9 m-boom kon dus vir tussen R18 000 en R27 000 verkoop word. En vir boere in die suide van Namibië en die Noord-Kaap, wat toenemend swaarkry onder die langdurige droogte, raak dit baie aanloklik om hulle kokerbome vir die versamelaarsmark aan te bied.

Klimaatsverandering bedreig die voortbestaan van kokerbome. Hoe kan ons hulle help? Ons kan alles in ons vermoë doen om ons koolstofvoetspoor so klein as moontlik te kry. Lees meer daaroor HIER.

Die belangriker vraag is egter: Wil ons hulle help? Gee ons genoeg vir hulle om?

Vrede vir die Here se kokerbome.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com