Daar is ‘n direkte verband tussen ons verstaan van wie Jesus Christus is en ons verstaan van ons plek in die ekologie en ons verhouding met die natuur.

‘n Belangrike moment het vir Petrus, Jakobus en Johannes aangebreek in hulle verstaan van wie Jesus was toe Hy hulle saam met Hom bergop gevat het (Matt. 17:1-8;Mark. 9:2-8;Luk. 9:28-36). Berge is in die Bybel dikwels ontmoetingsplekke tussen God en mense. En dié ontmoetings getuig almal van God se teenwoordigheid en betrokkenheid in sy skepping.

Wat opval in hierdie spesifieke ontmoeting is die opheffing van alle skeiding tussen hemel en aarde, gees en materie, lewe en dood, lig en donker. Die fokus is op Jesus van Nasaret. Wie is Hy? Hy is tegelyk Maria én God se seun. Hy is tegelyk mens én God. Hy het tegelyk ‘n menslike én goddelike voorkoms. Hy is tegelyk in gesprek met sy drie dissipels én met Elia en Moses. Hy het tegelyk kontak met hulle wat reeds dood is én met hulle wat nog lewe. In Jesus sien ons dat alle skeiding opgehef is. In Hom is alles een.

Ek dink Sheila Cussons help ons met haar gedig Verheerliking om te verstaan wat die drie dissipels dié dag op die berg van Jesus wys geword het.

 

En toe ons wakker word sien ons ‘n man gemaak van son

en twee wat skynend is by Hom: ou vaders van ons ras:

ons drie het toe verstom gaan deurmekaar praat, iets

van hutte bou – ag, enigiets om hierdie dag te onthou,

ons drie bewus van ons vuil voor sy verblindende wit –

Selfs Hy het Hom grys gehou met ‘n wolk vermom

en vir Moses en Elia koesterend gevou in Hom, en met ‘n stem

gespreek ín in ons bot begrip – en vir niemand

het óns weer terug in die dorp kon sê dat ons vir een kort uur

gesien het hoe hierdie Jesus lyk vir God . . .

Nou loop hy weer argloos langs ons, bruin soos ons aarde bruin

en skraal van ons karig eet en sweet ons sweet

in die kleed wat Nikodemus hom gegee het, maar nou

wanneer hy praat weet ons hoe sonder nate is sy woord

en dat hy self ‘n wit vuur naatloos een is met sy heelal. *

 

Jesus Christus, Seun van God én seun van die mens, is “naatloos een met sy heelal”.

Alles wat Jesus op aarde gedoen en gesê het, getuig van Sy naatlose eenheid met Sy heelal. Hoe diep Sy naatlose eenheid met ons as mense is, gaan ons opnuut weer sien en beleef as ons in die Lydenstyd saam met Hom stap na Sy kruisiging wat tegelyk ook ons kruisiging is, Sy dood wat tegelyk ook ons dood is, Sy opstanding wat tegelyk ook ons opstanding is.

Maar Hy en elke ander element van Sy heelal is ook naatloos een. Die raak sien en glo van hierdie waarheid is die groot versoening. Dié versoening waarin alle skeiding en verdeeldheid en vyandskap opgehef is.

Hoe beter ek vir Jesus Christus leer ken, hoe meer ontdek ek dat ek ook in Hom naatloos een is met die heelal. En saam met dié ontdekking sterf alle denke en gevoelens van skeiding en verdeeldheid en vyandskap (die groot apartheid) en word denke en gevoelens van liefde en verbondenheid gebore. Dan verander my verhouding met die skepping ook. Oral waar ek kyk, sien ek vir Christus raak – oral!

En omdat ek vir Christus self in alles ontmoet, is niks my vyand meer en vrees ek niks – ook nie die corona virus of alle ander virusse nie. En dan, net soos God in Christus doen, stel ek my lewe in diens van die welsyn van ons heelal.

‘n Baie geseënde Lydenstyd vir julle.

 

david p botha
dpbotha2@gamil.com

 

*  Die gedig kom uit die bundel: ‘n Engel deur my kop, 1997, p 7; uitgegee deur Tafelberg.