Foto: Die span van Imago Dei, die barmhartigheidsbediening van die NG Kerk Eros Gemeente, ondersteun GZB met die voorsiening van gesigsmaskers.

 

Duisende trekarbeiders het oor die Kersvakansie vanuit Suid-Afrika na hul geboorteland gereis en, sonder dat hulle dit besef het, het baie die nuwe Suid-Afrikaanse variant van die coronavirus huis toe geneem – ‘n slag vir die kerk in Suider-Afrika.

Lande soos Namibië en Malawi het aan die begin van 2021 swaar gekry as gevolg van die virus. Terwyl almal nog gedink het dat die pandemie nog min mense infekteer het, moes mense skielik oorskakel na die nuwe normaal. “Hierdie situasie het groot gevolge vir die kerk,” sê ds W. H. den Hartog, Suider-Afrika se streekskoördineerder vir die Gereformeerdes Zendingsbond (GZB) van die Protestantse Kerk in Nederland (PKN) en woonagtig in Blantyre, Malawi.

Die GZB werk in beide Malawi en Namibië nou saam met ‘n aantal vennootskapsorganisasies met wie die streekskoördineerder oor die nuwe verwikkelings gesels het. Tydens hierdie gesprekke is bevind dat baie mense wat tydens die Kersvakansie in hul vaderland gekuier het, Kersfees- en die Nuwejaarskerkdienste bygewoon het; superverspreidingsplekke wat veroorsaak het dat bogemiddeld baie mense besmet is met ‘n groot aantal siektes en sterftes tot gevolg.

Die hoër- en middelklas is veral hierdeur geraak. Volgens ds. Den Hartog kan die leefstylsiektes wat gereeld in hierdie inkomsteklasse voorkom, die rede wees. “Dit wil voorkom asof minder mense uit die laer inkomstegroep as gevolg van COVID-19 siek geword het. Baie ervare Christenleiers in Suidelike Afrika het ongelukkig ook hul lewens verloor, wat ‘n groot verlies aan hul waardevolle kennis en geestelike wysheid tot gevolg gehad het. Dit is ‘n groot slag vir die Kerk van Christus in hierdie deel van die wêreld. Die tyd sal leer wat die gevolge hiervan gaan wees.”

Uitdagings

Ds. Den Hartog was onder andere ook in gesprek met die Malawiese predikant, ds Gerald Chifambi (45) van die CCAP (Church of Central Africa Presbyterian) Madzi-Ebango Gemeente wat op die grens van Mosambiek is. “Ds. Chifambi stem saam dat die middelklas swaar getref word. Onder sy lidmate is verskeie doeane-, belasting- en polisiebeamptes wat goeie salarisse verdien. ‘n  Lid van die vrouevereniging het ook as gevolg van COVID-19 gesterf.

“Ds Chicco Katola (38), van Namwera, ‘n bietjie verder wes, is predikant in ‘n arm gebied. Sy gemeentelede het nie eens geld om ‘n masker ​​te koop of hulle hande met seep of ontsmettingsmiddel te kan was nie, maar in sy gemeente was daar tot dusver geen sterftes nie,” vertel Den Hartog.

‘n Predikant van Kongolese afkoms, ds Pierre Paul Tshituni Mutombo (56) van Windhoek, Namibië, stem saam dat sy ervaring ook aandui dat arm mense minder deur COVID-19 geaffekteer word. Ten spyte hiervan is die arm gemeenskap van die Katatura-woonbuurt egter daardeur getref. Die huur van die gebou waar hy weekliks ‘n kerkdiens en kinderklub hou, kan gevolglik nie meer bekostig word nie.

Ds. Den Hartog verduidelik: “Die kerkgeboue bly oop, maar as gevolg van vrees vir die virus gaan baie minder mense kerk toe. Die gevolg is dat die finansies daal en die geestelike lewe ‘n insinking beleef.

“Die regering van Malawi ontmoedig kerkbywoning. Ds. Chifambi kan nie meer huisbesoek doen nie. Reis is tans gevaarlik. Aktiwiteite wat binnenshuis plaasvind, soos administratiewe werk, pastorale besoeke en om saam te bid, is vir eers gestaak.”

 

Die dra van maskers

Die regering van Namibië het ook streng maatreëls ingestel. Ds. Mutombo, voorganger van Saved to Serve Ministries, staan daaragter. Volgens hom is die maatreëls daar vir ons beswil. “Die Bybel sê dat ons die regering moet respekteer en dit is nie verniet nie. Een van die belangrikste dinge wat ek doen, is om onder die armste kinders van Windhoek te werk. Ek sorg dat hulle almal ‘n gesigmasker het, sodat ons nog steeds met mekaar kontak kan hê. Imago Dei, die barmhartigheidsbediening van die NG Kerk Eros Gemeente, ondersteun ons hierin.”

In Malawi word begrafnisse gewoonlik in groot getalle bygewoon, maar die regering het nou eers ‘n stokkie daarvoor gesteek. Volgens die GZB-werker tref predikante self ook voorsorgmaatreëls tydens die lei van begrafnisdienste deur byvoorbeeld sommige elemente uit die liturgie weg te laat.

 

Koors

Uit gesprekke van ds. Den Hartog met predikante blyk dit dat, ten spyte van al die regeringsmaatreëls, baie mense in Suider-Afrika steeds in vrees leef. Hulle gemeentelede is tans versigtig om daagliks werk toe te gaan en as iemand koors het, is daar groot vrees vir COVID-19. Die oorvloed fopnuus is ook nou nie juis bevorderlik vir die situasie nie.

Ds. Chifambi verduidelik: “Fopnuus bring mense in geestelik slawerny. Die hardnekkige gerug dat pasiënte deur gesondheidsorgpersoneel in hospitale vermoor word, veroorsaak dat mense wat siek is gesondheidsentrums vermy, met nog meer sterftes tot gevolg. Boonop is sommige ouers beangs oor die toekoms van hul dogters. Die geslote skole veroorsaak dat baie meisies ongewens swanger raak. En dan is mense ook bekommerd oor hoe om kos te kry. Die nuwe oes kom eers in Maart. Die huidige pandemie veroorsaak dat hierdie bekommernisse net vererger.”

“Die predikante en hul gemeentelede komr in klein groepies byeen,” sê ds. Den Hartog. “Bejaardes bly tuis en hou self kerkdienste. Ds. Chifambi ondersteun siekes telefonies, ds. Mutombo hou die kinderklub in die buitelug onder bome. In plaas van 150 kinders kom daar nou 270 kinders om na die evangelie van Jesus te luister.”

Nog ‘n seën is dat die Afrikaanse gemeentelede nie rus om na God te roep nie. “Hulle bid nou meer as ooit vantevore.”

Kontak

Willem-Henri den Hartog (GZB Streekskoördineerder: Suider-Afrika )
WdHartog@gzb.nl