A human being is a part of the whole, called by us “Universe”, a part limited in time and space. He experiences himself, his thoughts and feelings as something separated from the rest – a kind of optical delusion of his consciousness. This delusion is a kind of prison for us, restricting us to our personal desires and to affection for a few persons nearest to us.  Our task must be to free ourselves from this prison by widening our circle of compassion to embrace all living creatures and the whole of nature in its beauty.*

Hierdie woorde van Albert Einstein (1879 – 1955) beskryf na my mening die tragiese illusie wat veroorsaak het dat die mens vandag ongekende ekologiese uitdagings soos aardverwarming en die uitwissing van spesies (ook ons eie) in die gesig staar.

Einstein se bestudering van die fisika het hom tot die oortuiging gebring dat elke mens integraal deel is van die totale fisiese wêreld (heelal). Hierdie feit word bevestig deur al die natuurwetenskappe. En dit word ook bely in Genesis 2 se skeppingsverhaal: “Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde” (v.7). Ons liggame is, net soos die aarde self, van sterstof gemaak. Ons deel al die elemente waarvan ons liggame opgebou is met die res van die skepping.

Alhoewel dit ons fisiese waarheid is, leef baie mense meesal asof dit egter nie waar is nie. Ons leef asof ons los en apart van die heelal is en funksioneer. So asof ons nie eintlik hier hoort nie, maar net tydelike bewoners van die aarde is wat op ons pad na elders al die hulpbronne van die aarde gebruik om ons verblyf hier so aangenaam en voorspoedig moontlik vir onsself te maak – ongeag watter impak ons op die aarde met ons lewenswyse maak. En Einstein oordeel dat dit so is, omdat ons ervaring, gedagtes en gevoelens in stryd is met hierdie waarheid. Ons beleef en dink en voel onsself los van die res van die skepping. Dit is egter, sê hy, ‘n illusie – ‘n oortuiging of idee wat nie rekening hou met die werklikheid nie. Hy noem dit ‘n soort tronk. Dit perk ons in, omdat dit ons slegs daartoe in staat stel om aandag te gee aan ons persoonlike behoeftes met ‘n liefdeskring wat net so ver strek soos die paar mense wat ons as deel van ons lewe beskou (naby-familie en vriende).

Die pad uit die tronk uit, sê Einstein, is die verruiming van ons liefde/omgee (compassion), totdat dit “all living creatures and the whole of nature in its beautyomhels (embrace). Die woord “embrace” beteken om iets met ‘n oop hart en arms te aanvaar, te verwelkom en vas te hou.

Ek reken dat hierdie illusie nie net homo sapiens se tronk is nie, maar ook die oorsaak is vir ons verbruikerskultuur en onverskillige en selfs vyandige houding teenoor die natuur – selfs teenoor ons eie liggame. Ons leef asof ons gaste/huurders van die aarde en ons liggame is en nie inwoners/eienaars nie. Ons illusie is dat ons dink dat ons op die aarde woon, terwyl ons in werklikheid in haar woon. Ons illusie is dat ons dink dat ons in ons liggame woon, terwyl ons in werklikheid ons liggame is. Ons en die heelal (daarom ook die aarde en ons liggame) is wesenlik een. Ons is deel van die EEN web van die lewe. Eenheid is ons werklikheid. Daarom is enige gedagte, gevoel of daad wat nie uit hierdie werklikheid kom nie ‘n leuen en tot nadeel van die heelal.

In Jesus Christus sien en beleef ons God se heelhartige en inklusiewe omhelsing (embrace) van die heelal. Sy dood aan die kruis is eerstens ‘n demonstrasie en ontbloting van die illusie van “seperateness” waarin ons as mense ingeperk leef. Ons liefde is so klein dat dit nie vir God kan insluit as God selfs in die gestalte van ‘n medemens na ons toe kom nie. Jesus se kruisdood is tweedens egter ook ‘n demonstrasie van God se alles-insluitende liefde. God omhels (embrace) selfs die mens by wie God nie welkom is nie. Ons daad van verwerping, is God se daad van omhelsing!

God omhels die een wat Hom verwerp. Hoekom? Dit is hoe God is: inklusief lief! En ook om ons vry te maak van ons illusie van “seperateness”, sodat ons ook inklusief kan liefhê. Só inklusief dat ons harte “all living creatures and the whole of nature in its beautykan omhels (embrace).

 

Gebed vir Lydenstyd:

Skepper God,

terwyl ek saam met U op u pad van verwerping loop,

maak asseblief my oë oop om te sien

hoe klein en eng my liefde is

en hoe groot en ruim u liefde is,

 

totdat ek ook –

net soos U –

alles insluitend liefhet.

 

Vrede tussen jou en almal en alles in die heelal van wie jy jouself afskei.

david p botha
dpbotha2@gmail.com

 

*  Hierdie is ‘n aanhaling uit ‘n troosbrief wat Albert Einstein (1879 – 1955) vir ‘n ouer geskryf het wat by hom troos gesoek het na die dood van sy kind.