Daar is ‘n mensgemaakte helikoptertjie op Mars met die naam “Ingenuity”. Ons vertaal dié Engelse woord met “vernuftigheid” of “vindingrykheid”. En ons maak reeds planne om Mars (‘n onbewoonbare plek vir mense) in te rig sodat mense daar kan gaan woon. Ruimtenavorsing en -tegnologie getuig inderdaad daarvan dat die mens in staat is tot besondere vernuftigheid en vindingrykheid.

Hoe ironies is dit dat ons steeds sukkel om te doen wat nodig is om seker te maak dat moeder aarde ‘n bewoonbare plek vir die mens bly. Dit lyk asof dit makliker is om Mars toe te gaan en mense die ruimte in te neem as om die aarde se omgewing te beskerm teen onbeheerbare verwarming.

Dit is natuurlik nie waar nie. Ons het reeds al die inligting, kennis, vaardighede en tegnologie wat nodig is om die mens se skadelike bydrae tot klimaatsverandering te stop. Dieselfde mense wat vir Ingenuity ontwerp en gebou het en saam met die ‘rover’, Perseverence, Mars toe geneem het, is ook besig om deur middel van sateliete wat daagliks om die aarde wentel data te versamel oor die welsyn van die aarde en die aarde se atmosfeer.

NASA (National Aeronautics and Space Administration) se navorsings- en tegniese arm, Jet Propulsion Laboratory (JPL), het ‘n toepassing (app) ontwerp wat al hierdie data beskikbaar maak vir elke persoon op aarde wat ‘n slimfoon het. Die app se naam is Earth Now en kan gratis van die internet afgelaai word. Dit gee toegang tot die mees onlangse inligting oor ‘n verskeidenheid van “vital signs”, soos bv.:

  • die temperatuur van die atmosfeer
  • verspreiding en konsentrasie van koolstofdioksied
  • verspreiding en konsentrasie van koolstofmonoksied
  • gravitasieveld om die aarde
  • osoonlaag
  • vlak van die see
  • die grond se vog- en soutkonsentrasie
  • konsentrasie en verspreiding van waterstof in die atmosfeer.

Al hierdie inligting word met kleurkaarte weergegee en is maklik om te verstaan en te lees. ‘n Mens kan as’t ware elke oomblik van die dag weet hoe dit met moeder aarde (ons gemeenskaplike huis) en veral haar atmosfeer gaan.

Volgens www.statista.com was daar meer as 3 biljoen gebruikers van slimfone in 2020. ‘n Mens kan met ‘n baie groot mate van sekerheid aanvaar dat al die politieke leiers van die wêreld deel uitmaak van hierdie groep mense. ‘n Mens sou ook wou aanvaar dat hulle almal Earth Now sou aflaai en met arendsoë dophou om seker te maak dat hulle sáám alles in hulle vermoë doen om seker te maak dat dit met moeder aarde goed gaan. Met dieselfde fokus en ywer waarmee hulle COVID-19 dophou ter wille van die mens se welsyn. Gaan ons regering en parlement dit doen? Ons president moedig ons aanmekaar aan om die COVID Alert SA-app af te laai, sodat hulle die verspreiding en blootstelling aan die COVID-19-virus kan monitor. Gaan hulle Earth Now aflaai en hulle aan dié data steur en daadwerklik en haastig die veranderinge aanbring wat nodig is om Suid-Afrika se koolstofvoetspoor kleiner te maak?

Frankryk stel vir ons ‘n voorbeeld: wetgewing is nou aanvaar wat die Franse publiek gaan verbied om binnelands te vlieg indien hulle enige reis wil onderneem wat binne twee-en-‘n-half uur per trein afgelê kan word. Groot en waagmoedige veranderings is nou nodig. Ons sal druk moet sit op ons politieke leiers, nie net om ons stukkende paaie reg te maak nie, maar ook om alles in hul vermoë te doen om toe te sien dat ons koolstofvoetspoor drasties verklein. Hulle sal dit natuurlik net kan doen as die politieke wil daar is en as ons kans sou sien om sáám groot offers te bring.

Die belangriker vraag is natuurlik of ons wat in Jesus Christus glo genoeg vir die aarde omgee om elkeen persoonlik ons bloot te stel aan die data wat Earth Now oor die welsyn van die aarde en haar atmosfeer vir ons gee. En om elkeen ons deel te doen om ons eie bydrae tot aardverwarming so klein as moontlik te maak. Ons moet eenvoudig, in navolging van Jesus Christus ons lewenswyse so eenvoudig moontlik maak. Ons moet liggies op die aarde lewe.

Hoe doen ‘n mens dit? St Fransiskus van Assisi het vir ons ‘n goeie voorbeeld gestel. Hy het ‘n lewe van eenvoud gelewe én met ‘n fokus op die aarde. ‘n Kenmerk van die afbeeldings wat die kerk oor hom gemaak het, is dat hy altyd uitgebeeld word met sy oë wat afwaarts op die aarde gerig is. Vir meer oor sy lewe en diegene wat hom volg kan u na Richard Rohr luister by Franciscan Mysticism part1 – Bing video.

Ek dink Earth Now kan ons hiermee help.

Vrede vir julle en jul omgewing.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com