‘n Paar Sondae gelede het ‘n prominente gereformeerde teoloog oor die radio gesê: “God gebruik nie COVID-19 om ons te straf nie. God is aan ons (die mense) se kant. God veg saam met ons teen die COVID-19-virus.”

Hierdie opmerking was bedoel om aan te toon dat Gereformeerde gelowiges nie glo dat COVID-19 God se straf vir ‘n sondige wêreld is nie. Ek stem heelhartig saam. Mense moet weet dat God nie teen hulle is nie, maar vir hulle. Mense het dit nodig om te weet dat hulle opgevang is in én lewe binne-in God se liefde. God is nooit mense se vyand nie. Ons kry nie in COVID-19 met ‘n kwaad God te doen wat pak slae uitdeel nie.

Die teoloog se formulering verklap egter tog wel ‘n vyandige verhouding. Dié virus wat hierdie siekte veroorsaak (soos baie ander ook) is daarop uit om ons lewens te bedreig en ons dood te maak. En in ons stryd met hierdie vyandige virus is God aan ons, die mens, se kant. “God veg saam met ons as mense teen die virus”. En só word ons verhouding met die corona-virus verstaan en beskryf as ‘n geveg – ‘n oorlog. Sedert die uitbreek van die pandemie in 2020 het ons taalgebruik (ook ons politieke leiers s’n) dikwels die virus as ‘n vyand beskryf en ons reaksie daarop as ‘n stryd om oorlewing; ‘n geveg wat ons sal wen.

Is daar ‘n vyandige verhouding tussen die natuur en mense? Van die natuur se kant af, blykbaar nie. Nêrens in die natuur is daar vorme van lewe wat saamspan om die mens doelbewus uit te roei nie.   Die minder komplekse vorme van lewe – soos byvoorbeeld virusse – se optrede word beheer deur die drang om te oorleef. Hulle is so geprogrammeer. Hulle kan egter nie op hul eie reproduseer nie. Hulle is parasiete wat vir hul voortbestaan van ander vorme van lewe afhanklik is. En die coronavirus het dit nou reggekry (o.a. deur ons eie toedoen) om ook by mense uit te kom. En partykeer veroorsaak virusse siektes in hul gashere wat die gasheer se dood veroorsaak. Virusinfeksies is dus nie vyandige aanslae op ander vorme van lewe nie. Dit is eenvoudig hoe virusse aan die lewe bly en voortbestaan.*

As pandemies nie God se straf op ‘n sondige wêreld is nie en ook nie doelbewuste vyandige aanslae uit die natuur nie, hoe moet ons dan daaroor dink? Pierre Teilhard de Chardin (1881 – 1955), ‘n Franse paleontoloog en teoloog, se oortuigings gee vir my ‘n sinvolle en lewegewende antwoord op hierdie vraag. Hier is ‘n paar gedagtes in my eie woorde gebaseer op ‘n artikel wat Ilia Delio verlede jaar hieroor geskryf het: God is voortgaande besig om aan die skepping te skep. En rampe is eenvoudig deel van die aarde se evolusionêre geskiedenis. Selfs lank voor die mens op die aarde verskyn het, was daar groot rampe. Rampe – klein en groot – is eenvoudig deel van die verloop van lewe op aarde. Elke lewensontwrigting of ramp is ‘n pyn in die geboorteproses van lewe op aarde. Die pyne van die groeiproses het twee bewegings, nl. swaarkry en kreatiwiteit. Nuwe lewe beteken noodwendig pyn en hierdie pyn is vol kreatiewe potensiaal.

Mense (toegerus met die gawes van bewussyn en rede), wat op die oomblik op die voorpunt van die evolusionêre geskiedenis van die aarde is, het die potensiaal om óf saam met God verder te skep óf om God se skeppingswerk te frustreer. God is liefde. God skep in liefde en lewe is die vrug van God se liefde. Ook mense bewoon nou die aarde as die vrug van hierdie liefde van God. Elke ramp wat hierdie aarde tref (LW, nie net rampe wat mense tref nie!) is ‘n uitnodiging aan mense om in liefde by die lyding van die ramp betrokke te wees. Dit is ‘n uitnodiging om te groei in liefde en om met deernisvolle omgee by alles en almal betrokke te wees wat as gevolg van die ramp ly – op die voorbeeld van Jesus van Nasaret.

Ilia Delio sê:  “Teilhard would view this pandemic as an opportunity to harness the energies of love in new ways. Every act of suffering in his view is an invitation to a new creative moment, a wake-up call that something old is breaking down and something new is taking place in our midst.” **

Kom ons lees Eugene Petersen se vertaling van Rom 8:22 saam met Teilhard se gedagtes:

Rom 8:22: “All around us, we observe a pregnant creation. The difficult times of pain throughout the world are simply birth pangs. But it’s not only around us; it’s within us. The Spirit of God is arousing us within. We’re also feeling the birth pangs. (The Message)

Die COVID-19-pandemie is nie God se straf vir ons sonde nie. Die pandemie is ook nie ‘n uitdaging van die natuur tot ‘n oorlog met ons as mense nie. Dit is wel ‘n sametrekkingspyn van ‘n “pregnant creation”.

God se Pinkstergees maak gelowiges innerlik wakker om ook die geboortepyne van die skepping te voel en roep ons daartoe op om in die modus van ‘n swanger vrou by hierdie pandemie betrokke te wees. Die “baba” wat gebore gaan word uit die skepping se geboortepyne is omvattende, volkome VREDE.

‘n Mens pak sekerlik nie die geboorteproses van VREDE as ‘n oorlog aan nie – selfs nie eers in jou taalgebruik nie.

Vrede vir julle en jul omgewings.

david p botha

dpbotha2@gmail.com

 

*   Vir meer oor virusse kan u hier gaan lees: Viruses: What are they and what do they do? (medicalnewstoday.com)

** Ilia Delio se artikel is by hierdie skakel beskikbaar: The 2020 COVID-19 Pandemic:  What Would Teilhard Say? – Center for Christogenesis

Vir meer oor Teilhard de Chardin se lewe kan u ook Jaap Durand se boek, Evolusie, Wetenskap en Geloof: ‘n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin, lees. Dit is uitgegee deur Bybel-Media in 2013.