Isibindi Initiatives (https://isibindi.org.za/) wat in vennootskap met Echo Youth (https://www.echoyouth.co.za/) hier in die Wes-Kaap werk, bied ‘n tuiste vir jongmense in nood en is tans besig om drie van vier skeepsvraghouers in woonbare eenhede te omskep.

Hulle is nog onseker oor presies waarvoor hulle dit gaan gebruik. Die twee grootste behoeftes op die oomblik bied die volgende ontwikkelingsopsies:

  • Om ‘n tuiste te bied vir jongmense wat in ‘n Echo-huis gewoon het en nou gereed is om uit te trek. Dit dien dan as oorgangsfase waarin die jongmense wat al ‘n eie werkie het hul eie, bekostigbare akkommodasie kan bekom. Hulle woon dan buite die Echo-huis, maar is nog steeds naby genoeg om as deel van die Echo-gemeenskap te voel – iets wat van groot waarde vir hierdie ontheemde jongmense is.
  • Tweedens is daar ook ‘n groot behoefte aan ‘n soort van koshuis vir hoërskoolkinders wat in baie swak huislike omstandighede woon (maar nie so swak dat hulle deur die Kinderwet verwyder mag word nie). Hierdie akkommodasie sal dan aan dié kinders ‘n plek bied waar hulle goeie kos, hulp met skoolwerk en persoonlike aandag deur die week kan kry. Hulle sal steeds naweke na hul ouers kan gaan of in die koshuis kan bly; die ouers behou toesig oor die kind, maar die kind bly dan in beter omstadighede deur die week.

Hulle het reeds die drie houers in posisie geplaas en is tans besig om die loodgieterswerk en elektrisiteit daarvan te installeer. Hulle gaan vir eers net een binne regkry en dan verder vir fondse soek om ook die ander te ontwikkel.

Die eerste opsie om klein wooneenhede vir jongmense te begin ontwikkel, sal die maklikste in werking gestel kan word – net om die proses aan die gang te kry.

Van volgende jaar af sal hulle dan kan fokus op die ontwikkeling van ‘n hoërskoolhuis, maar dit verg meer geld, aangesien jy voltydse personeel benodig om kos te maak, toesig te hou, ens.

Kontak Niel Steyn by niel@isibindi.org.za vir meer inligting