As ‘n mens jou familie lanklaas gesien het en jy gewoond daaraan is om hulle darem ten minste een maal per jaar te sien, is dit sleg as dit al twee jaar raak sedert mens kon saamkuier. Maar gelukkig is daar iets soos WhatsApp en Zoom!

En so was dit ook Maandagmiddag toe lede van die Reformed Family Forum (RFF) mekaar vir die eerste keer vanjaar op hul rekenaarskerms tydens ‘n zoom-vergadering kon sien. Dit is gereël deur Nico Mostert, voorsitter van NetACT.

Dit was wonderlik om al die general secretaries, wat hul verskillende kerke verteenwoordig, weer te kon ‘sien’. Ons susterskerke van Nigerië, Zambië, Zimbabwe, Malawi, Mosambiek, Lesotho, Swaziland en ook die RCA, ons Indiër-susterskerk in Suid-Afrika, het ingeskakel.

Nadat Nico Mostert almal verwelkom het, het Akash Sirpal (RCA) geopen met Jesaja 30 en ook ‘n gebed gedoen. Daarna het elkeen die geleentheid gekry om kortliks te vertel hoe dit met hom of haar gaan. Daarna het die groepbespreking begin wat deur Kobus Odendaal van Getuienisaksie gelei is.

Daar is veral gefokus op die mees negatiewe effekte wat die huidige pandemie op ons kerkbelewing het, fopnuus, samesweringsteorieë en hoe om dit as kerkleiers te hanteer. Daar is ook gesels oor maniere oor hoe om ons gemeentes weer nuwe lewe te gee.

Een van die grootste uitdagings waarmee ons as kerk te kampe het, is om die behoefte aan saamwees as familie in Christus te bly behou, veral deur middel van zoom-kerkdienste. Dit blyk egter dat dit net vir middel-of hoërinkomstegroepe beskore is, weens die hoë datakoste. Sommige kerke kom egter in baie klein groepies bymekaar en behou dan afstand, dra maskers en was hande. Ander kerke se kerkleiers beplan weer ringsbesoeke om hul mense te bemoedig.

Die afwesigheid of inperking van kerkdienste het natuurlik ‘n geweldige finansiële krisis teweeggebring, aangesien baie mense nie ‘n kultuur van internetbankdonasies het nie, maar slegs bydra deur middel van hul deuroffers op ‘n Sondag. Iets wat nou baie afgeneem het.

Ten opsigte van die fopnuus en samesweringsteorieë is dit beklemtoon dat dit afhang van die vertroue in wie en wat die mense glo. Dit is daarom van groot belang dat kerkleier byvoorbeeld foto’s van hul inentings op sosiale media sal deel – op hierdie manier skep dit vertroue by mense wat nog skepties is.

Om hiermee te help, het Berlise Louwrens van CLF die groep voorsien van baie nuttige inligting:”Understanding Viral Vector COVID-19 Vaccines | CDC” en “How the Johnson & Johnson Covid-19 Vaccine Works – The New York Times” 

Sy het ook die volgende met ons gedeel om bedieninge te vergemaklik: “Tools for ministry” en hul e-pamflette.

Te midde van die verwarrende boodskappe wat rondvlieg, het die kerk ‘n taak om ‘n boodskap van hoop uit te dra op die manier waarop ons na mekaar uitreik en op die manier hoe ons ondersteuning bied aan die randfigure in ons gemeenskappe. Mag God se teenwoordigheid ervaar word deur ons dade van hoop.

Iets soos die vaksine, is ‘n vorm van hoop, om ander in nood by te staan, is ‘n vorm van hoop. Ons is almal in dieselfde storm, net in verskillende bote; help mekaar waar nodig. Draai weg van jouself en kyk waar jy verligting kan bring.

Die vergadering is afgesluit met ‘n gebed deur Tebatso Menyatso van die DRCB, ons susterskerk in Botswana.