Julie is tradisioneel die maand van aktivisme teen enkelgebruik-plastiek.

Soos ons almal weet, is daar ‘n oorvloed van produkte wat in plastiek verpak word. Dis byna onmoontlik om dit geheel en al te vermy. Tog is dit wel moontlik om jou plastiekverbruik drasties te verminder. Die eenvoudigste en mees effektiewe manier om baie plastiek te spaar, is om eenvoudig geen plastieksakke by ‘n winkel te neem nie.

  • Sorg dat jy altyd sakke saam met jou vat as jy gaan inkopies doen.
  • Koop duursame sakke van lap wat baie lank sal hou en gebruik dit elke keer.
  • Vir produkte wat koud gehou moet word, werk een van daardie koelsakke met ‘n ritssluiter baie lekker.

Iets waarvoor ons almal veral op die uitkyk moet wees, is die dun plastieksakkies. Terwyl lande oral in die wêreld enkelgebruikplastiek verban, het SA se supermarkte ‘n paar jaar gelede begin om sommige produkte by die betaalpunt in dun plastieksakkies te sit voordat dit in ‘n groter sak gesit word. Dit word meestal deur die pakker by die betaalpunt gedoen sonder dat jy daarvoor vra. Dit sluit alles van seep tot sekere kosprodukte in. Dis ‘n reuse-stap agteruit vir die omgewing, want die sakkies is lig, so dit waai maklik rond en dis te dun om te hersirkuleer. Ek het met die eienaar van ‘n plaaslike supermark daaroor gaan gesels en hy het bloot sy skouers opgetrek en gesê dis wat vereis word deur die winkelgroep waarvan hy deel is.

Ek het ook onlangs toevallig in ‘n gesprek betrokke geraak met ‘n persoon wat die sakkies pak. Die gesprek het begin toe sy haar verbasing uitspreek omdat ek die dun plastieksakkie weier. Sy sê toe vir my dat die meeste mense op daardie sakkies aandring! Sy is selfs al uitgeskel omdat sy nie mense se produkte in daardie sakkies sit nie. My moed het in my skoene gesak toe ek dit hoor.

As verantwoordelike verbruikers moet ons eenvoudig sterk hierteen standpunt inneem. Vir al die  jare kon ons daarsonder klaarkom, waarom sou dit nou skielik so nodig wees? Elke item is mos reeds verpak. Daarom ons moet ons by die betaalpunt daarop bedag wees en die persoon wat die sakkies pak, versoek om die sakkie te los. Dis ons elkeen se plig om bloot “nee” te sê ter wille van God se skepping.

Om minder plastiek te gebruik, vereis dat jy altyd op die uitkyk sal wees op waar plastiek onnodig gebruik word en dit te vermy. Die wonderlike is dat as jy eers in die gewoonte is, kom dit sommer vanself en raak dit vir jou pynlik ongemaklik om onnodige plastiek by ‘n winkel te neem.

Kies van vandag af om enkelgebruik-plastiek te vermy waar jy ook al kan en leer dié goeie gewoonte aan.

Word wakker en raak ‘n aktivis ter wille van ons wonderlike skepping.

 

Rudolph Scharneck
Namens die Groen Span