V.l.n.r.: Agter: Kobus Odendaal, Alwyn Francis, Deon Theron, George Pio. Voor: Margo Odendaal, ds. Juma en Christine Chanza
Kobus Odendaal, diensgroepbestuurder van Getuienisaksie, was vanaf Woensdag 18 tot Vrydag 20 Augustus na Zimbabwe. In hierdie tyd het hy die jaarlikse raadsvergadering van CAVA NBI bygewoon en ook ’n ontmoeting met die algemene skretaris van ons susterskerk daar, die CCAP Sinode Harare, ds Kingstar Chipata, gehad.
Kobus vertel: “Tydens die raadsvegadering van CAVA NBI is daar veral gesels oor die uitbreiding van die gebruik van die NBI-kursus in verskillende kerklike gemeenskappe. Daar is tans 318 ingeskrewe studente uit veral die onafhanklike kerke. Die hoofstroom-kerke is nog huiwerig om ’n breë groep in die kerk as leiers te bemagtig, aangesien dit vir baie van die kerke ’n bedreiging vir die gesagsposisie van die geordende leraars inhou.
“’n Groot groep van die studente is gevangenes in tien gevangenisse. Heelwat van die ander studente is in leersentra georganiseer wat gereeld byeenkom en waar iemand leiding gee. Daar is besluit om pogings aan te wend om groter deelname van lidmate van ons susterkerke, die RCZ en CCAP Harare te kry. Dit is ook duidelik dat met die herlewingspogings van gemeentes in hierdie COVID-tyd daar baie gefokus sal moet word op die ontwikkeling van klein, ondersteunende geloofsgroepe in gemeentes. Hiervoor sal daar leiers in elke gemeente geskool moet word om leiding te help gee; iets waarvoor die NBI-kursus ideaal is.
“Dit is duidelik dat die kerk in Zimbabwe met alle erns die uitdagings van die pandemie aanpak. Die regering van Zimbabwe het alle beperkings op kerkbyeenkomste opgehef op voorwaarde dat lidmate wat byeenkomste bywoon, ingeënt moet wees. Kerkleiers moedig hulle lede aan om vir inenting te gaan wat meegebring het dat massas mense hulle nou aanmeld daarvoor.”
Kobus vertel verder: “Ons toekoms lê in Afrika en is nou verweef met ons susterkerke. Ons leer baie ten opsigte van hoe hulle die uitdagings van die tyd hanteer. En so ondersteunend aan mekaar, dra ons ’n getuienis uit van die vernuwende krag van die evangelie van Jesus Christus.”
Getuienisaksie se finansiële verpligtinge teenoor CAVA NBI is oor die afgelope vyf jaar baie afgeskaal, terwyl daar deur ’n proses gegaan is om die onderneming volhoubaar te maak. CAVA verhuur ekstra kantoorruimte uit, ontvang kursusfooie en het ’n donateursbasis om sy finansiële oorlewing te help verseker. Met Getuienisaksie se beskeie bydrae deel ons aan die vreugde om die evangelie in ons buurstaat by meer mense uit te bring.
Vir Kobus was dit ’n groot vreugde om sy broers en susters, waarmee hy oor die afgelope 14 jaar ’n mooi verhouding opgebou het, weer te sien en saam te ontdek hoe God op verrassende maniere elke dag werk.
Kobus Odendaal: missio@kaapkerk.co.za
