Op Vrydag 5 April 2013 het ek hierdie vars nuus na Die Burger gestuur, maar die nuus van Margaret Thatcher se siekte en dood op 8 April ry my poging in die wiele en ek besluit om dit dan vir ‘n ander geleentheid te hou. Intussen het die jare verbygegaan, en met Koos se dood op 26 Augustus vanjaar het ek weer na hierdie artikel gaan soek en uiteindelik gevind:

_____________________________________________________

 

Op Vrydag, 5 April 2013, het Koos Oosthuysen op 79-jarige leeftyd sy doktorsgraad in isiXhosa-grammatika  aan die Universiteit van Rhodes behaal.  Hoe hy daarby uitgekom het, kom ’n lang pad.

“Mama, ndiyakubonga,
ndingeyombongi ndinjalo…”

Op die verhoog staan ’n effe geboë grysaard voor ’n stampvol saal – volgepak tot op die vloer. Langs hom staan Antjie Krog. Soos sy haar gedig, “Ma”, verder voordra, vertolk hy dit in isiXhosa. Die poëtiese saamdans tussen die twee tale skep ’n magiese eenheid wat die gehoor meesleur.

Dis aand, klastyd is verby en die Stellenbosch Literary Project van die Departement Engels, Universiteit Stellenbosch is in volle gang. Dis ’n viering van poësie. Verskeie entoesiastiese studente, ook van die Universiteit Wes-Kaap, het reeds vroeër die aand van hul verse voorgedra.

As die man met die grys baard die laaste sin, “…dat ek nie is wat ek graag vir jou wil wees nie”, in isiXhosa oor die saal laat eggo, daal daar ’n doodse stilte neer oor die gehoor. Veral die Xhosasprekendes kan nie glo wat hulle hier sien en hoor nie – ’n wit man wat volgens hulle hul idiome en uitdrukkings beter as hulself ken?

Onmóóntlik! ’n Uitbundige gedawer bars los.

*     *     *

Die verbintenis tussen Krog en Koos Oosthuysen het in 2001 begin toe sy na  hom verwys is in haar soeke na ’n in-diepte-uitleg van die Xhosa-gedigte wat sy in haar digbundel Met Woorde soos met Kerse vertaal en opgeneem het. Afgetree in Noordhoek saam met sy op-en-wakker vrou, Lucia, het Krog hierdie buitengewone wit Pondo ontdek.

Jacobus Christiaan (Koos) Oosthuysen, gebore op 5 Desember 1933 in Port St Johns, Pondoland, is die vyfde kind van een van die eerste sendelingspare in die destydse Transkei, Koot en Gertruida Oosthuysen. Van sy geboorte af is hy aan die taal en kultuur van die amaMpondo blootgestel.

Oosthuysen het grootgeword tussen die groen heuwels van Pondoland op die sendingstasie Isilimela. Van kleins af was die amaMpondo sy speelmaats en het hy, buiten sy moedertaal, Afrikaans, ook isiXhosa vlot leer praat. Hy het saam met sy maats met ’n griffel op ’n lei leer skryf en beskou steeds hierdie grondslagfase se moedertaal-onderrig aan die Primêre Skool van Isilimela as sy hoogste akademiese kwalifikasie in isiXhosa.

Hierna het sy ouers hom na die kosskool op Mthatha gestuur waar sy Engelse skoolmaats hom vinnig ‘Dome’ (vir dominee) begin noem het. Hy het homself reeds as klein seuntjie as Jacobus Christiaan Dominee Oosthuysen voorgestel, en het nooit gedink dat hy iets anders kon wees as ’n umfundisi (leraar) soos sy pa nie.

Hierdie seuntjie sou in later jare, danksy sy fyn aanvoeling vir die drie taalgroepe: Afrikaans, isiXhosa en Engels, ’n belangrike rol in die herdruk van die 1942-isiXhosa-Bybelvertaling en die vertaling van die Bybel in moderne isiXhosa speel. Hy het ook as aktuaris en later die eerste moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) se Streeksinode van Kaapland in 1994 ’n waardevolle bydrae gelewer as fasiliteerder van die eenheidsproses tussen die verskillende taalgroepe – ’n mosie van diepe vertroue wat in hom gestel is gedurende daardie moeilike oorgangsjare.

Vra jy vir Oosthuysen of hy dit moeilik vind om tussen sy Xhosa-wees, sy Afrikaansheid en Engelse agtergrond te beweeg, antwoord hy: “Jy vra my vas.  Ek vind dit nie moeilik om tussen Afrikaans, Xhosa en Engels te beweeg nie.  ’n Enkele probleem wat af en toe opduik, is as ek ingedagte met iemand wat Afrikaans- of Engelssprekend is Xhosa praat.

“Van die drie taalgemeenskappe is die amaXhosa die gemaklikste.  Vir die Xhosasprekendes is mense wesens wat praat en niemand het inhibisies om met ander te praat nie.  In die tou agter ’n Afrikaans- of Engelssprekende bly ek tjoepstil, maar met ’n Xhosasprekende kan ek maklik ’n gesprek aanknoop oor sake van die dag, soos die weer en probleme met die taxi’s.  En die Xhosasprekendes vind dit baie verblydend dat daar darem ’n bleekgesig is wat goeie Xhosa-maniere het en weet hoe om eers mooi oor sy of haar welstand te verneem.  Dan praat hy boonop ordentlike Xhosa ook!”

En hy lag sy diep-uit-die-keel lag soos net Koos Oosthuysen dit kan doen.

*     *     *

Na sy kweekskoolopleiding op Stellenbosch het Oosthuysen ’n beurs van die Wêreldraad van Kerke ontvang en het hy in 1959 ’n meestersgraad in Teologie in New Haven aan die Universiteit van Yale verwerf. Die jaar daarna is hy as leraar van die Xhosasprekende NG Kerk in Afrika-gemeente Drakenstein (nou Mbekweni) bevestig.

Sy pad het egter ’n wending geneem nadat die Bybelgenootskap hom in 1973 genader het om te help met die heruitgawe van die 1942-isiXhosa-Bybel, aangesien die spelwyse in die sewentigerjare gewysig is. Hy is in 1974 as medeleraar in die NG Kerk in Afrika-gemeente van King William’s Town bevestig met die opdrag om hierdie diens aan die Bybelgenootskap te lewer.

Die 1942-Bybel was egter formeel ekwivalent vertaal en daar was ’n behoefte daaraan om die Bybel eerder funksioneel ekwivalent te vertaal. En so het Oosthuysen die koördineerder van die vertaling van die Bybel in moderne isiXhosa geword wat in 1996 voltooi is. Daarvoor is hy in 2012 met die Andrew Murray – Desmond Tutu-Prys vereer.

Sy paaie het in daardie tyd met die wêreldbekende vertalingsteoretikus Eugene Nida gekruis toe hy twee seminare van hom bygewoon het. Hier het hy geleer hoe die brontaal se oorspronklike bedoeling ekwivalent maar dinamies (funksioneel), vertaal behoort te word.

As daar in die bronteks byvoorbeeld van ’n “anker” as teken van standvastigheid gepraat word, maak dit dalk vir die seevarende nasies rondom die Middellandse See sin, maar vir die amaXhosa beteken dit niks. Maar as jy dit vertaal met “die stutpaal in die middel van ’n groot hut” wat aan die hele struktuur stabiliteit gee, maak dit sin en strook dit beter met die bedoeling van die brontaalskrywer.

Of jy vertaal “skipbreuk ly” in 1 Timothëus 1:19 nie as “…sommige se uitgeholde boomstam het stukkend gebreek ten opsigte van geloof…” nie, maar met “…het sommige hul geloof vernietig soos ’n kalbas vol suurmelk wat te pletter val.”

*     *     *

Benewens sy humorsin is Oosthuysen ook ’n man van wyse gesegdes, waarvan een van sy  bekendstes is: “Daar is net een ding wat erger is as om kinders te hê – en dis om hulle nié te hê nie!” of “Don’t explain, and never complain!”

Na sy aftrede van 42 jaar diens as predikant van die VGK in Suid-Afrika lewer hy nou ’n waardevolle bediening saam met sy vrou as berader van die Hope Prison Ministry by die Pollsmoor-gevangenis. Hier begelei hulle gebroke mense tot versoening met hul slagoffers en familie.

Hulle reis ook die wêreld plat met hulle woonwa-bakkie, Jongi (die bespieder), en het al menige sendingstasie binne en buite Suid-Afrika besoek om te bemoedig en waar nodig te help met bouwerk.

Intussen sorg Oosthuysen nog gereeld vir konsternasie as hy sy Xhosagenote in die war bring met sy taalgebruik en uitspraak wat nie strook met sy voorkoms nie. Soos onlangs tydens sy besoek aan SARS toe hy ‘n opeenhoping veroorsaak het toe almal wat Xhosa praat eers vasgesteek, bladgeskud en mede-Pondoskap moes vier!

*     *     *

Tydens sy stryd teen prostaatkanker ’n paar jaar gelede, het Oosthuysen die dringendheid om die grammatika van die vroeë-twintigste eeuse isiXhosa op te teken, besef. Ondanks ’n paar mediese terugslae, het hy verbete daaraan bly werk en besluit om dit as ’n doktorale skripsie voor te lê aan ’n akademiese instelling.

“Ek wou graag my oorspronklike werk, met ’n grammatika van isiXhosa uit isiXhosa self voortsit,” vertel Oosthuysen, “maar was nog altyd te besig met Bybel- en kerklike vertaalwerk.  Die laaste jaar of twee probeer ek om vertaalwerk te vermy en kon ek nou, met my bestaande kaartindeks (wat ek tydens die proeflees van die 1942-Bybel opgestel het), aangevul met behulp van ’n rekenaar, ’n outentieke weergawe van die grammatika van die isiXhosa van die 1942-Bybel opstel.”

En nou, danksy die positiewe uitwerking van intensiewe behandeling kon Koos Oosthuysen op Donderdag, 31 Januarie, op 79-jarige ouderdom amptelik sy stoel inneem vir 2013 aan die Universiteit van Rhodes op Grahamstad se Skool van Tale as navorsingsgenoot, na aanleiding van sy tesis A critical analysis of the grammar of isiXhosa as used in the Revised Union Version of the Bible (1942/1975).  Hy het sy doktorsgraad daarvoor ontvang op Vrydag, 5 April.

Ungadinwa nangomso, Koos. “Moenie môre moeg word nie” – gaan so voort!

Mariëtte Odendaal
April 2013

 

Lees ook gerus Antjie Krog se huldeblyk oor Koos by https://www.litnet.co.za/koos-oosthuysen-1933-2021-vertaler-van-veelvoud/