Vlnr: (Agter) Annlie en Stéphan. (Voor) Stephan, Carina, Lodewyk en Cornelius

 

Dis veral met Nuwejaar dat ’n mens baie bewus word vanwaar die nuwe dag rooi begin breek in die Verre Ooste; daar waar Japan een van die eerste lande is wat klappers begin skiet. Dan raak mens baie warm om die hart as jy onthou dat ons ook dáár ’n NG Kerkgeloofsfamilie het wat oor baie jare strek.

Een van ons sendelingspare wat al sedert 2008 daar betrokke is, is Stéphan en Carina van der Watt en hul vier kinders, Annlie (14), Cornelius (12), Lodewyk (10 in November) en Stephan (8 in November) wat tans in Kobe woon.

Stéphan is as die jongste van vier seuns in Humansdorp gebore en getoë waar sy pa steeds deeltyds boer en sy ma vir baie lank matrone van die plaaslike hospitaal was. Sy ouers het ’n groot invloed op die vorming van sy geloofslewe gehad. Die NG Kerk Humansdorp-Oos se destydse predikant, ds. Jan Coetzee en die jeugwerker, Mariëtte Dreyer het ook rigtinggewende ondersteuning in sy worsteling met en uiteindelike besluit om teologie te gaan studeer, gebied.

Sy vrou, Carina, is in Port Elizabeth (nou Gqeberha) tydens haar sendelingouers, Tobie en Annlie de Wet, se Japan-deputasie in Suid-Afrika in 1977 gebore.  Toe sy vyf was, moes haar ouers egter weens sanksies, ook teen die NG Kerk, vanaf Japan terugkeer. (Hulle is eers 18 jaar later weer terug.) Carina voltooi haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Andrew Rabie in Port Elizabeth en word in hierdie vormingsjare as kind sterk deur haar ouers se geloofslewe beïnvloed. Haar pa se integriteit, nederigheid en proaktiwiteit en haar ma se vasbyt te midde van uitdagende omstandighede het Carina veral geïnspireer in haar eie geloofsreis.

Stéphan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy sy doktorale proefskrif, Images of men and masculinities within cultural contexts: A pastoral assessment, in 2007 met prof. Daniël Louw as studieleier behaal. Stéphan se studiejare op Stellenbosch en sy werk daarna by BUVTON (nou Communitas) en die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes het hom deeglik toegerus vir sy roeping binne die NG Kerk en later die breër NG Kerkfamilie.

Carina studeer ook aan die Universieit van Stellenbosch en behaal ’n Meestersgraad in Ekonomie. Haar tesis handel oor sosiale kapitaal waar sy die problematiek van ongelyke inkomste en die gevolglike spiral of poverty wat moeilik deurbreek word, ondersoek.

Nadat Stéphan en Carina in 2005 getroud is, is hy na Aliwal-Noord beroep waar hulle vir meer as drie jaar gedien het. In Desember 2006 gaan besoek die jonggetroude paartjie Carina se ouers in Japan en die jaar daarna kom die De Wets vir ’n lang deputasie-tyd na Suid-Afrika. Al hierdie bekendstellingswerk wat hulle in gemeentes landwyd gedoen het, het vir Stéphan sensitief begin maak vir die noodkreet van ons susterskerk, die Reformed Church of Japan(RCJ), op Shikoku-eiland. Hy begin ook die waarde van die vennootskap tussen kerke vir Missie Japan besef.

Alhoewel Carina grotendeels in SA grootgeword het, was Japan altyd deel van haar ouerhuis; haar ouers het altyd gehoop dat hulle weer sou teruggaan. Op ’n indirekte manier was die bediening in Japan dus altyd deel van Carina se grootwordjare en het dit later direk deel van haar lewe geword toe Stéphan die sendingroeping na Japan baie sterk (en onverwags!) ervaar het.  Alhoewel sy nooit kon droom dat sy eendag weer in Japan sou woon nie, was haar eie roepingsbesef na Japan ’n geleidelike en steeds groeiende besef van God se vorming en leiding deur al die jare.

Gedurende 2008, in ’n onseker tyd oor of die Here hulle wél na Japan roep, het beide Stéphan en Carina baie gebid oor duidelikheid.  Die Here het veral in en deur hul stiltetye en verskeie Skrifgedeeltes, soos Jesaja 49:1-7, Japan telkens op hul pad gebring. Hierdie ervarings het uiteindelik aan hulle bevestig dat die Here hulle na Japan roep en in April 2009 vertrek hulle as sendelinge waar hulle nou al vir meer as 12 jaar werk.

Vir die eerste ses-en-’n-half jaar was hulle op die platteland in Tokushima as samewerkende sendelinge in die RCJ betrokke. In hierdie tyd het hulle geleer hoe om in die Japnnese konteks te opereer en hoe gemeentes en die Christelike geloofsgemeenskap as deel van die 1% minderheid van Christene in Japan funksioneer.

Die daaropvolgende ses jaar tot nou was Stéphan spesifiek betrokke by teologiese opleiding by die Kobe Reformed Theological Seminary; ’n uitdagende, maar verrykende steil pad waarop hy nog steeds baie leer.

Carina is by kinderbediening betrokke en is die ondervoorsitter by hul gemeente se Vrouebediening. Sy is ook voltyds besig met die tuisonderrig van hul vier kinders; ’n veeleisende taak. Terselfdertyd moet sy te enige tyd regstaan vir gaste – vanuit die buiteland en ook Japan – en by die kweekskool verskeie gasvryheidsverpligtinge nakom.

Van hul grootste uitdagings is die voortdurende verdieping van hul Japannese taalvermoë en die gepaardgaande stres van ’n kruiskulturele lewe. “Isolasie en kulturele spanning is maar altyd deel van ons lewens in Japan,” vertel Carina. Hul kinders wat as third culture kids in ’n drietalige tuisonderrig-opset hul identiteit moet ontwikkel, is ook ’n reuse-uitdaging. “Dis moeilik om al die balle in die lug te hou,” verduidelik Carina. “Die werksetiek in Japan is baie hoog; mense neem min verlof en naweke is dus net so besig soos weeksdae.”

Stéphan vertel: “Ons word dikwels geïnspireer deur die lewenswandel van Japannese Christene wat toegewyd streef na die oproep van Paulus in Efesiërs 4 se eerste verse: om beskeie, vriendelik, geduldig en verdraagsaam te wees, én eenheid te handhaaf. By ons Japannese broers en susters leer ons: minder is meer. Die RCJ leef baie offervaardig en met oop hande en harte.”

Carina en Stéphan se droom vir die kerk in Japan is dat die brose en klein gemeentes in Japan as getroue getuies van God se liefdevolle trou van krag tot krag sal groei. En verál dat die volgende generasie van leiers die geloofsmoed sal hê om te bly vernuwe en om relevante en Skrifgetroue bedieninge te bly kweek. Hulle hoop dat die kerk in Japan ’n ruimte van hoop en bemoediging sal raak vir soveel Japannese wat intense isolasie en sosiale werksdruk ervaar.

Stéphan is baie lief vir die natuur en sport. Hy is ook leergierig en bou graag netwerke en betekenisvolle verhoudinge. Carina is ook lief vir die natuur en lees graag, is leergierig en ’n vindingryke planmaker, haar grootste plesier – om hul kinders te hoor lag en haar man te sien dans!

Ons bid dat ons susterskerk in Japan bemoedig sal word deur die Van der Watts se verbintenis met ons kerk hier in Suid-Afrika, vanwaar hulle as sendelingspaar kosbare brugbouerswerk doen.

En mag ons volgende jaar met ander oë (en harte) die Nuwejaar ingaan as ons na die Verre Ooste kyk!

Mariëtte Odendaal
Met dank aan Vrypos, Sinode Vrystaat

2 Responses to Ontmoet Missie Japan se Van der Watts
  1. Comment *Hallo julle,
    Dit is goed om so van julle werksaamhede te lees. Ons gesin het ‘n stewige band met die Christene in japan. My tweede oudste seun en sy vrou Cecile het 17 jaar in Japan met wyle Niël Verwey en sy span naby Nara op die hoofeiland saam gewerk . Ons het maar so die pad met hulle saamgeloop deur gebed en ander steun.
    Toe is hulle deur n gemeente in Pretoria gevra om ,n Skool vir swart kinders by Vastfontein te kom help ontwikkel tot ‘n hoërskool. Die werk was baie geseënd tot die gemeente wat hulle geroep het finansiële probleme ontwikkel het.
    Hulle het toe moes afskeid neem daar. Tog was ons Vader getrou en het hulle weer op Oudtshoorn gevestig geraak waar Albert nou Engels doseer by ‘n Vliegskool daar. Cecile gee klas by ‘n privaatskool en hul seun Altus gee engelse lesse op die internet vir veral studente in die Ooste.Onthou ek reg het hulle dikwel met die deWets kontak gehad Seën vir die vd watts wat ‘n uitdagende taak in Japan het Groete uit Mosselbaai

    • Baie dankie vir die seënwense en interessante nuus. Mag die Here julle en jul kinders se werk ook seën.

Comments are closed.


[top]