Kobus op sy gelukkigste
Op Donderdag 30 September 2021 tree dr Kobus Odendaal, na 14 jaar en 9 maande diens by die Gesamentlike Getuienisaksie van Kaapland as Predikant in Sinodale Diens (PSD) af. Kobus se besondere vaardighede sal gemis word. Hy het aanvanklik die pos as bestuurder van die Taakspan Afrika Ekumene in 2007 vir die Gesamentlike Getuienisaksie van die VGK en NGK opgeneem. In 2014 word hy PSD en in 2015 neem hy oor by Johan Botha as bestuurder van die Diensgroep Getuienisaksie.
Kobus het deurentyd nuwe vaardighede aangeleer om die take wat die Here op ’n gegewe tydstip aan hom opdra effektief uit te voer. In 1974 begin hy studeer vir die BA Admissie-graad aan Stellenbosch, met Maatskaplike Werk en isiXhosa as hoofvakke. Hy voltooi sy BTh-graad en Honneurs in isiXhosa, wat hom voorberei vir sy eerste Xhosa-gemeente in die Oos-Kaap. Gebore in Queenstown, is hy vroeg geïnteresseerd in die taal en kultuur van die maXhosa. Sy pa praat vlot isiXhosa en inspireer Kobus hierin.
Tydens sy 13 en ‘n half jaar bediening in die NG Kerk in Afrika-gemeente van Qonce in King William’s Town, fokus Kobus veral op die ontwikkeling van leierskap in die tien wyksgemeentes. Hy was bevoorreg om dr Koos Oosthuysen, koördineerder van die isiXhosa Bybelvertaling as mentor en kollega te hê. In hierdie tyd is hy ook saakgelastigde van die NGKA Kaapland en werk nou saam met die moderatuur onder leiding van ds Fezi Mbenenge.
Hierna sluit Kobus aan by die familieboerdery van sy vrou, Mariëtte, in die Swartland. Terselfdertyd is hy tentmaker-predikant van die Xhosa-sprekende VGK-gemeente aan die Weskus en raak betrokke by Praktika in Piketberg waar hy bestuursopleiding doen en arbeidsverhoudinge in die tafeldruif- en sitrusbedryf hanteer.
In 2007 word Kobus in die pos vir Afrika Ekumene by Getuienisaksie aangestel. Hy lê hom daarop toe om die historiese verhoudinge met die NG Kerkfamilie in Malawi, Mosambiek en Zimbabwe verder uit te bou en lidmate van die NG Kerk bloot te stel aan broers en susters in Afrika. Kobus werk onvermoeid aan die vestiging van netwerke soos die Mosambiek Hub, Reformed Family Forum en NetAct. Hy is in sy wese ’n netwerker wat saam met ander in die Here se koninkryk dien.
In 2014 word Kobus aangestel as PSD van die Diensgroep Getuienisaksie. In hierdie fase benut hy sy organisatoriese- en verhoudingsvaardighede om die omvangryke werksaamhede van die Gesamentlike Getuienisaksie uit te bou en struktureel te vernuwe. Kobus se administratiewe kennis en waardering vir mense se gawes het bygedra dat Getuienisaksie ’n omvangryke en effektiewe diensarm van die VGK en NG Kerk in Kaapland is.
Die laaste paar jaar was Kobus en sy vrou Mariëtte ’n gedugte span, met Mariëtte wat haar taalvaardigheid diensbaar stel om die kommunikasiebediening van Getuienisaksie te vestig. Ons dank die Here vir hulle lewe en getuienis. Wat ’n voorreg om hulle te ken.
Eddie Orsmond
Getuienisaksie: Dagbestuurslid
