Foto: Daniël de Wet (Getuienisaksie), Chrispin Banda, Arnold Saka (skriba), Biswick Nkhoma (moderator), Edward Tembo en Vasco Kachipapa (algemene sekretaris)

 

In Julie 2007 het ‘n roomkleurige 1994-model Land Rover die vlaktes hier oor Suid-Afrika aangepak na Zimbabwe, Mosambiek en Malawi. Die insittendes was die bestuurder van Getuienisaksie se vennootskappe met ons susterskerke in Afrika, Martin Pauw, en sy opvolger, Kobus Odendaal. Martin was op ‘n missie om Kobus aan al ons susterskerke se leiers te gaan voorstel. Na 14 jaar en 9 maande was dit hierdie maand Kobus se voorreg om dieselfde met sy opvolger, Daniël de Wet te kon doen – helaas, weens Covid-19 nie weer met die Landi nie, maar per vliegtuig, beginnende met ons susterkerk in Malawi, die Church of Central Africa Presbyterian (CCAP).

“Dit was ‘n besondere ervaring om uiteindelik in Malawi te kon wees,” vertel Daniël wat sedert 1 September die pos by Kobus begin oorneem het. “Van kindsaf het ons by die Kinderkrans muntleggings vir die sendingwerk in Malawi gehou en het ons gebid vir die werk wat daar gedoen word. En om nou daar te kon loop en te dink aan al die sendelinge wat vir soveel jare daar gewerk het … Dit was baie spesiaal. En om die mense te kon ontmoet wat vandag daar werk en te weet hiérdie is ons broers en susters en ons is saam met hulle Kerk in Afrika; dit alles was ‘n groot hoogtepunt.”

Op 6 September het Daniël en Kobus veilig in Lilongwe geland en in Louise Laubscher se gastehuis, Makuni Lodge, oornag. Die volgende oggend het hulle haar bestuurspan van Fishers, Trainers and Senders Ministries ontmoet. “Wat ‘n fantastiese bediening,” vertel Daniël. “Om te sien hoe Louise al daardie werk aangepak en met fondswerwing en ‘n klomp ander aksies gewoeker het om die perseel daar uit te brei, is merkwaardig. As ‘n mens nou iewers ‘n voorbeeld wil sien van ‘n bediening wat ‘n werklike verskil maak, is dit deur daardie werk wat hulle doen.”

Die volgende dag was hulle na Nkhoma. “Dit was baie spesiaal om die  algemene sekretaris van die CCAP Nkhoma Sinode, ds Vasco Kachipapa, te kon ontmoet,” vertel Daniël. “Ek is met soveel opregte hartlikheid in hulle midde verwelkom, ook waar ons middagete aan huis van die Kachipapas geniet het.”

Op 8 September was Daniël en Kobus op besoek aan die Josophat Mwale Theological Institute (JMTI ) op Nkhoma wat ook ‘n lid van NetACT is. Nkhoma Sinode stuur gereeld predikante vir nagraadse teologiese studies na die Universiteit Stellenbosch. Hulle is hartlik deur M’busa Zeze (een van die dosente by JMTI) en dr Katundu (hoof van JMTI en dekaan van die Fakulteit Teologie by die Universiteit van Nkhoma) ontvang en rondgewys. Daniël vertel: “Ons het ‘n groep studente tydens een van hul lesings ontmoet en my indruk was dat hulle gemotiveerd en ernstig oor hul teologiese studies is. Ons het ook ‘n goeie gesprek met dr Katundu oor voortgesette bedieningsontwikkeling van predikante van die CCAP gehad. Ek sien uit na inisiatiewe van JMTI wat op hierdie area sal fokus.”

Daarna was Daniël en Kobus op besoek aan die waterwerke van Nkhoma waar Moffat Mpepo en Jaco Slingerland (van Delft, Nederland, wat in 2019 by Hennie Smit oorgeneem het) hulle ontvang en rondgewys het. Daniël vertel: “Die waterwerke is indrukwekkend. Ek kan sien dat personeellede wat vroeër op Nkhoma was, oor baie jare uitstekende werk ten opsigte van die infrastruktuur gedoen het. Moffat, die nuwe bestuurder wat by Jaco Slingerland sal oorneem as hoof van die waterwerke, is deeglik opgelei en ek glo dat hy goed sal vaar.

“Ons is baie dankbaar vir die gasvryheid en heerlike verblyf by Jaco en Anna Slingerveld op Nkhoma,” vertel Daniël. “Hulle is toegewyd en uitstekend in hul werk; Jaco by die waterwerke en Anna by die hospitaal. Die hospitaal word tans uitgebrei en daar is heelwat nuwe eenhede in aanbou. Dr. Salvador de la Torre, die mediese direkteur van Nkhoma Hospitaal, het beklemtoon dat die kerk waarde moet toevoeg tot die gemeenskap en so die liefde van God moet uitleef.”

Op 9 September het Daniël en Kobus het ook ‘n baie sinvolle ontmoeting met die moderatuur van die CCAP gehad. Daniël vertel: “Dit was wonderlik om te weet ons ontmoet mekaar as susterskerke – ons kom nie daar aan met al die antwoorde nie, maar ons kom sit en dink saam oor die uitdagings van kerkwees in hierdie tyd. Ons het oor baie praktiese dinge gesels, soos teologiese opleiding in hierdie tyd van die pandemie, oor die voortgesette bedieningsontwikkeling van predikante, veral jong predikante wat soms swaar kry in die bediening omdat daar baie druk en verwagtinge is – soortgelyke ervarings wat ons predikante ook het. So kon ons saam daaroor gesels en nuwe moontlikhede ontgin. Groot waardering is uitgespreek vir die mooi verhouding met ons susterskerk in Malawi, ook vir die leiers van die CCAP en dat hul sinodesitting in Oktober geseënd sal wees.”

Die middag was Daniël en Kobus op besoek aan dr Davidson Chifungo, nasionale direkteur van Veritas College Malawi en ook Veritas College Internasionaal se direkteur van opleiding in Sub-Sahara Afrika. (Davidson het destyds sy doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal.)

Die aand het Daniël en Kobus ‘n goeie ontmoeting met Willem-Henri den Hartog in Lilongwe, Malawi, gehad. Willem is die streekkoördineerder van die GZB  in Suidelike Afrika. Die GZB is ‘n sendingorganisasie binne die Protestantse Kerk in Nederland. Willem is ook ‘n deeltydse dosent by die CCAP in Malawi. “Willem is goed op hoogte van die kerklike gesprek in Suid-Afrika,” vertel Daniël. “Hy volg alles wat hier aan die gebeur is en dit was lekker om hom ook as klankbord te kon ervaar  ten opsigte van die werk wat hulle as ‘n sendingorganisasie doen en waar ons fokus binne die getuienis in Afrika lê.”

Die volgende dag is hulle af na Dedza waar hulle by nog ‘n oud-Matie, die uitstekende storieverteller, dr Chata Msangaambe (CCAP Dedza) aangegaan het. Daarna het hulle vir Jannie Smit van Chandame (70 km suid van Vila Ulongue in Mosambiek) op die Dedza-grens gaan groet.

En natuurlik moet mens dan by die meerhuise langs die Malawi-meer jou batterye na so ‘n vol program gaan laai – iets wat Daniël (en natuurlik Kobus ook) besonder geniet het. Op pad na die meerhuise is hulle toe ook aan by dr en mev Katani (leraarspaar van CCAP Salima) vir ‘n blye weersiens. Hy het ook, soos drs Chifungo en Msangaambe, sy doktorsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. “Dit was ‘n voorreg om hierdie dinamiese leraars beter te leer ken,” was Daniël se woorde aan die einde van dié dag.

Daniël sluit af: “Die sendingstasie, Nkhoma, het my diep geraak. Vanaf die hospitaal – om te sien hoe dinge oor die jare ontwikkel het, hoe baie vrywilligers van ander lande daar werk, veral vanaf Nederland en die VSA. Mense wat in mediese sorg, onderwys en ander terreine werk was ‘n verrassing en ek sou graag wil sien dat daar in die toekoms veral meer van ons jongmense ook weer daar sal gaan diens lewer; daar is sulke wonderlike geleenthede.

“My visie vir die toekoms is om nog meer van ons leiers daar te kry (daar was al heelwat van ons leiers daar op besoek) en hande te vat met ons broers en susters in Malawi. Daar is baie Malawiërs wat in Suid-Afrika woon. Om verskeie redes kan die CCAP-predikante tans nie werkspermitte kry om hier in Suid-Afrika te kom werk nie, so daar moet ook gekyk word na die toerusting en opleiding van Malawiërs wat reeds in Suid-Afrika woon, en hulle gemeentes hier te help. In hierdie opsig het ons ‘n groot rol te speel – ‘n wonderlike uitdaging vir ons VGK en NG Kerk waar ons saam in hierdie getuienisbediening is; om te weet en te erken ons is Kerk in Afrika en stap saam met ons mense in Malawi op hierdie geloofspad.”

Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.