‘n Lugfoto van die Papenkuilslvleiland by Worcester geneem deur Rudolph Scharneck.

 

Sondag 26 September is dit Wêreld Rivieredag. Een van die bekendste riviere in ons sinodale gebied is die Breederivier. Rudolph Scharneck van die Groenspan het ‘n lidmaat in sy gemeente wat baie betrokke is by die bewaring van die Breederivier en vas glo die Here het haar vir hierdie taak geroep. Haar naam is Elkerine Rossouw en sy woon in Rawsonville. Hy het met haar gesels om meer uit te vind waarom die Breederivier so belangrik is en wat die kerk en gemeenskap se rol in die bewaring van ons land se riviere in die algemeen is.

Elkerine werk tans vir die Breede-Gouritz Opvangsgebiedbestuursagentskap.  Sy is die watergebruikspesialis vir die Breederivier-opvangsgebied en bestuur die waterhulpbronne basies vanaf Ceres tot in Witsand.  Sy werk nou al 11 jaar vir die CMA (Catchment Management Agency) vanaf hulle Worcester-kantore. Haar werk behels onder andere die volgende:

  • Advies aan watergebruikers ten opsigte van hulle watergebruike en evaluasie van waterbehoeftes volgens watergebruik.
  1. Min mense weet dat daar volgens die Nationale Waterwet, 1998, 11 watergebruike is.  Die mees algemene hiervan om te bestuur is:  die neem van water, die stoor van water, die aktiwiteite binne die riviere en rivieroewers wat die vloei en die eienskappe van die waterbron kan verander en die drie watergebruike wat te doen het met die moontlike besoedeling van water.
  2. Kommentaar aan verskillende staatsdepartemente vir hersonering, konsolidasies, omgewingsaansoeke (impakstudies vir nuwe projekte ens.)
  • Die monitering van die waterbron.
  1. Dit sluit in die volume water wat onttrek word, sowel as die waterkwaliteit van water binne die rivierstelsels.
  2. Ook die monitering en die oudit van lisensievoorwaardes
  • Die evaluasie en aanbevelings rondom waterlisensie-aansoeke.
  1. Waterbalanse vir eiendomme.
  2. Impakte op die ekologie, ens.

Oor die belangrikheid van die Breederivier beklemtoon sy ‘n paar dinge:

Die Breederivier is ongeveer 379 km lank en verskaf water aan die landbougemeenskap en landbouverwante industrieë. Daar is ook water wat uit die Breederivier gepomp word om aan die dorpe Ashton en Montagu water te voorsien. Die rivier is ‘n broodnodige aar om gemeenskappe van werk te voorsien en nie net ‘n inkomste vir die area nie, maar weens intensiewe uitvoerbedrywe dit ook vir ons land te bied.

Alhoewel die Breederivier baie belangrik is, moet mens dit egter nie as ‘n eenheid op sy eie beskou nie.  In hierdie geval het menslike aktiwiteite in die sytakke ‘n groot impak op die hoofstroom en so dan ook op die Breederiviermond by Witsand.

Binne die Breederivier is daar twee groot vleilande wat ‘n baie belangrike funksie in die vloedbeheer en ook ten opsigte van die watergehalte van die Breederivier het.  Die grootste hiervan is die Papenkuilsvleiland by Worcester.

Daar is ‘n hele klompie faktore wat die rivierstelsel bedreig. Hulle is ook altyd aan die werk om skade wat in die verlede aangerig is, te herstel.

Die bedreigings wat ons daagliks mee te doen kry, wissel van besoedeling tot onwettige boerdery-aktiwiteite binne riviere en hulle oewers.

Besoedeling kan mens sommer partymaal sien (vastepuntbesoedeling) soos waar daar strome deur ons dorpe vloei en rommel of vullis vanaf die stormwater die rivier binnedring. Daar is egter daardie besoedeling wat mens nie sommer so sien invloei vanaf kampterreine nie, en wat nie voldoende sanitasie-onderhoud doen nie; mense wat goed in riviere stort of water wat moontlike gifstowwe bevat wat die natuurlike bronne binnedring.

Oorgebruik of aktiwiteite wat tot op die oewers plaasvind, het sedert ons voorvaders se tyd veroorsaak dat die rivier (veral die Breederivier) op plekke nou so bewerk is dat dit niks anders as ‘n kanaal is nie. Sodra die rivier dan in vloed gaan, kan dit op hierdie plekke geweldige skade aanrig. Dit word dan weer ge”bulldoze” en so herhaal die storie oor en oor.

Dit veroorsaak ook dat die stroomafgebruikers (wat soms selfs net die natuur is bv. ‘n vleiland) so geweldig negatief beïnvloed word dat ons die funksie van die rivier daar verloor.

Oor die regering se pogings om die rivier te beskerm en bewaar en venootskappe met privaat-organisasies aan te gaan, sê sy die volgende:

In die Breederivier is ons baie gelukkig want die verskeie staatsentiteite werk baie nou saam met mekaar om die riviere te probeer beskerm en waar dit moontlik is skade te herstel.

Ons kom kwartaalliks bymekaar en bespreek ons onderskeie – en oorvleuelende rolle met mekaar om sodoende betyds met aksies vorendag te kom en ook by mekaar advies en ondersteuning te soek.

Die Departement Landbou het ‘n groot rol gespeel in die daarstel van Riveronderhoudsbestuursplanne (River Maintenance Management Plans) vir ‘n klomp van die sytakke en die Sentraal Breederivier.  Hulle het vloedskadefondse aangewend vir die nodige studies, ens. om boere te help om binne die nodige wetgewing te kan werk sonder om addisionele fondse aan te gaan.

WWF en die Wolseley Watergebruikersvereniging het die Kluitjieskraal-vleiland met behulp van Coke as ‘n privaat deelnemer kon skoonmaak van uitheemse bome terwyl in Ceres die Ceres Business Initiative vir die Dwarsrivier met fondse ingestaan het.

Die Holsloot-boere en so ook die Sentraal Breërivier-boere het binne hulle watergebruikersverenigings begin fondse kry as ‘n heffing wat hulle vir slegs rivierrehabilitasie aanwend as addisionele fondse tot wat hulle by die staat kan kry. In ons area weet ek ook dat die Breedekloof Wine en Tourism so betrokke is by van die staat en privaat projekte.

Ek kan nog baie sê oor die uitwerking op sosiale vlakke van hierdie projekte in terme van werkskepping, ens.

Ons as gewone mense het natuurlik ook ‘n rol te speel om hierdie rivier, maar ook alle ander riviere te bewaar sodat ons nageslagte ook nog voordeel daaruit kan put.

Ek vra gereeld dat mense wat toerisme-byeenkomste, bv. bergfietsry-, hardloop- of roei-kompetisies of gebeurtenisse in ons area aanbied, daaraan dink om ‘n gedeelte van daardie fondse aan die Watergebruikersvereniging of Besproeiingsraad spesifiek tot riverbestuur of rehabilitasiewerk te skenk.  Mens moet so ‘n bietjie agtergrond hê rondom die manier waarop die bome se voortplanting werk om te verstaan dat die proses nie vinnig afgehandel sal word nie. Een van die bome het ‘n saadpod wat tot sewe saadjies bevat, maar elke saadjie is so “geprogrammeer” dat hy binne ‘n aantal jaar van nou af eers sal ontkiem.  Die staat sal nooit genoeg fondse op hulle eie kan genereer om hierdie taak af te handel nie.

Gewone mense kan eerder binne hulle tuine van die inheemse plante van die area plant. My man se oupa het weer gesê dat as dit nie eetbaar is nie, dit nie in jou tuin hoort nie … dalk ‘n ander manier om na jou tuin te kyk.

Ons kan kyk na waarheen ons vullis stuur. Watter soort produkte gebruik jy?  Is dit herwinbaar?  Ondersteun dit ons plaaslike markte?

Onthou ‘n rivier is lewend (nes ek en jy) – dit het suurstof nodig, dit moet vloei, dit moet plek hê om te werk (vloedvlaktes en vleilande) en dit kan nie vir ons sorg as ons nie daarvoor sorg nie.

Ek wil mense aanmoedig om in jou straat in die dorp, in jou erf, op jou plaas, op die skoolgrond gereeld skoonmaakwerk te doen. Ek onthou as kind was daar elke week vir ‘n ander klas gevra om op Woensdagoggende gedurende die eerste pouse die skoolgrond skoon te maak.

Ek wil mense aanmoedig om betrokke te raak by gemeenskapsprojekte wat die skoonmaak van die natuur behels (al is dit ‘n parkie) of om iets te begin as daar nie sulke projekte is nie.

Laastens, die rol van die kerk:

Die kerk bestaan uit mense, en mense is in Genesis al opdrag gegee om na die natuur om te sien.

Hoe kan mense betrokke raak?

  • Sopkombuise – dalk kan kinders of volwassenes aangemoedig word om vullis in ‘n inkopiesak saam te bring in ruil vir sy koppie sop?
  • Ruilhokkies – bv. Grabouw se ruilhokkie waar kinders plastiek kan ingee in ruil vir punte wat later in potlode en penne en boeke vir skool en soms ‘n blikkie kos gebruik kan word.
  • Rivier- of stormwaterskoonmaakprojekte – werk saam met die plaaslike munisipaliteit om werklose mense te gebruik vir ‘n minimum loon om skoon te maak in informele areas waar die stroom, kanaal of sloot wat daardeur vloei, weekliks skoongemaak word deur die bewoners van daardie area.
  • Groentetuine – help mense om die natuur en die waterbron te waardeer deur te verstaan hoe water gebruik kan word om in jou eie erf ‘n huistuin te maak met groente soos spinasie, aartappels in ‘n buiteband, tamaties in vyfliter bottels, ens. deur die grys water daarvoor te gebruik in plaas daarvan om dit in die rioolsisteem te laat verdwyn. Mense kan ander help met die inligting, die “mentoring”, die saad, die toerusting aan klein skooltjies, ens.

Sy deel ook ter afsluiting ‘n persoonlike getuienis:

“Baie jare gelede het ek besluit om Mediese Tegnologie-kwalifikasie te laat en eerder Watersuiweringstegnologie te swot.  In 1995 leer ek van die Nationale Wet se Witskrif en in daardie Witskrif van die funksies wat eendag aan die CMA toegeken sal word.  So weet ek dis waar ek wil wees.  Nou ja, die Here het my deur die laboratorium as junior laboratorium-assistent in Witbank, deur die plaaslike munisipaliteit as bestuurder van die laboratorium, met ‘n kennismaking van riviergesondheid en monitering in George, na ‘n assistent-tegnikus in Worcester in beheer van die water, riool, vullisterreine en riviere en uiteindelik as watergebruikspesialis in ‘n CMA gevat. Dit het ons so 12 jaar geneem om tot hier te kom en nou is ek al 11 jaar waar Hy my wil hê.  Elke nou en dan raak ek mismoedig met die politiek (beide boere- en landspolitiek) en wil ek net wegloop, maar dan sê iemand iets, of herinner God my aan die goed wat ek kan doen deur net hier te bly en vir Hom te werk!  Ek kyk terug op my pad en sien waar sy hand teenwoordig is, ek sien waar ek Hom dalk so bietjie verloor het en waar Hy my weer gevang het waar ek geval het.  En daarom is ek dankbaar en is ek wie ek is.”

Ons is dankbaar vir mense soos Elkerine wat met groot passie baie hard werk om haar roeping uit te leef om ons uiters belangrike riviere te bewaar en te herstel.

Rudolph Scharneck: rudolphschar@gmail.com