Ds Stephen Pedro (in die middel voor) saam met die VGK Colesbergringslede tydens die werkswinkel
Gedurende die naweek van 17 tot 19 September was ds Stephen Pedro, PSD (Predikant in Sinodale Diens) Gemeentegetuienis op besoek aan Britstown waar hy onder andere ‘n werkswinkel vir die Ring van Colesberg aangebied het waar 25 afgevaardiges van al twaalf die gemeentes van die ring teenwoordig was.
Stephen vertel: “Die doel van die werkwinkel was om ‘n assessering van die stand van sake in die ring en gemeentes te doen en hoe die kerkverband tot sy reg kom en tot opbou van gemeentes ingespan word.
“Ons het ook gefokus op hoe die sinodale diens, wat tot beskikking van ons ringe en gemeentes is (veral ‘vakante’ en klein gemeentes), hulle kan ondersteun en begelei, onder andere met betrekking tot die moontlikheid van kombinasie-bediening.
“Wat vir my ook verblydend was, is dat sommige van die afgevaardiges meer as 100 km afgelê het om die werkswinkel by te woon en teen die middag vier-uur was daar nog geen haas om huis toe te gaan nie. Dit was asof ons mense honger is om te praat, ‘n bydrae te lewer en om gehoor te word.
“Op Sondag het ek by die erediens van die plaaslike gemeente ingeskakel en die Woordverkondiging waargeneem. Na die diens het ek ook met die plaaslike kerkraad in gesprek getree oor die verhouding tussen die plaaslike Xhosa- en Afrikaanssprekende gemeentes.”
Die verhoudingsbou tussen die VGK en NG Kerk is ook ‘n baie hoë prioriteit vir Stephen. Hy vertel: “Ek het ook ‘n gesprek met die plaaslike leraarspaar gehad. Eztian Mentz is leraar van beide die VGK en NG Kerk wat hy binne ‘n kontraktuele ooreenkoms bedien. Die doel van my besoek aan hulle was om die leraarspaar te bemoedig en te praat oor die verhouding tussen die plaaslike VGK- en NG Kerkgemeentes.”
Ons is verheug oor die werk wat Stephen ten opsigte van ringsbemagtiging en veral verhoudingsbou tussen ons verskillende denominasies help bou. Hy en sy span beoog ‘n opvolgontmoeting om veral dan verder te fokus op sake soos die kombinering van klein gemeentes, die tussenorde en die toepassing daarvan.
Stephen, mag die Here jou met die nodige energie en insig wat van hierdie werk vereis word, toerus.
Kontak ds Pedro by stephen@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
