Die vertalingspan van links na regs: Alfonso Fabio Daimone, Bernardo Manuel Dinala, Gerard Olivier, Domingos Manuel Assibo en Raimundo Luis Nande
Na 22 jaar se harde werk en toegewyde deursettingsvermoë, het die Makhua Shirima Bybelvertalingsprojek in Noord-Mosambiek by Muapula ‘n hoogtepunt bereik toe die volledige Makhua Bybel die naweek van 9 tot 10 Oktober amptelik by Muapula in Noord-Mosambiek, in ontvangs geneem is. Dit is die plek waar Frits en Nickey van der Merwe sedert 1995 sendelingspaar is.
Dit was jare se vertaling en harde werk deur die vertalingskoördineerder, Gerard Olivier en sy span vertalers.

Die volledige Makhua Bybel
Die Makhua Shirima-groep in Noord-Mosambiek is een van 12 Makhua-tale (nie dialekte nie) wat kollektief ongeveer 6 miljoen mense uitmaak. Van hierdie is enige iets van 500, 000 tot 800, 000 Shirima-sprekers. Hulle het nie toegang tot ‘n Bybel in Makhua Shirima nie en oor die 90% van hulle se Portugees is te swak of hulle kan dit glad nie praat nie, met die gevolg dat die grootste deel van hulle sonder die Woord van God moet klaarkom of van Lomwe gebruik maak wat verlangs familie van hul taal is, maar nie hulle hartstaal is nie.
Die vertalingprojek is onder die vleuels van die CLM (Christelike Lektuurmaatskappy) in Port Elizabeth voltooi waarvan ds Giep Louw die voorsitter is. Kobus Odendaal, vorige taakspanbestuurder van Afrika Ekumene van Getuienisaksie (https://getuienis.christians.co.za/) het ook op die direksie gedien. Gerard is ook tentmaker in Grasvoëlkop Gemeente, Port Elizabeth en getuig dat die kerkraad die projek op hulle harte dra en hom vrygestel het om te doen wat nodig was vir hierdie uitdagende taak.
Gerard en sy gesin het vanaf 1998 tot 2006 in Muapula gewoon waar hy die Nuwe Testament in Shirima voltooi het en dit in 2007 op Muapula ingewy. Na drie jaar van gemeentewerk in Port Elizabeth het Gerard aan die begin van 2009 die koördinering van die vertaalprojek van die Ou Testament in Shirima geïnisieer. Dit is gedoen in samewerking met die vertaalgroep in Muapula en onder die vaandel en opsig van CLM. In September 2018, na byna 10 jaar se werk aan die Ou Testament, het hulle die laaste paar boeke van die Ou Testament gekontroleer om so die eerste konsep (draft) te voltooi.
Die proefkopie van hul eerste konsep van twintig Ou Testament-boeke is in 2017 gedruk (danksy die suksesvolle fondsinsameling) en solank met groot vrug in die gemeenskap gebruik. Aan die begin van 2018 is ʼn TWEEDE konsep-kopie van nog tien Ou Testament-boeke gebind. Die gemeente en vertaalspan was baie beïndruk en bly oor die konkrete boeke in hulle hande. Vir die vertalers wat vir jare lank “onsigbaar” moes werk, was dit baie bevredigend om uiteindelik, na soveel jare, sigbare bakens van baie goeie vertalingsvordering vir mense te kon wys. Aan die einde van 2018 was die eerste konsepbundel van die hele Ou Testament (vir kontrolering en proefdoeleindes) gebind en is enkele kopieë daarvan gemaak.
Na die afhandeling van die eerste konsepvertaling, moes hulle, met die volle korpus van Ou- en Nuwe Testament tot hul beskikking, dit finaal in terme van sekere ortografiese kwessies, sekere terminologieë en ook die konsekwentheid van vertaalkeuses standaardiseer. Dit beteken dat na letterlik 12 jaar van niks doen aan die Nuwe Testament nie, dit weer besoek en saam met die Ou Testament as dokument integreer moes word: vertaalkundig, ortografies, grammatikaal, ens. Eers dan sou hulle die finale proeflees kon doen.
Albei vertalers en die eerste kontrole/luistergroep in Muapula het getrou hulle bydrae gelewer en ‘n onontbeerlike rol in die proses en kwaliteit van die vertaling gespeel.
Die Christelike Makhua Lektuursentrum, een van die geboue op die sendingstasie in Muapula wat in 2015 daarvoor ingewy is, het ‘n groot rol in die vertalingsproses gespeel; dit het ook ‘n baie wye invloedsfeer. Dit is onder andere die basis waarvandaan die geletterdheidspoging geloods word, asook ander literatuur -, taal – en opvoedkundige inisiatiewe. Hierdie sentrum sal waarskynlik mettertyd die basis word vir die breër Christelike lektuurbediening in Makhua. Domingos beman die sentrum voltyds en was met die eerste – en tweede fase-kontrolering van die Ou Testament behulpsaam, sowel as met geletterdheidsopleiding, ekstra klasse vir leerlinge na skool, volwasse geletterdheid, ens.
Maar hoe is so ‘n groot projek gefinansier? Gerard antwoord: “Dit is net ʼn Godswonder dat ons verlede naweek dié Bybel amptelik kon bekendstel! Ons ondersteuning het meestal van individue en maandelikse bydraes van gemeentes se getuienisaksies gekom. Ons dank ook die Here vir ondersteuning uit Pennsylvania in die VSA wat ‘n groot bydrae gelewer het.”
Frits van der Merwe, die sendeling by Muapula, laat weet: “Die Woord verryk my lewe. Sommige dae memoriseer ek ‘n vers net om beter te kan mediteer oor die inhoud daarvan; somtyds lees ek ‘n gedeelte ‘n paar keer stadig sodat die die Here my kan aanspreek daardeur. ‘n Groot deel van ons gemeenskap met die Here gebeur deur die Woord. Vir die oorgrote meerderheid Makuas is Portugees (die amptelike landstaal) te vreemd, te moeilik om met die Bybel in Portugees so om te gaan. Die splinternuwe Makua-vertaling van die volle Bybel maak hierdie moontlikheid egter vir mense oop. Ons fokus in die komende jare sal wees om gelowiges te begelei om biddend met die Woord om te gaan. Ons mikpunt is dat elke gelowige vertroud sal word met die hele Bybel, en deur die Woord gevestig sal word in Sy liefde en diens.”
Kontak Gerard Olivier by gwolivier@gmail.com vir meer inligting.

Psalm 23
