Openbaring en Ekologie

‘n Sekere soort lees en interpretasie van die apokaliptiese gedeeltes in die Bybel veroorsaak dat baie Christene onaangeraak is deur die ekologiese krisisse van ons dag en ook min motivering of energie het om enigiets daaraan te doen.

Vanaf 200 jaar voor Christus tot ongeveer 150 jaar na Christus het daar ‘n groot groep geskrifte uit Joodse en Christelike geledere ontstaan wat almal bekend staan as apokaliptiese geskrifte. Hierdie geskrifte het ‘n baie groot invloed gehad op die Joodse – en veral vroeg-Christelike denke. Dit is ook duidelik uit die evangelies dat Jesus goed bekend was met die geskrifte. Met die vasstelling van die Protestantse Ou en Nuwe Testamentiese kanon (die Bybel soos die meeste van ons dit vandag ken) is net twee van hierdie geskrifte ingesluit, naamlik Daniël en Openbaring. Die eerste woord waarmee Openbaring begin (apokalupsis: wat met “openbaring” vertaal word) het die versamelnaam geword waarmee hierdie groep geskrifte benoem is.

En dit is o.a. die verkeerde lees van Openbaring wat maak dat baie Christene nie veel erg of energie het om die ekologiese uitdagings van ons tyd hulle besigheid te maak nie. Wanneer ‘n mens Openbaring lees as ‘n boek vol voorspellings oor al die rampe wat letterlik die aarde en al haar inwoners gaan tref, gebeur dit maklik dat ‘n mens hierdie aarde in ruil vir die hemel prysgee. En dan word elke ramp (ook pandemies) ‘n vervulling van die profesie dat hierdie aarde en hemel vervang gaan word met ‘n nuwe aarde en nuwe hemel. En dan verstaan ons Jesus se dood en opstanding as God se verlossingsplan vir ‘n uitgesoekte groep mense (die ware gelowiges) wat die vernietiging van al God se vyande en die aarde met die groot en finale slag van Armageddon sal vryspring om veilig in die hemel te gaan woon.

As ek glo dat God die ganse geskiedenis stuur na ‘n reuse-slagveld tussen goed (God en ware gelowiges) en sleg (bose/duiwel en ongelowiges) is die kans uiters gering dat ek moeite gaan doen om die aarde te red. Dan sien ek elke ramp as God se wil en as waarskuwing aan al die ongelowiges om hulle te bekeer voor dit te laat is. Ek sou dan selfs die oortuiging kon hê dat ek teen God werk as ek enigsins probeer om die rampe wat die aarde tref, te versag of te verhoed. Dan verstaan ek die rampe as deel van God se oordeel oor ‘n goddelose wêreld. My enigste opgaaf is dan om te sorg dat ek ‘n ware gelowige is en dat ek al die ongelowiges waarsku en tot bekering roep. Al skouer-op-trekkend reageer ek dan op die ekologiese rampe met dié woorde: “Dit is alles tekens van die eindtye.” En dan troos ek myself met die oortuiging dat ek gelukkig ‘n ware gelowige is en daarom niks hoef te vrees nie, want my plek in die hemel is verseker. En al wat ek dan doen, terwyl ek nog op die aarde leef, is om na die hemel te verlang en my daarvoor voor te berei deur my lewe te suiwer van alles wat ek as sonde beskou.

Mense wie se oë heeltyd op die hemel gerig is, het nie erg aan die aarde en haar stryd nie, want hulle gaan nie in haar tuis nie. Hulle is hoogstens bywoners en pelgrims wat op reis is na die hemel.

Apokaliptiese literatuur is nie voorspellings nie. Dit is “krisisliteratuur, weerstands-, bemoedigings- en vertroostingsgeskrifte vir gelowige mense wat in die skaduwee van die dood en vervolging gewandel het.” (A.S. Geyser in Die Bybel Leef 1982, JL van Schaik) Juis die lees van apokaliptiese literatuur as voorspellings was medeverantwoordelik daarvoor dat dié geskrifte in onguns verval het vanaf 150 n.C. Dié geskrifte het sommige Jode, soos die Makkabeërs en Selote, aangevuur om ‘n wanhopige stryd te voer om van die juk van Rome ontslae te raak. Dit het gelei tot die oorlog van 66 tot 70 n.C. wat geëindig het met die vernietiging van Jerusalem, die tempel en die Joodse staat.

Openbaring voorspel nie die toekoms nie. Dit troos en bemoedig gelowiges (en ander mense ook) wat aan onderdrukking en vervolging blootgestel word dat die geskiedenis in God se hande is en dat die geskiedenis daarom op ‘n goeie einde afstuur – vir almal – selfs vir God se vyande (Op 21 en 22). En Openbaring gebruik kodetaal en metafore om hierdie goeie nuus te verkondig aan Christene wat aan die Romeinse vervolging onder keiser Domitianus blootgestel is.

Wat is God se verhouding met die aarde?

Soos ‘n refrein herhaal die volgende woorde in Genesis 1 se skeppingsverhaal: “God het gesien dat dit goed is.” (vv. 10, 12, 18, 25). En dan eindig die verhaal met hierdie woorde: “God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.” Dit is net van die mens wat die Bybel sê dat God spyt was dat Hy hulle gemaak het (Gen 6:6). God gee niks prys wat God gemaak het nie – ook nie die mens nie. Joh 3:16 vertel wat agter God se geboorte in die mens Jesus van Nasaret sit, nl. ‘n liefde vir die kosmos. Johannes gebruik hierdie woord “kosmos” meer as 70 keer in sy evangelie en met al die betekenis-nuanses wat dié woord het – met ander woorde volledig inklusief. God se geboorte as ‘n mens is dus nie net ‘n demonstrasie van God se liefde vir die mens nie, maar vir die ganse skepping – ook die aarde! Daarom, volgens Paulus, is dit met die verwagting van ‘n vrou dat die skepping uitsien na die openbaarmaking (apokalupsis) van die kinders van God (Rom 8:19). Die nuutmaak van die mens staan in diens van die nuutmaking van alles – ook die aarde (Op 21:5). Let wel: nuutmaking, nie vervanging nie!

Die aarde bid/verlang/sug, in harmonie en in lyn met God se wil, na mense wat die aarde liefhet en haar nie inruil vir die hemel nie.

Mag jou lewe vir God en die aarde ‘n glimlag gee.

En daar sal vrede wees.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com