Na afloop van die vergadering met lede van die moderatuur van die Reformed Church of East Africa (RCEA). Voor v.l.n.r.: Dr Nico Mostert, ds David Letting (moderator), ds Hannes Theron (NetACT). Agter v.l.n.r.: Ds Daniel Barno (assessor), dr Daniël de Wet, ds Joseph Watila (adjunk-algemene sekretaris) en dr Luca Ariko (algemene sekretaris)
Daniël de Wet, die VGK Streeksinode Kaapland en NG Kerk Wes-Kaapland se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, Nico Mostert, Vrystaat Sinode se direkteur van Vennote in Getuienis en Hannes Theron wat op 1 Januarie 2022 as NetACT-programkoördineerder by Jurgens Hendriks sal oorneem, is tans op besoek aan ons susterskerk in Kenia, die Reformed Church in East Africa.
Die RCEA is in 1944 gestig toe die NG Kerk van Suid-Afrika sendingwerk in Eldoret, Kenia, begin doen het. Die RCEA het in 1963 selfstandig geword en het tans meer as 200 gemeentes en 30,000 lidmate. Dit het ook meer as 110,000 aanhangers. Ons handhaaf steeds goeie verhoudinge met die kerk daar en deur middel van NetACT het ons ook noue kontak met hul teologiese skool, Reformed Institute for Theological Training (RITT) so ‘n paar kilometer buite Eldoret.
Daniël, Nico en Hannes bly tans by die RCEA se gastehuis en konferensiefasiliteit in Eldorette waar hulle op Maandag 22 November baie hartlik deur die algemene sekretaris, dr Luka Ariko en die moderatuur ontvang is. “Die personeel gaan uit hul pad om ons as besoekers uit die familiekerk in Suid-Afrika te laat tuis voel,” vertel Daniël.
“Van die moderatuur se kant af is daar groot dankbaarheid uitgespreek oor die jarelange verbintenis wat die NG Kerk met hulle kerk het. Daar is ook in detail gesels oor hul kerkgeskiedenis en hoe die geskiedenis weer lewendig gemaak word met ons besoek; dis ‘n viering van wat oor die jare gevestig is en hulle het die grootste dankbaarheid daarvoor.”
Die groep het ook ‘n besoek gebring aan die RCEA se teologiese skool, RITT en goeie gesprekke gehad oor teologiese opleiding, die uitdagings, kurrikulumontwikkeling, ens.

Die groot saal van RITT
“Een van die wonderlike dinge wat die moderatuur met ons gedeel het, was dat die kerk die afgelope tyd, te midde van al die COVID-19-ontwrigtings gegroei het; hulle het selfs nuwe gemeentes op die platteland geplant. Hulle het wel uitdagings met die stedelike bediening, maar dit gaan goed met die bediening op die platteland.”
Die groep uit Suid-Afrika is nog tot 1 Desember daar op besoek.
Kontak
Daniël de Wet
missio@kaapkerk.co.za
