Ons ekologiese krisis(se) is onder andere te wyte aan ons as mense se beheptheid met heerskappy, konings, krone en trone; ironies genoeg sing Christene meesal voor in hierdie koor.

Jesus Christus se koningskap speel in die Bybel en dwarsdeur die kerklike jaar ‘n baie groot rol.

Gedurende Koninkrykstyd vier Christene elke jaar die koningskap van Jesus Christus. In hierdie laaste en langste seisoen van die kerklike jaar lê ons groot klem op die heerskappy en mag van Jesus Christus. Jesus Christus se majesteit en grootheid word in dié tyd beklemtoon. Die simbole wat in hierdie seisoen domineer, is die kroon en troon. En woorde wat hierdie seisoen kenmerk, is: heers, mag, majesteit, grootheid, oordeel,

Die fokus op Jesus Christus se grootheid en heerskappy word oorgedra na die seisoen van Advent. In hierdie eerste seisoen van die kerklike jaar is ‘n groot deel van die klem op die feit dat God altyd aan die kom is met spesiale fokus op sy wederkoms op die wolke – steeds as die Een met ‘n kroon voor wie elke knie sal buig.

En dan kom Kersfees. Selfs met sy geboorte is daar reeds mense (die wyse manne uit die Ooste) wat Hom sien as ‘n koning en Herodus wat Hom sien as ‘n bedreiging vir sy troon. Uiteindelik is dit juis hierdie verstaan van Jesus as ‘n koning wat onder andere maak dat die Romeinse staat (in die persoon van Pilatus) en die godsdienstige orde (verteenwoordig deur die Joodse Raad) hande vat en Hom ter dood veroordeel.

Jesus Christus self het egter geen erg aan die titel, “koning”, gehad nie. Hy het glad nie daarin belanggestel nie. In sy verhouding in die Drie-Eenheid het Hy altyd die beheer en heerskappy van die Vader beklemtoon. Elke keer as die mense Hom koning wou maak, het Hy hulle ontwyk en dit verhoed. En wanneer Pilatus Hom reguit vra of Hy die koning van die Jode is (Joh 18:37), weier Jesus om dit te bevestig en definieer Hy sy lewenstaak as ‘n getuie vir die waarheid. En wanneer Jakobus en Johannes en hul ma Hom verstaan as ‘n koning en vra om weerskante van sy troon te sit, ontstel dit Hom en vermaan Hy hulle om dié idee te laat vaar en diensbaarheid te aanvaar as sy styl en daarom ook hulle s’n (Mat 20:20-28; Luk 22:24-27).

Niks aan Jesus se persoon of sy optrede is tipies koninklik nie. Inteendeel, die kontras is opvallend: die titel wat Jesus graag gebruik het om na homself te verwys is: seun van die mens. Hy leer sy dissipels om afstand te doen van enige titels, posisies en van kleredrag en simbole wat dui op uitsondering. En Hy waarsku hulle teen die styl van uiterlike vertoon van die godsdienstige Skrifgeleerdes en Fariseërs.

Hierdie lering van Jesus is tragies deur die grootste deel van die Christelike kerk geïgnoreer. Ons titels en ons kleredrag en ons verknogtheid daaraan verklap dit.

Ons hantering van die natuur verklap dit ook. Ons het die feit dat ons na die beeld van God geskep is (Gen 1:26) so gevul met ons verstaan en beheptheid met koningskap en heerskappy dat ons oor onsself leer dink het as die kroon van God se skepping met die opdrag om soos konings te heers. Ons het oor die aarde en haar bronne leer dink as God se geskenk aan die mens, maar ongelukkig ook as ‘n spens, nie net om te geniet nie, maar ook om te plunder en oor te wedywer – en dan nogal ‘met God se toestemming’.

Jesus sê in Luk 22:29 vir sy dissipels dat ‘n koninkryk ‘n bemaking is. Syne kry Hy by die Vader en hulle s’n kry hulle by Hom. Die koninkryk wat Jesus aan sy dissipels bemaak, lyk glad nie soos die koninkryke wat ons as mense op aarde skep nie. Dit is feitlik in alle opsigte die teenoorgestelde van ‘n tipiese aardse koninkryk. Die twee simbole wat hierdie koninkryk kenmerk, is die krip en die kruis. Albei die simbole sê helder en duidelik dat God Self hoegenaamd nie begaan is oor heerskappy en die dra van ‘n kroon nie.  God verskyn in die gestalte van ‘n menslike baba – klein en broos. God is tevrede om gebore te word in ‘n krip in ‘n stal (al akkommodasie wat beskikbaar was).  En sonder enige trompetgeskal. Hy leef die grootste deel van die eerste dertig jaar van sy lewe weggesteek en uit die openbare oog. En wanneer Hy met sy openbare lewe begin, bly dit steeds in die styl van die krip – sonder om doelbewus naam te maak. Uiteindelik lewer Hy homself oor aan ons as mense met ons beheptheid met krone. Hy dra uiteindelik gewillig die doringkroon van bespotting as teken dat Hy geen behoefte aan ‘n kroon het nie en met die hoop dat dit ons van ons beheptheid sal genees.

Om ons beheptheid met heerskappy, krone en trone by die krip in die stal te gaan bely en af te lê, is die plek waar Christene se verhouding met die aarde gesond sal word – daar in die teenwoordigheid van die Een wat uit liefde bereid was om sy posisie van eer te verlaat en aarde toe te kom en die gestalte van ‘n slaaf aan te neem – ook in die teenwoordigheid van die staldiere wat die res van die natuur by sy geboorte verteenwoordig.

Jesus se evangelie is duidelik: afgee is kry. “Wie sy lewe aflê, sal dit kry”. Daarom ook: “Wie heerskappy en krone aflê/weggee, sal dit kry” – want dit is ‘n bemaking. Die teendeel is natuurlik ook waar: Hulle wat dit nou soek en gryp, het dit nie en sal dit ook nooit kry nie, omdat hulle reeds self die kroon op hul kop gesit het.

Die mens is nie die kroon van die skepping nie!

‘n Geseënde Kersfees vir julle almal en vrede op aarde.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com