Fourie Truter, Madri Bruwer en Daniël de Wet
Op Donderdag 20 Januarie was Daniël de Wet, Getuienisaksie se taakspanbestuurder: Ekumeniese Vennootskappe in Afrika op besoek aan Straatwerk in Parow waar hy die bestuurder, Fourie Truter asook Madri Bruwer wat by hul prostitusie-bediening betrokke is, ontmoet het.
Straatwerk het in die laat 1960’s tot stand gekom. Jongmense het Vrydagaande bymekaargekom met ‘n gedeelde besorgdheid oor diegene wat deur die samelewing uitgedryf is, wat gebroke en in nood was, en daarna gesmag het om liefgehê te word. Met ‘n geleende bakkie, ‘n skinkbord vol toebroodjies en ‘n primusstoof het hulle uitgegaan in die stad en die liefde van Christus gedeel. Hulle doen dit nog steeds vandag, alhoewel COVID dit die afgelope tyd aan bande gelê het.
Vandag is Straatwerk ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie met ‘n sterk evangelisasiefokus. Die bedieningspan van Straatwerk weerspieël die ryke diversiteit van ons land se bevolking en verteenwoordig ‘n reeks verskillende kerkdenominasies.
Madri vertel meer van haar bediening: “Die hart van die bediening rakende prostitusie is dat vroue daaruit verlos sal word en aanbiddende vroue sal word. Dís die hoop vir onsself en vir elke vrou met wie ons die voorreg het om ‘n pad te stap. Ons sien hoe Christus die oue nuut maak! (2 Kor 5:17) Kontak ons gerus as jy meer wil hoor, saam wil bid of op ander maniere deel van die span wil word.”
Madri kan gekontak word by 072 179 8378.
Vir gemeentebesoeke aan Straatwerk op ‘n Vrydagaand, kan Fourie Truter gekontak word by fourie@straatwerk.co.za.
