Ek hurk by die waterbak wat ons tussen die rose vir die voëls gesit het om dit skoon te maak. Ek voel hoe die irritasie in my opstoot: “Verdomde tarentale! Kan hulle nie op ‘n ander plek gaan skrop nie? Waarom moet hulle nou juis die molm wat ek om die rose gegooi het kom deurmekaar werk en in ‘n gemors in die waterbak veroorsaak?” ‘n Sagte maar sterk stem reageer in my binneste: “Jy moet ruimer word, David. Jy sê jy wil graag gasvry leef. Wat daarvan as jy alles met vreugde verwelkom wat op hierdie werf lewe?” Ek kry ‘n bietjie skaam. Om gasvry te leef – ook teenoor die natuur – is glad nie so maklik nie.

‘n Bietjie vroëer vanoggend staan ek en gooi die tamaties nat. Die tuin is vol vrug-belofte. Dit is byna pluktyd vir die bosbone, pampoen, mielies, uie, wortels en die rankboontjies. Ek het ‘n spesiale boog gemaak vir die rankboontjies en al twaalf van hulle is goed op pad om dit toe te groei. Ek kan nie wag om dit te sien nie. Ek is vanjaar baie opgepluk met ons groentetuin. Ons gaan heerlik eet en uitdeel. En dit lyk so mooi!

Ek staan met die tuinslang by ‘n tweejaar-oud Granny Smith-appelboom. Hy het vanjaar 14 appels aan. Hulle is almal volmaak gesond. ‘n Geluid trek my aandag. Dit kom van die mieliebedding af. ‘n Groot mannetjiesbobbejaan is besig om mielies te steel. Ek het meer as 90 dae getrou en toegewyd vir die 63 soetmielie-plante water en kos gegee. Hulle was almal pragtig aan die ontwikkel, maar nog ten minste twee weke van oes af. My terleurstelling en kwaad kook oor en ek skrou op hom so hard ek kan; los die tuinslang en hol so vinnig ek kan om die swerkater af te skrik en te verwilder. By die mielies aangekom, sien ek hoe ta met sy arms vol mielies oor die draad pad-af galop. Ek sien hoe ‘n klomp ander mielies gesaai lê. Ek tel een of twee op. Hulle pitte is nog wit en  onderontwikkeld. ‘n Hele paar plante is afgeknak. En ek wil huil en slaan.

Ek ontdek bietjie later dat die einste bobbejaan ook drie van ons pampoene afgepluk en elkeen ‘n hap of twee gegee het. En ook morsig gevreet het aan ons uie- en worteloes. En die rankboontjies? Daar is niks van hulle oor nie. Al hulle blare is afgeëet. Nie deur die bobbejaan nie, maar deur ‘n swerm muisvoëls.

Dit is mos nie fair nie! Moedeloosheid en ‘n lamheid sak oor my. Ek maak die vernielde mielies en pampoene bymekaar en stap daarmee soos in ‘n stoet na Estelle toe. My gesig hang op my voete. Ek staan voor haar asof ek die dood in my hande hou. Ek voel beroof en verslaan.

“Is daar niks wat jy kan doen nie?” vra Estelle. “Wat van skadunet? Ons gaan ons hele oes verloor.”

Ek baklei teen die moedeloosheid en lamheid in my gemoed en gaan gooi die wortels onder skadunet en maak die pampoene wat oor is toe met grassnysels, sodat ta hulle nie kan sien nie. Dit voel vir my alles wat ek doen, is vergeefs.

In my desperaatheid vra ek oral raad – ook op die internet. Ek lees wat die inwoners van Pringlebaai doen om hul groentetuine te beskerm en besluit om ons groentetuin en vrugtebome onder ogiesdraad toe te maak. Ek reageer op ‘n advertensie wat aan boere pale, voëlnet en draad verkoop en deel my uitdaging met die verkoopsagent. Hy is glad nie beïndruk met my plan nie. “Ek is jammer om dit vir jou te sê, maar niks sal daai bobbejaan keer nie. Jy moet hom skiet. Dit is al uitweg wat jy het. Ek het self geboer. Ek weet. Miskien het jy nie die hart nie. Kry dan iemand anders wat die hart het.” Ek is stomgeslaan en onkant gevang. Ek het nie dié reaksie van hom verwag nie.

In my diepste binneste weet ek – iets moet sterf. Maar ek dink nie dit is die bobbejaan of die muisvoëls wat moet sterf nie. Iets in MY moet sterf. Hoekom ontstel die diere wat saam aan ons oes eet my so vreeslik? Is dit nie omdat hulle van die begin af uitgesluit is van my tafel nie? Ek benader ons groente- en vrugtetuin baie selfsugtig. Vir my staan daar een groot woord oor ons tuin: MYNE! Gasvryheid kan nie gedy in privaatbesit nie. Hoogstens ‘n paar uitgesoektes en genooides word verwelkom – beslis nie almal en alles nie. God se soort gasvryheid sluit egter niemand en niks uit nie. Inteendeel, dit sluit alles in! Ek wil die muisvoëls en bobbejane uithou. Is daar ‘n moontlikheid om hulle in te sluit? Kan ek dalk leer om só tuin te maak dat hulle verwelkom word om ook saam te eet?

Henri Nouwen se definisie van gasvryheid is my lewensideaal: Hospitality is creating a safe space where the guest can find his/her own soul.

Die spesies op die aarde vir wie daar min “safe space” oor is, word al meer. Baie van hierdie spesies se vyand nommer een is mense – soos ek. Mense wat koop en besit en sê: MYNE!

My uitdaging is om te leer om “safe spaces” te skep deur in die eerste plek self ‘n “safe space” te wees. En ek weet nou dat die tarentale, muisvoëls en bobbejane ten minste vir my wys hoe baie ek nog van gasvryheid moet leer.

Vrede vir jou en jou tuin.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com