Msinga-gesprek by die NG Toringkerk Gemeente, Paarl: V.l.n.r.: Andrea Adams, Annalise Loubser, Lourens Schoeman, Nkazimulo Ngcobo, Rudolph Scharneck, Albert Myburgh, Jurgens Thiart, Jaco Goosen, Eddie Orsmond, Daniël de Wet en Jana van den Munckhof

 

Die Msinga Vennootskap bestaan al baie jare en is ‘n bediening van die VGK Msinga Gemeente in Ladysmith KwaZulu-Natal en die NG Kerk Sinode Wes-Kaapland. Getuienisaksie neem ten opsigte hiervan verantwoordelikheid vir die skakeling en samewerking met die NG Kerkfamilie, vennootskapsvorming tussen gemeentes en selfstandigheidsontwikkeling van gemeentes in bedieningsgebiede, besoeke aan bedieningsgebiede en die vennootskapsbyeenkomste en finansiële ondersteuning vir die vergoeding van werkkragte en evangelisasie-aksies.

Op Woensdagaand 26 Januarie het Daniël de Wet van Getuienisaksie saam met Lourens Schoeman, een van die predikante by die VGK Msinga en Kazimulo Ngcobo, een van hul jeugleiers daar, saam met die leiers van die Tygerberg Kampus-uitreik na Msinga vergader.

As gevolg van COVID kon die mediese studente die afgelope twee jaar nie na Msinga uitreik nie, maar hulle is nog net so entoesiasties oor die werk daar. Ons hoop dat hulle vanjaar weer as ‘n groot groep van Tygerberg daarheen kan gaan.

Daar sal eers ‘n klein verkennende groepie gaan om met die kerkleiers van Msinga te praat en die behoeftes in die bediening te gaan identifiseer. Hierdie besoek sal hopenlik later opgevolg word met ‘n besoek van ‘n groter groep; iets waarna almal baie uitsien.

Op Donderdag 27 Januarie was daar ook ‘n Msinga Vennootskapsvergadering met verteenwoordigers van die NG Kerk Ring van die Paarl en van die VGK Zionskerk Gemeente, Paarl wat by die Toringkerk plaasgevind het. Die byeenkoms het bestaan uit gemeentes uit die ring wat tradisioneel by Msinga betrokke was asook enkeles wat nog nie voorheen by Msinga betrokke was nie. Lourens Schoeman en Kazimulo Ngcobo van die VGK Msinga Gemeente was ook teenwoordig en kon waardevolle inligting oor hierdie besondere bediening met die vergadering deel.

“Tydens hierdie vergadering is daar net weer eens bevestig dat ons mekaar nodig het; dat vennootskappe geweldig belangrik is en dat ons mekaar se hande op hierdie manier wil vat,” vertel Daniël.

Hiermee wil ons gemeentes graag uitnooi wat in die verlede by Msinga betrokke was en nou nie meer is nie, om opnuut weer met ons hande te vat. Of dalk is daar ‘n nuwe gemeente wat geroepe voel om by hierdie vennootskap betrokke te raak? Ons sal julle graag in kontak bring met die gemeentes van die Ring van die Paarl of die gemeentes van Bredasdorp, Struisbaai, George en gemeentes van die Ring van Knysna.

Dit is ‘n wonderlike geleentheid om by hierdie besondere vennootskap betrokke te raak – iets wat jou belewenis van ons Afrika-geloofsverbondenheid op ‘n verrassende manier sal verryk.

Lourens Schoeman laat weet: “Van Msinga-bediening se kant was die ontmoeting met die mediese studente, die NG Kerk Ring van die Paarl en die VGK Zionskerk Gemeente, Paarl so welkom. Ons begin herstel na COVID en begin ons werk om die Koninkryk van Christus sigbaar te maak in Msinga. Saam kyk ons ook daarna om die vele nuwe uitdagings in geloof met hoop te bestuur. Daar is nuwe leiers in Msinga, sowel as onder die meeste van ons vennote, waar die kern van baie predikante se gemeentelike bediening hul uitreike was, nou afgetree het. Maar nuwe leiers bring ‘n nuwe visie en ‘n nuwe strategie om voort te bou op wat aan die begin reg gedoen is, en hulle doen dit op ‘n nuwe, vars manier. Die voortsetting van die verlede na die hede, maar ook die nuwe energie en nuwe, lewendige teologiese besinning oor ‘waarom’ is so inspirerend. Ons sien uit na ‘n nuwe toekoms vir Msinga. Mag die Naam van Christus verheerlik word en mag sy Koninkryk kom.”

Kazimulo Ngcobo laat weet: “It was such a privilege to be a part of the Msinga Partnership meeting. We were so thankful for giving us the opportunity to attend. The meeting was fruitful although we were unsure about the continuation of the support due to COVID-19 and the past two years without the outreaches. The positive enthusiasm and cooperation at the meeting gave us hope that support will continue. At Msinga Congregation we aim to focus more on the development of children and the youth. We will do this by doing camps and the training of teachers. We would also like to see the wards of Msinga URCSA grow by solid preaching, good church services, praise and worship, prayer sessions, support and linking the church to a bigger system like Veritas International College; pastoral care of people in need; poverty alleviation in Msinga, job creation for youth and lastly infrastructural development for our camp site at Pomeroy. We are looking forward to have a fruitful relationship and let the Gospel of Christ reach out to the world.”

Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.