André en Anna-Marie Thiart by Daniël de Wet, Getuienisaksie se taakspanbestuurder: Ekumeniese Vennootskappe in Afrika

 

 

In die plek van ’n doringbos sal daar ’n sipres opskiet …

 

Wat gaan deur jou hart as jy as sendeling tydens jou somersverlof hoor jou huis van 15 jaar daar ver in Noordoos-Mosambiek is afgebrand, jou medegelowiges leef daar in angs en die situasie vererger by die dag? En wat laat jou besluit om terug te keer en te gaan kyk hoe jy die derduisende ontheemdes in hul nood kan bystaan?

Baie van ons ken vir André en Anna-Marie Thiart wat in 2006 hulle as sendelinge in Quionga gaan vestig het. Dié dorpie is in die Cabo Delgado Provinsie en geleë 22km suid van die Ruvumarivier aan die noordoostelike grens van Mosambiek met Tanzanië aan die oorkant.

Maar hoe het dit gebeur dat hulle daar beland het? Die Thiarts vertel: “Sendingwerk is in die laat-1990’s daar begin. Nadat die sendeling wat toe daar was aan die einde van 2003 van Quionga weg is, het ons susterskerk in Mosambiek, die IRM, versoek dat daar weer ’n sendeling geplaas moes word.

“Ons was op daardie stadium besig met ’n jeugprojek in die Tête Provinsie in Noordwes-Mosambiek wat die volgende jaar ten einde sou loop. Nadat ons onsself bereid verklaar het om na Quionga te verskuif en dit deur die kerk aanvaar is, het ons aan die begin van 2006 daar begin werk.”

Die rustige, landelike bestaan van hierdie area is egter sedert Oktober 2017 ernstig bedreig toe ’n ekstremistiese groep begin het om aanvalle in dié provinsie te loods. Die Thiarts vertel: “Sedert 2020 het die aanvalle aansienlik begin toeneem en na raming is daar op hierdie stadium rondom 800,000 mense wat uit hul huise en gebiede verdryf is en in haglike omstandighede in ander gebiede bly.”

“Ons was nog in Suid-Afrika toe die aanval op Quionga op 19 Februarie 2021 plaasgevind het, maar ons was reeds besig om voor te berei om terug te gaan. Dit was ’n geweldige skok om te hoor dat ons huis ook afgebrand is. Reeds voor die aanval, na ’n tyd van stilword, het ons ’n woord van die Here uit Jesaja 55:12-13 ontvang wat vir ons helderheid oor ons terugkeer gegee het: vers 12: Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek, en in vrede gelei word; die berge en heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. Vers 13: In die plek van ’n doringbos sal daar ’n sipres opskiet, in die plek van die dissel sal daar ’n mirteboom opskiet.  Dit sal tot eer van die Here wees, ’n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.

Die Thiarts sou nou op ’n nuwe manier by die bediening van daardie gemeenskappe en areas betrokke raak. Hulle vertel: “Terwyl ons op pad terug was, is Palma, die dorp 25 km suid van Quionga, aangeval. Onwillekeurig dink mens dan ‘Het ons dan nou verkeerd gehoor?’.  Ons idee was om in Pemba, 430km suid van Quionga,  ons basis te hê en dan vandaar na Palma te werk en dan ook te probeer om in Quionga te kom.

“Na die aanval was Palma egter heeltemal vir mense van buite geslote en het dit in ’n militêre gebied verander.   Mense wat reeds swaargekry het as gevolg van die toegangsroetes wat al sedert November 2020 gesluit was, het op elke denkbare, en soms ondenkbare manier, uit die gebied gevlug.

“Intussen het ons fondse vir voedselhulp ontvang van Barnabas Fonds en Voice of the Martyrs en het ons alles probeer om vanuit Pemba kos na die mense wat steeds in die area was, te stuur, maar kon uiteindelik net een ton kos daar besorg.  Ons het toe besluit om die voedselhulpfondse te kanaliseer na die mense van die geaffekteerde areas wat hulself in Pemba en Montepuez bevind het.  Ons het uiteindelik daarin geslaag om ’n totaal van amper 60 ton kos oor 7 maande daar te versprei.”

Massas ontheemde mense wag op kospakkies voordat dit uitgedeel word.

As ingeburgerde inwoners van Quionga kon die Thiarts alreeds jare gelede optel dat daar moontlik probleme kon ontstaan as gevolg van die gasontwikkelingsmaatskappy, Anadarko, se werksaamhede in die gebied. André se waarskuwing oor die effek van hul teenwoordigheid en wat gedoen behoort te word om die uitgebreide gemeenskappe ook in ag te neem, het destyds op dowe ore geval. André vertel: “Die gasprojek is aanvanklik deur Anadarko begin en ek het tien jaar gelede ’n brief aan hulle bestuurder verantwoordelik vir sosiale ontwikkeling gestuur en gevra hoe hulle die sekondêre effek van die projek op die mense, verder as net die onmiddellike area van die projek, gaan bestuur.  Hulle antwoord op daardie stadium was dat hulle net vir die gemeenskap verantwoordelikheid neem wat direk deur die projek geraak word. Dit was die gemeenskap van mense wat in die dorpies gebly het waar hulle die LNG (liquid nitrogen gas)-aanleg wou bou.  Daardie mense moes verskuif en ’n nuwe dorp sou vir hulle gebou word.  Die seelewe is ook erg deur die aktiwiteite in die see versteur, aangesien die gasneerslag in die see en nie op land gevind is nie; iets wat ook die vissersbedryf nadelig beïnvloed het.

“Total bekom toe Anadarko se aandeel in die projek in September 2019. Nadat onrustigheid in die area begin toeneem het, het Total ’n ultimatum aan die regering gestel waarna die regering toe aangekondig het dat ’n area van 25 km radius rondom die gasprojek as ’n sekuriteitsarea hanteer sal word. Op 24 Maart 2020 het Total aangekondig dat hulle weer met die projek sou voortgaan. Feitlik terselfdertyd het die aanval op Palma en omliggende gebiede plaasgevind – areas wat binne hierdie 25 km radius sekuriteitsarea geval het. Op 26 April verklaar Total hierdie aanval as force majeure en onttrek hul personeel van die projek. Total het waarskynlik toe besef dat hulle eers die areas rondom die projek sal moet probeer stabiliseer voordat hulle kan terugkeer.”

Hierin sou die Thiarts dus ’n belangrike rol kon speel. Die Thiarts vertel verder: “Total kontak ons gedurende Oktober en hoor of ons wil teruggaan na Quionga om te sien wat daar aangaan. Hulle oorweeg ook projekte wat hulle wil begin om die area en gemeenskappe te stabiliseer.”

Tydens André se eerste besoek aan Quionga na die aanval het hy die sekuriteitsmense versoek om by die manne wat by die mark onder die boom gesit het, te stop.  Hulle het ‘Andrea! Andrea!’ uitgeroep terwyl hulle hom omsingel en al hoe meer mense van oraloor naderkom.  Dit was vir hulle baie goed om hom te kon sien. Na André se gesprek met die gemeenskapsleiers daar oor hoe hulle dink die gemeenskap heropgebou kon word, is dit duidelik dat hul grootste behoefte eers net kos was; hulle kon nie so ver vooruitsien nie, want hulle was honger.

André Thiart en plaaslike leiers bespreek die logistiek ten opsigte van die kospakkieverspreiding.

André se terugvoer aan Total laat hulle besluit om met ’n kosgeeprojek te help.  “Ons het Quionga twee keer besoek waartydens ons kos aan die mense uitgedeel het.  Ons beplande vertrek na Suid-Afrika in November 2021 het egter veroorsaak dat ons vir eers nie persoonlik daar betrokke kon wees nie, maar ons help steeds met die beplanning van die verspreiding wat nou in drie gemeenskappe daar plaasvind.  Ons het die lyste vir die drie gemeenskappe gefinaliseer en aan die personeel wat nou die projek namens Total bestuur, oorhandig. Hulle gaan voort om, in samewerking met die weermag, die verspreiding te hanteer.”

Die herbesoek aan Quionga was natuurlik vir die Thiarts nie ’n maklike besluit nie, maar tog nodig om berusting te vind. Dit was André se tweede en Anna-Marie se eerste besoek daar na die aanval.  Hulle vertel: “Tydens ons besoek aan Quionga kon ons eerstehands sien hoe die dorp nou lyk. Dit was baie swaar om ook ons eie verwoeste huis en eiendom te gaan besoek. Ons albei het gedink dit sou vir ons baie sleg wees om dit so te sien, maar dit het inteendeel ’n helingsproses begin.

“Na die eerste kosverspreiding waar Anna-Marie ook by was, het ook baie mense met hul mediese probleme na haar gekom.  Die kliniek is in die aanval vernietig en geen mediese personeel was beskikbaar nie.”

Die vernietigde kliniek op Quionga.

As geroepenes vir hierdie werk in Quionga, bly hoop die Thiarts op herlewing: “Ons droom is nou om saam te werk met diegene wat heropbou in dié gemeenskappe wil bewerkstellig.  Een ding wat ons in die vlugtelingkampe en ook in Oktober in Quionga gesien het, is dat die kinders doelloos ronddwaal.  Daar is op die oomblik nog geen regeringsamptenare in Quionga nie en dus ook geen onderwysers nie.  Ons wil so gou ons weer in Quionga kom en ook die onderwyser daar kan terugkry, weer met die kleuterskool voortgaan.  Hierdeur wil ons ’n klein sprankie van hoop in ’n totaal hopelose situasie aansteek.”

Ons vra vir ernstige voorbidding vir die Thiarts, veral vir hul beskerming en die nodige wysheid in ’n uiters uitdagende situasie.

Kontak die Thiarts by thiartaa@gmail.com vir meer inligting. Lees ook meer van hul werk by https://www.facebook.com/MakweMission/