Die Here het die Dowes van Afrika geseën en ’n uitkoms gegee aan hulle groot behoefte om ’n Bybel te kry wat hulle kan verstaan. Dit is ’n doeltreffende Bybel wat baie ander mense ook wil lees, en daar lê hope van hierdie Bybels by die Bybelgenootskap in die Kaap.
Een van die Dowe pastore van Ghana wou baie graag van hierdie Bybels koop, maar dit het meer as ’n jaar lank geneem voordat hy 12 Bybels kon kry. Die probleem is die vervoer en aflewering wat in verskillende lande in Afrika baie groot uitdagings bied. Ons het uiteindelik daardie 12 Bybels met ’n koerier na Ghana gestuur, waarvoor ons vier maal meer moes betaal as wat die Bybels self kos.
Daar is baie van die 10 miljoen Dowes in Afrika wat graag ’n verstaanbare Bybel wil hê. In een week was daar 12 Dowe pastore wat versoeke gestuur het vir hierdie Bybels vir hulle Dowe lidmate. En toe vra een pastoor vir my of ons nie maar net sy Bybels op ’n bus kan sit en vir hom kan stuur na Malawi toe nie.
En deur hom het die Here met ons gepraat uit Matteus 9:38 en vir ons gesê: “Bid tot die Here aan wie die ryp koring-oes behoort en vra vir Hom dat Hy werkers sal stuur om sy ryp koring te oes.” Ons het toe hiervoor gebid soos die Here gesê het ons moet doen, en gou besef dat hierdie werkers natuurlik nie net mense is wat getuig teenoor ander nie, maar enige werker wat help dat die Boodskap van Verlossing by ander mense uitkom wat daarna smag. En as vervoer die groot probleem is, beteken dit dat elke gelowige wat iewers heen reis, ’n paar Bybels kan saamneem vir Dowes in lande wat nie ’n gewone verspreidingsnetwerk het soos ons in Suid-Afrika het nie, en op so ’n manier word hulle ook medewerkers wat help om die Here se oes in te samel.
Daarom het ons begin met ’n projek: Dowe Bybels vir Afrika. Ons wil ’n netwerk skep en vir alle gelowiges wat in Afrika reis, vra of hulle ’n paar Bybels kan vervoer, tot daar waar hulle reis. Ons sal vir die Dowes vra om dit daar te gaan optel. Indien u kan help met vervoer, met mense wat u ken, met kennis van netwerke in Afrika, of met enige hulp hiermee, vra ons dat u asseblief saam met ons daaroor sal bid, en vir ons sal help.
Ons wil graag vir elke gemeente vir Dowes in Afrika drie Bybels skenk, en gaan probeer om met ons netwerk hierdie Bybels by hulle te kry. Indien hulle meer as drie Bybels wil hê, (waarvoor ons bid) kan hulle ’n bestelling plaas by die Bybelgenootskap, en ons sal ook probeer om daardie Bybels vir hulle kosteloos te vervoer. Daar is ’n paar van die Christen-organisasies soos Lewende Woord en Getuienisaksie wat graag vir ons hierin wil help.
Indien u meer besonderhede wil hê, kan u vir dr. Rocco Hough kontak by 083 292 7306, of rh@delabat.co.za, of die Bybelgenootskap van SA by 021 910 8777, of die De la Bat Gemeente vir Dowes by 021 948 5000.
