Daar was verlede week ’n indringende gesprek oor evangelisasie by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington – iets wat vir Christene ‘n belangrike deel van ons daaglikse lewe behoort te wees.
Die Simcha Bediening aan Jode is ’n jarelange evangelisasiebediening wat na individuele Jode in Kaapstad en omgewing uitreik. Simcha is betrokke by die Messiaans-Joodse gemeente Beit Ariel in die Kaapse middestad en help sodoende om ’n geestelike tuiste vir Messiaanse Jode (Joodse Christene) te skep.
Op hierdie manier word ’n individuele en kollektiewe getuienis verkondig dat Jesus ook vir Jode die Messias en Here is. Die evangelie word uitgedra deur Bybelstudiegroepe, huisbesoeke aan individue en eredienste in die Beit Ariel-gemeente.
Getuienisaksie se taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, Daniël de Wet, wat ook verantwoordelik is vir goeie verhoudinge met ons verbandsbedieninge, was onlangs op besoek aan die NG Gemeente Drieankerbaai.
Tydens sy besoek was hy in gesprek met hulle predikant Andries Cilliers, Jeanie de Wet (Simcha-evangelis wat die taak by Cecilia Burger oorgeneem het), Francois Wessels (die destydse PSD wat Simcha gevestig en uitgebou het en dit nog steeds help ondersteun) en Cecilia Burger.
Simcha Bediening is beskikbaar vir optredes in gemeentes en om lidmate te skool in die kommunikasie van die evangelie aan Jode. Stuur gerus ’n e-pos aan simchaministry@gmail.com vir navrae en om in te teken op hul nuusbrief. Die jongste een kan hier gelees word.
Foto van links na regs: Andries Cilliers, Daniël de Wet, Jeanie de Wet, Cecilia Burger en Francois Wessels.
