Is daar enige verband tussen die oorlog van Rusland in Oekraïne en ons ekologiese uitdagings? Absoluut! Om die waarheid te sê daar is ‘n direkte verband tussen alle oorloë en ons ekologiese uitdagings. Ek baseer hierdie oortuiging op dit wat Walter Brueggemann oor Miga 4:1-5 sê.*

Ek fokus hier op wat hy spesifiek sê oor die volgende woorde in vers 4 en 5:

Hulle sal van hul swaarde ploegskare smee,
en van hulle spiese snoeimesse.
Nasies sal nie meer die swaard teen mekaar opneem nie,
hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie;
maar elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit,
sonder dat iemand hom opjaag. (NAV 2020)

Miga, sê Brueggemann, visualiseer ‘n nuwe sosiale orde. Miga gebruik twee metafore om hierdie nuwe orde mee uit te beeld. Die eerste metafoor is die van ontwapening (die totale verwydering van oorlog tot in sy diepste wortels). En die tweede is ‘n ekologiese/ekonomiese metafoor: “… elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit”.

Oor die eerste metafoor sê Brueggemann die volgende: “… what is envisioned is not just the end of arms. The sweep of this oracle, I submit, concerns the end of such public policy, such propaganda, such education and psychology. What is envisioned is both a transformed public policy and a transformed human consciousness…”

Hy lê egter veral klem op die tweede metafoor: “The poet is in touch with deep agrarian dreams. He presents what must be Israel’s most  elemental social hope. That hope is not simply for a disarmed world. It is much more personal. What one wishes for is to be secure enough to produce and enjoy produce unmolested, either by lawlessness or the usurpation of the state… The poet sees that there  will be no personal well-being, no lack of terror, until there is an end to public policy of war. The mad pursuit of security by war, the mad pursuit of energy for weapons, the reliance upon imperial administration of resources – that all must be dismantled in order for the         personal dream to come true …

“… the main threat to ‘vines and fig trees’ is the economics that sustain and require war. What usurps vines and fig trees is not just invading armies but the tax structure and the profit system that are both cause and effect of military dangers. The poet envisions not simply a cessation of war but the dismantling of the war apparatus and, undoubtedly, a major economic displacement … There will be no peace without a lowering of consumerism to match the banishment of arms. For the arms serve primarily either to usurp what belongs to others or to guarantee an arrangement already inequitable. The arms cannot be given up without abandoning swollen appetites as well.  … it is clear that the social implications involve not only disarmament. The promise (of a united humanity, DPB) also anticipates    lowered economic expectations. It anticipates a modest life-style of not having more than one’s own produce and therefore a respect for the produce of others. It implies being ready to settle for one’s own vines and figs without yearning for or coveting the vines and figs that others produce. The poet knows that the vines and fig trees of others will be safe only when the powerful are content with the grapes and figs they themselves produce. Thus, this radical vision understands that dismantling of the military machine carries with it a break with consumeristic values.”

Uit hierdie opmerkings van Brueggemann is dit duidelik dat daar ‘n direkte verband tussen oorlog, ekonomie en ekologie is. Die aarde is ons huis (Grieks: oikos). En vrede op aarde kan daarom nie anders as ekologiese vrede wees nie. Hierdie vrede word uitgedruk in die metafoor van elke man (en vrou!) wat onder hul eie wingerd en vyeboom sit – sonder iemand wat hulle opjaag/hul rus verstoor. Daar kan egter volgens Miga geen vrede in ons huis wees, solank oorlog ‘n moontlikheid is nie. Solank ons oorlog as ‘n opsie oophou en regerings oorlogwapens vervaardig en aankoop; en hulle soldate oplei en ‘n weermag in stand hou; en solank krygskunde aan universiteite doseer word, solank, sal daar nooit vrede op aarde wees nie.

Oorloë skiet en bombardeer nie net die natuur in flarde nie. Die ekonomie wat nodig is om oorloë te bekostig en in stand te hou, het ernstige gevolge vir die natuur. Volgens statista.com was die wêreld se verdedigingsbegroting in 2020 $1.98 triljoen. Maal dit met die huidige rand/dollar-wisselkoers van R15.10 en dan het ons dit in randwaarde. Dit is wat dit die wêreld gekos het om die wêreld se weermagte en oorlogtuie in 2020 te diens.  En waar kry regerings die geld hiervoor? Hulle begroot daarvoor onder andere uit die belastings wat die gewone burgers van die land betaal. En die aarde? Sy moet al die bronne en materiaal voorsien vir die vervaardiging van al die wapentuig en toerusting. En sy is eintlik die een wat gebombardeer en verwond word.

Dit bly verstommend. Die Christendom aanbid vir Jesus Christus by wie se geboorte die engele gesing het: “Vrede op aarde”. Hy is die een wat gekom het om Miga se profesie waar te kom maak. Waarom is sy volgelinge – die kerk – dan so akkommoderend teenoor oorlog as ‘n opsie?

Christene wat ernstig is oor ekologiese vrede behoort dus ook aktief betrokke te wees by inisiatiewe om oorlog as ‘n opsie vir die beslegting van geskille en vir die bewaring van vrede van die regerings van die wêreld se agendas afgehaal te kry. Wat Miga sien, is “both a transformed public policy and a transformed human consciousness…”, sê Brueggemann.

Glo ons regtig in vrede op aarde? Of het ons dalk besluit dat die engele verkeerd was en Miga ‘n ou onrealistiese dromer? En toe vervang ons die woord “aarde” met die woord “hemel”? Vrede in die hemel en oorlog op die aarde?

Jesus het egter nie aarde toe gekom sodat daar vrede in die hemel kan wees nie. Daar was nog altyd niks anders as vrede in die hemel nie. Hy het gekom om die hemelse vrede aarde toe te bring.

Daarom behoort alle Christene biddend te werk vir die beeïndiging van oorlog as ‘n opsie.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com

 

*  Walter Brueggemann 1994, Edited by Patrick D. Miller: A Social Reading of the Old Testament, Prophetic Approaches to Israel’s Communal Life, p. 95-98; Fortress Press, Minneapolis.