Hierdie is die eerste van ‘n reeks bydraes oor ‘n seleksie van prominente ekoteoloë en hoe hulle ons help om te verstaan dat omgee vir die skepping (veral die aarde) deel is van die evangelie en daarom ook van ons geloofslewe. Die Groenspan help gemeentes en gelowiges met die WAT van ‘n  ekologies-sensitiewe lewe. Hulle maak praktiese voorstelle van wat ons kan doen. Hierdie reeks gaan ons help met die begronding, die HOEKOM, vir ‘n ekologies-sensitiewe geloofslewe.

Ekologie het nie op die kerk se tafel beland omdat dit mode geword het nie. Drie ander faktore het dit vir die kerk noodsaaklik en onvermydelik gemaak om die saak van die ekologie hoog op ons agenda te plaas:

  • dekades se interne teologiese gesprek
  • ‘n gesprek tussen die teologie en die wetenskap
  • en die ekologiese krisis(se) self.

Met hierdie reeks fokus ons op ‘n paar teoloë (internasionaal en plaaslik) wat ‘n bydrae gemaak het tot die teologiese gesprek. Uit die aard van die saak sal die bydraes nie ‘n volledige beskrywing van dié teoloë se teologie wees nie, maar net ‘n seleksie uit hul teologie wat betrekking het op die doel van hierdie reeks. Ons begin met die Duitse Gereformeerde teoloog, Jürgen Moltmann. Hy is gebore op 8 April 1926 in Hamburg, Duitsland. Ek steun hier sterk op ‘n artikel wat geskryf is deur prof Johan Buitendag*. Die artikel het die veelseggende titel: “Jy moet die aarde liefhê soos jouself”.

Moltmann het veral bekend geword vir sy teologie van die HOOP. Hy skryf: “Love does not snatch us from the pain of time, but takes the pain of the temporal upon itself. Hope makes us ready to bear the ‘cross of the present’.” (Theology of Hope, p.31). Dit was eintlik onvermydelik dat Moltmann se teologie van HOOP sou ontwikkel en groei tot ‘n ekoteologie – ‘n teologie wat erns sou maak met die ekologiese vraagstuk(ke) van ons dag. Die ekologiese vraagstukke het vir Moltmann dié “cross of the present” geword, onder andere omdat hy moeite gedoen het om na die wetenskaplikes te luister wat moeite gedoen het om die wêreld in te lig en sensitief te maak vir die ekologiese uitdagings wat ons in die gesig staar.

Hierdie saak word só sentraal in Moltman se teologie dat hy selfs so ver gaan as om dit te waag om Jesus se opsomming van die wet (Mat 22:39; Mark 12:31; Luk 10:27) met hierdie woorde aan te vul: “Jy moet die aarde liefhê soos jouself”. Hy doen dit omdat hy daarvan oortuig is dat die aarde ingesluit is in die woord “naaste”. Die aarde is ook die mens se naaste. Die opdrag om jou naaste lief te hê, sluit daarom die aarde in. Moltmann wil dit so helder en duidelik moontlik sê: Omgee vir die aarde is deel van God se liefdesopdrag aan die mens. Dat mense die aarde moet liefhê, is God se opdrag aan elke mens individueel en alle mense gesamentlik. Die implikasie hiervan is duidelik: ‘n Christen-gelowige en gemeente wat nie die aarde en haar nood ernstig opneem nie is ontrou aan God se liefdesopdrag.

Om ons liefdesopdrag teenoor die aarde uit te leef, sê Moltmann, is dit nodig dat ons oor vier sake nuut sal moet dink. Ons sal nuut moet dink oor:

  • God
  • die mens
  • die mens se kultuurodrag
  • die aarde.
  1. ‘n Nuwe beeld van die mens is nodig

Die ou beeld het gesê: die mens is die middelpunt van die skepping. Die fokus was op dit wat die mens uitsonder van die res van die skepping en dus op dit wat die mens uitsonderlik maak. Uitsondering het tot afsondering en vervreemding gelei.

Die nuwe beeld moet fokus op dít wat die mens met die res van die skepping in gemeen het. Die mens dra nie net die beeld van God nie, maar ook die beeld van die kosmos. Elke mens is ‘n klein (mikro) uitdrukking van die groot (makro) kosmos.

  1. ‘n Nuwe beeld van God is nodig

Die ou beeld het gesê: God is in God se grootheid en heiligheid verwyderd van dit wat God gemaak het. Hierdie beeld lê klem op die afstand wat daar tussen God en die skepping is.

Die nuwe beeld moet fokus op die teenwoordigheid van God in die skepping. Moltmann is oortuig dat God as Gees in alles wat God gemaak het, woon. God versmelt nie met die skepping nie, maar bewoon dit. Hy gebruik onder andere Jes. 6:3 as begronding: “Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid”. Dit is hoekom Paulus ook kan sê dat die gelowige se liggaam tempel is van die Heilige Gees. God woon in alles wat God gemaak het.

  1. ‘n Nuwe kultuuropdrag is nodig

Die ou opdrag het gesê: Heers oor en onderwerp die aarde.

Die nuwe opdrag moet wees: Wees lief vir die kosmos. Daarom, sorg dat dit met die aarde goed gaan.

  1. ‘n Nuwe verstaan van die plek van die aarde

Ons bedryf as mense ‘n wêreldpolitiek waarin die aarde bloot die agtergrond en bron van hulpbronne is vir die mens. Hierdie politiek het gelei tot die uitbuiting en vernieling van die aarde.

Ons het ‘n nuwe politiek nodig. Een waarin die aarde en die aarde se welsyn op die voorgrond is. ‘n Politiek waarin ons doelbewus soek na dit wat in diens staan van die aarde se welsyn. Die mense van die aarde behoort niks te doen wat tot nadeel en skade van die aarde is nie.

Johan Buitendag sluit sy artikel af met onder andere die volgende woorde: Ons moet dit totaal vermy om te dink of te maak asof die mens in die sentrum van die skepping is en ons moet besef  “dat daar net een planeet is, Gaia, die blou planeet, ons moeder, ons Heimat (aanhaling en vertaling van Moltmann, my eie beklemtoning). “Heimat” is ‘n Duitse woord wat “land van oorpsrong” of “tuiste/huis” beteken.

Vrede vir jou en ons tuiste, moeder aarde.

 

david p botha
dpbotha2@gmail.com

 

*    Johan Buitendag is professor aan die Universiteit van Pretoria se fakulteit Teologie en Religie en sy artikel het in LitNet Akademies se Jaargang 16, Nommer 3, 2019, ISSN 1995-5928, verskyn.

 

 

One Response to Jürgen Moltmann: Jy moet die aarde liefhê soos jouself.
  1. Lees ook die nuwe spiritualiteit wat die Franciskane verkondig deur mense soos Vader Richard Rohr en sy Centre for Action and Contemplation. God is die Kosmiese Skepper soos so metafories mooi in Gen.
    beskryf word toe “ons” God en Sy seun Christus die kosmos geskep het met die oerknal, en sy Gees geblaas, geadem het in die Mens, na sy ewe beeld van liggaam, siel en gees. EN na 14 en n half biljoen jaar gaan die skepping steeds voort tot in alle ewigheid. Maar moenie vergeet nie. Moeder aarde moet ons oppas en respekteer, want IN elke liewe objek is God as subjek ingesluit. Die Drie Eenheid van Vader, Seun en Gees is teen-Woord-ig in die skepping, en in ons as kinders, erfgename is gegee om deur die ewige energie van liefde te onderhou, te bewaar, en in eenheid te gebruik tot lewe vir almal en alles. Ons is mede-skeppers aan wat Jesus noem die Koninkryk van God, om dit te skep op aarde soos dit in die kosmiese hemel is.

    1

Comments are closed.


[top]