Die IRM-leraars wat die Veritas-opleiding gedoen het

Vanaf 18 tot 22 April het Riaan Terblanche (opleidingsorganiseerder van Veritas College in Mosambiek) saam met dr. Davidson Chifungo (opleidingsorganiseerder van Veritas College in Malawi) 44 leraars van ons susterskerk, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM), Mphatso Sinode in Vila Ulónguè, Noordwes-Mosambiek opgelei. Getuienisaksie het hierdie opleidingsgeleentheid geborg.

Dr Davidson Chifungo tydens die opleiding in die saal

Riaan en Dr. Davidson Chifungo, direkteur van Veritas College Malawi, het die IRM-leraars as fasiliteerders van Veritas College Module 1 opgelei. Die doel daarvan was dat hulle in hul onderskeie gemeentes hul eie ouderlinge en gemeentelede kan toerus vir hul bediening en uitreik na ongelowiges. Hierdie kursus help leraars en ouderlinge om die Woord van die Here nie net in sy konteks te verstaan en goeie eksegese te doen nie, maar om dit dan ook in hulle eie lewens toe te pas, en dit verder effektief  in hulle eie kultuur deur Bybelstudie, prediking, ens. te kommunikeer.

Een van die IRM-besprekingsgroepe buite in die son!

“Die leraars was baie opgewonde oor die kursus,” vertel Riaan. “As ek so ‘n bietjie gevra het oor hoe hulle die kursus ervaar, dan was die antwoord gewoonlik: ‘We are enjoying each moment!’ Die kursus is ook deur die 78-jarige leraar Peter Chikakuda bygewoon Hy het getuig dat hy baie geleer het, en gereed is om, al is hy afgetree, ander toe te rus. Hy was vir ons almal ‘n groot inspirasie en voorbeeld vir die jonger leraars. Die kursus is ook deur die dosente van Hefsiba, die teologiese fakulteit op Vila Ulónguè,  bygewoon wat met groot waardering deelgeneem het. Toe ons die werkboeke in Chichewa (tien boeke vir elke gemeente) vir die leraars uitdeel, was almal gereed om dit te ontvang en hulle mense te gaan oplei. Hulle het selfs vir nog meer gevra!

Tydens die opleiding in die saal

“Die sinode het ook Sondagmiddag, die 17de April, net voor die kursus begin het, ‘n versoeningsgesprek tussen die leraars gevoer. Dr. Davidson Chifungo het die gesprek gefasiliteer. Ons het na verskeie skrifgedeeltes en verootmoediging, ons  voor die Here neergebuig. Die Heilige Gees  het ons oortuig van sonde en ons kom vul met sy heilige teenwoordigheid. Na die gesprek het ds. Besitala, die sekretaris van die Mphatso Sinode, vir my gesê: ‘The Lord has visited us!’ Prys die Here!

 

 Ds Besitala neem sy boeke om ander op te lei.

Ons prys die Here vir die toerusing wat ons kon gee, en ons verwag dat die IRM nie net in getalle sal groei nie, maar ook in geestelike volwassenheid. Ons is veral ook dankbaar vir die Getuienisaksie wat hierdie opleiding geborg het!

 

Kontak

Riaan Terblanche

Training Organizer Veritas College Mozambique

Tel: +258-847449379

Whatsapp: +27-827734684