Daniël de Wet en Christopher Munikwa tydens hul eerste vergadering in die Strand

 

Daniël de Wet, Getuienisaksie se bestuurder van die Taakspan Ekumeniese Vennootskappe in Afrika,  het onlangs met dr Christopher Munikwa, predikant van RCZ (Reformed Church in Zimbabwe)-lidmate hier in Suid-Afrika, vergader. Dr Munikwa woon al ‘n hele paar jaar in Suid-Afrika waar hy verantwoordelik is vir die pastorale versorging en bediening aan hierdie lidmate.

“Die ontmoeting met Christopher was baie aangenaam,” sê Daniël, “Hy is ‘n baie sterk leier; iemand met ‘n passie vir die evangelie en ‘n visie vir die kerk, maar ook baie diep bewus van al die uitdagings wat die mense van Zimbabwe hier in Suid-Afrika beleef.

“Dr Munikwa is verantwoordelike vir ‘n baie wye bedieningsarea en sy werk behels prediking, pastoraat en ook die breër bediening van die RCZ hier in Suid-Afrika.

“Een van die uitdagings waaroor gepraat is, is dat daar ‘n groot behoefte daaraan is om meer RCZ-lidmate wat in Suid-Afrika woon, toe te rus. Ek het aan hom van ons diensleraar-opleiding vertel – iets wat dr Munikwa verder sal ondersoek.

“Daar is ook ‘n groot behoefte aan aanbiddingsruimtes waar hulle op ‘n Sondag eredienste kan hou, veral in die Kaapstad-omgewing. Ons moedig dus ons gemeentes aan om, as die RCZ met sodanige versoeke kom, met hulle in gesprek te tree en te kyk op watter manier ons hulle kan help.

“Kom ons bid vir hulle as ons broers en susters en ondersteun hulle waar moontlik.

“Ek sien uit daarna om op 20 Mei in Masvingo, Zimbabwe die moderatuur van die RCZ te ontmoet.”

Lees meer van dr Munikwa in ons jongste Getuie/Witness op bl 9 en lees meer van die RCZ hier.

Kontak Daniël by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.